Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

  • 0

Boekomsale: Moenie die melk vergeet nie (Jaco Jacobs), Hondman (Dav Pilkey), ’n Hart is net atome (Cecilia Steyn)

  • Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.

Hoe sou mens Wêreldhardopleesdag en Nasionale Moedertaaldag in Februarie kon gevier het as om ’n boek of twee te koop? Boonop was dit Wêreldboekedag op 6 Maart. Gaan koop gerus ’n boek vir daardie spesiale klein leser in jou lewe, want dit is altyd die regte tyd om ’n boek te koop.

Maar o wee, watter boek om te koop? Dit is ’n regte raaisel vir sommige van ons. Hoe weet jy of hierdie of daardie boek ’n goeie keuse vir die jong leser in jou lewe is?

In hierdie aflewering van “Goue lint, my storie begint” sal daar enkele riglyne gegee word oor waarna om te kyk en waarvoor om uit te kyk. Die kwessie van ouderdomgeskiktheid sal ook vlugtig aangeraak word. Ouderdom is nie die enigste kriterium om ’n kinder- of jeugboek mee te skat of te bepaal nie. Daar sal na spesifieke elemente soos illustrasies, die lengte of dikte van ’n boek, die gebruik van illustrasies en gevorderde hoofstuk boeke gevorderde hoofstukboeke wat aan volle romans of novelles grens, gekyk word.

Laastens sal daar ook leidende raad verskaf word aan die koper van daardie jong leser wat nie van boeke hou nie omdat hulle dalk sukkel om te lees. Daar sal ook enkele wenke gegee word en waarna jy moet oplet indien ’n jong leser dalk ’n leesprobleem het.

Waarna om te kyk

Hoe weet ek wat om te koop vir my broerskind, my kleinkind, my dogter, my seun, ’n vriendin se kinders of selfs die leerders by my skool?

Daar is verskeie elemente wat in ag geneem kan word wanneer ons vir ’n kind ’n boek kies. In hierdie rubriek sal ons egter fokus op:

  • inhoud en tema
  • die gebruik van illustrasies, die aard en styl
  • die lengte van die teks – hoe dik is die boek?
  • ouderdomsbeperkings of ouderdomsbepalings
  • die sukkelende leser.

Inhoud en tema

Hierdie is seker die mees ooglopende aspek om na te kyk wanneer jy besluit om ’n boek vir ’n kind te koop. Is die inhoud van die boek geskik? Is die taalgebruik geskik? Is dit ’n tema of onderwerp waarin die betrokke jong leser belang sal stel?

Al hierdie vrae is goeie, geldige vrae, maar wat selfs belangriker is, is dat die jong leser vir wie die boek uitgesoek word, se individuele emosionele en kognitiewe ontwikkelingsvlak in ag geneem moet word. Kom ons kyk na enkele voorbeelde of gevallestudies om te demonstreer waarna om te kyk wanneer jy ’n boek vir ’n jong leser oorweeg.

’n Boek soos Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck is geskik vir tieners, dit wil sê kinders tussen die ouderdom van 13 en 17 jaar. Die inhoud en temas van weeskinders, optelkinders en tienerswangerskap is relevant vir dié ouderdomsgroep. Wees wel daarvan bewus dat sommige karakters vloekwoorde gebruik en dat situasies soos aanranding en seksuele omgang geïmpliseer word en in die teks voorkom. Dit beteken nie dat die boek van tieners weggehou moet word nie, maar wel dat ’n kind se emosionele volwassenheid en kognitiewe vermoë ten opsigte van simpatie, empatie en morele waardes genoegsaam ontwikkel moet wees om die temas en inhoud van die boek en die gebeure te kan hanteer.

’n Ander voorbeeld is enige boeke uit die fantasie- en magiese genres. Te veel keer hoor ons ’n bepaalde boek word onttrek of verban of uit ’n sillabus gehaal of op die een of ander manier gesensor as gevolg van die magiese of fantasie-inhoud en -temas. Die geval wat seker kop en skouers bo die ander uitstaan, is die Harry Potter-reeks. Dié reeks volg die avonture van die hoofkarakter, Harry Potter, wat deur ’n bose towenaar aangeval is wat sy ouers vermoor het toe hy maar net een jaar oud was. Hy gaan woon dan saam met sy tante, oom en neef wat glad nie towerkragte besit nie en leer algaande oor sy verlede, dat hy eintlik vermoor en dood moes gewees het, maar weens sy ma se onbaatsugtig optrede is sy lewe gered deurdat sy haar eie lewe uit liefde opgeoffer het.

Hier kan nog ontelbare titels bygevoeg word waar die magiese en fantasiegenre gereeld as sleg beskou word vir kinders. Dink maar aan die Roald Dahl-boeke wat ’n ruk terug in die nuus was omdat die “slegte dele” en “diskriminerende dele” uit die nuutste herdruk uitgehaal sou word. Die teenoorgestelde is juis waar – dit is nie so sleg vir kinders as wat mense dink nie.

........
Kinders het op ’n jong ouderdom nog vrylik toegang tot hul verbeelding, die deel van die psige waar enigiets moontlik is. Dit is ook die rede hoekom kinders in figure soos die Paashaas, Kersvader en die Tandemuis glo. Vir kinders wat reeds ’n bietjie ouer is, en logies al verstaan dat fantasie en die magiese nie gelykstaande is aan die werklikheid nie, is hul verbeelding steeds ’n ruimte waar hulle kan ontvlug.
........

Kinders het op ’n jong ouderdom nog vrylik toegang tot hul verbeelding, die deel van die psige waar enigiets moontlik is. Dit is ook die rede hoekom kinders in figure soos die Paashaas, Kersvader en die Tandemuis glo. Vir kinders wat reeds ’n bietjie ouer is, en logies al verstaan dat fantasie en die magiese nie gelykstaande is aan die werklikheid nie, is hul verbeelding steeds ’n ruimte waar hulle kan ontvlug. Dit word ’n plek waar mense soos Superman kan vlieg en webbe uit hul polse kan spuit soos Spider-Man, of waar hulle deel is van ’n wêreld waar die magiese die norm is en dié sonder towerkrag salig onbewus is van die wonders om hulle.

Die element wat die verbeelding waarskynlik die maklikste en vinnigste aanwakker, is illustrasies.

Die gebruik van illustrasies, die aard en styl:

.......
Illustrasies is waarskynlik een van die belangrikste en veelsydigste elemente in ’n kinderboek se arsenaal om ’n leser, veral ’n jong leser te vermaak.
.......

Illustrasies is waarskynlik een van die belangrikste en veelsydigste elemente in ’n kinderboek se arsenaal om ’n leser, veral ’n jong leser te vermaak. Die gebruik, aard en styl van illustrasies kan ook vir die potensiële koper van ’n boek ’n aanduiding gee of die ontvanger van die boek dit sal geniet.

Eerstens is daar boeke vir die kleinspan, waar die storie deur die illustrasies gedra word. Hier kan ons dink aan prenteboeke wat wissel van ’n vlak van ’n enkele sin met groot illustrasies wat ’n hele toneel uitbeeld tot ’n vlak waar daar ’n paragraaf of twee op ’n bladsy ondersteun word deur illustrasies wat aksies uitbeeld. Dit is met hierdie tipe boeke dat elkeen van ons begin leer lees, deur konneksies te vorm tussen die woorde wat vir ons gelees word en die prentjies saam met die aksies wat in die prente gebeur.

Kyk na die volgende boeke vir inspirasie indien jou jong leser in hierdie kategorie val:

Dan kry ons illustrasies in boeke vir ouer kinders wat gewoonlik nie in volkleur is nie. Hier sal daar byvoorbeeld ’n illustrasie geplaas word om wit spasie aan die einde of begin van ’n hoofstuk te vul, of op ’n belangrike punt in die storie, byvoorbeeld waar daar ’n lang beskrywing van ’n voorwerp gegee word, of dalk van ’n toneel of omgewing. Illustrasies in hierdie tipe boek sal gebruik word om die leser se aandag te hou en om die leeservaring op te kikker deur nie net bladsye en bladsye teks voor te sit nie.

Wat die aard en styl van illustrasies betref, het elke illustreerder sy of haar unieke styl. Skrywers en uitgewers kies gewoonlik ’n illustreerder vir ’n spesifieke boek gebaseer op ’n gepaste styl en die versoenbaarheid van die teks en styl van illustrasies.

Die oorwegings of ’n illustrasie in volkleur, ’n beperkte palet of in swart-en-wit gedoen moet word, is ’n oorweging wat soms met koste te doen het, maar merendeels word die visuele impak vir die potensiële leser in ag geneem.

’n Boek soos ’n Hart is net atome deur Cecilia Steyn, wat ’n strokiesverhaal is, werk beter in swart-en-wit as wat dit in volkleur sou werk. Die visuele impak is treffend en, soos daar later verduidelik sal word, ’n goeie keuse vir ’n jong leser wat sukkel om te lees. Hierteenoor is ’n boek soos Net nie ’n hond nie! deur Jaco Jacobs in volkleur waar die verhaal se aksies in die volblad illustrasies vasgevang word met enkele paragrawe teks wat die storie vertel.

Maar hoe gemaak met ’n bielie van ’n boek, of moet dit ’n dun boek wees?

Die lengte van die teks – hoe dik is die boek?

Wanneer daar na die lengte van ’n teks gekyk word vir kinders, is dit belangrik om hul leesvlak sowel as leesstamina in gedagte te hou. Is die leser vir wie jy ’n boek soek, ’n kranige leser wat dalk ’n vlak of twee bo hul ouderdomsgroep se verwagtinge lees? Dan kan jy dalk ’n korter novelle oorweeg. Sou jy ’n absolute boekwurm op hande hê wat reeds hul voorgeskrewe boek vir skool verslind het en ’n paar reeksboeke kafgedraf het, dan soek jy miskien ’n boek met ’n bietjie meer lyf – ’n teks van 200 of meer bladsye. Oorweeg ook ’n eerste boek van ’n reeks, want dan kan jy potensieel met elke geleentheid ’n boek in die reeks bykoop vir daardie boekwurm.

Wees net bewus dat die dikte van ’n boek ook ’n swakker leser, of ’n leser wat jy dalk wil aanmoedig om te lees, kan intimideer. Doen dus ’n klein bietjie navorsing oor watter tipe stories en boeke die leser van hou en reeds kan lees voordat jy ’n boek koop wat meer van ’n uitdaging is. Koop dan eerder ’n boek wat gelykstaande aan hul leesvlak is en hulle beslis sal kan baasraak.

Ouderdomsbeperkings en ouderdomsbepalings

Wat betref ouderdomsbeperkings, of wat die uitgewersbedryf ouderdomsaanbevelings noem, is dit bloot ’n gids wanneer dit kom by watter boek geskik is vir watter ouderdom. Die belangrikste om te verstaan wat ouderdomsaanbevelings betref, is dat ouderdom alleen nie ’n bepalende faktor moet te wees by wat ’n kind lees of wat vir hulle gesoek word om te lees nie. Wat ’n gids betref oor wat kinders lees, moet daar eerder op inhoudsadvies en leesvaardigheid gefokus word. Dit is juis waarop hierdie artikel probeer fokus. 

Indien die kwessies en argumente rondom ouderdomsbeperkings en aanbevelings vir jou belangrik is, gaan kyk gerus na die indringende ondersoek na die hoekom en hoe van ouderdomsbeperkings en aanbevelings in die volgende artikel: “Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind” (Theron 2023).

Nou is die vraag: Hoe gemaak as jy ’n boek soek vir ’n nieleser of ’n kind wat sukkel om te lees of dalk nog leer lees? Gelukkig is daar ’n boek vir elke leser, maak nie saak wat die leesvlak of vaardigheid van die leser is nie.

Die sukkelende leser

Daar is soveel kinders wat nie van lees hou nie – waarskynlik omdat soveel kinders lees met huiswerk assosieer. En kom ons wees nou eerlik: Niemand hou van huiswerk nie. Daarom is dit belangrik om bewus te wees van, en ondersoek in te stel na, die onderliggende redes hoekom ’n kind nie van lees hou nie.

Die moontlikhede val gewoonlik in twee kategorieë uiteen. Die eerste is dat daar ’n assosiasie is met lees as ’n aktiwiteit wat, soos huiswerk, ’n “moet doen” is en nie geassosieer word met plesier nie. Hieroor het Maritha Snyman reeds verskeie artikels en navorsingstudies gepubliseer (2006). ’n Besonder interessante artikel is te vinde op LitNet (“Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed”) deur Nandi Lessing-Venter en Maritha Snyman wat spesifieke kyk na watter faktore kinders motiveer om te lees.

Volgens hierdie studie en artikel is die volgende beslissende faktore (Lessing-Venter en Snyman 2017:879, 886):

  • Om te leer. (Ek wil lees omdat ek nuwe dinge wil leer.)
  • Belangrikheid om te presteer. (Ek wil ’n goeie leser wees.)
  • Om op skool in alle vakke te presteer. (Ek moet goed kan lees om goed te vaar op skool.)
  • (Ek hou van snaakse boeke. Ek lees dit want dit is snaaks.)

Dit is duidelik uit Lessing-Venter en Snyman se artikel alleen dat leesmotivering en leesgenot aparte sake is as dit kom by lees. Dit wil sê, ’n kind wat nie hou van lees nie, sal nie noodwendig ’n sukkelende leser wees nie.

Hier is dan nou juis die kans om ’n lekker boek vir so ’n tipe jong leser present te gee. ’n Boek wat humor gebruik as ’n verteltegniek, of bloot ’n lekker Jaco Jacobs-boek soos Oupa zombie (2020), waar broccoli die situasie én die hoofkarakter se oupa red. Of hoe die slim Wim sy ouers ompraat om vir hom ’n hond vir sy verjaarsdag te kry, al sê hulle hóéveel keer: “Net nie ’n hond nie”, die woorde wat ook die titel van die betrokke boek is (2023).

Die ware sukkelende leser is die arme siel wat so hard probeer om te lees en steeds nie hond haaraf kan maak nie, maak nie saak watter leestegniek of omkoopmetode jy gebruik om hulle aan die lees te kry nie. In só ’n geval moet daar ondersoek ingestel word na waar presies die struikelblok lê.

........
Probleme om te lees kan verskillende moontlike oorsake hê. Dit kan ’n probleem met sig, kognitiewe prosessering (met ander woorde dit wat die brein “sien”) of ’n neurologiese probleem wees.
........

Probleme om te lees kan verskillende moontlike oorsake hê. Dit kan ’n probleem met sig, kognitiewe prosessering (met ander woorde dit wat die brein “sien”) of ’n neurologiese probleem wees.

Enkele voorstelle is om ’n oogtoets te laat doen. Kan die kind goed sien? Dit was beslis hierdie kranige boekwurm se probleem op vyfjarige ouderdom en het wêrelde oopgemaak. Swak sig is soms oorerflik en is maklik om reg te stel. Hoe vroeër hoe beter, en daar is deesdae sulke mooi brille op die mark.

Wanneer daar gekyk word na probleme met lees waar die oorsaak by die kognitiewe prosessering of brein kan lê, is disleksie waarskynlik die eerste moontlikheid waaraan gedink word.

Disleksie is ’n neurologiese verskynsel wat die ontwikkeling van geletterdheid, lees en taalverwante vaardighede aantas (Oakley House 2023).

’n Kind met disleksie sal dus met die volgende sukkel:

  • om letters en hul klanke te identifiseer of na te maak
  • om ’n woord wat gesê word met die geskrewe woord te verbind
  • om woorde en hul betekenis bymekaar te bring
  • om woorde en hul spelling of hoe die woord lyk te identifiseer
  • om vloeiend en teen ’n normale/gemiddelde spoed te lees, ten spyte daarvan dat hul reeds die teks ’n paar maal gelees, gehoor of gesien het.

Indien jy dalk te doen het met ’n sukkelende leser wat moontlik disleksie het, is daar steeds boeke wat kan help om hulle leesvaardighede te verbeter.

So waar gaan soek mens nou boeke vir só ’n sukkelende jong leser? Wel, die aanbeveling is om buite die grense van ’n konvensionele leesboek te dink.

Strokiesboeke kan ’n wenner wees as dit by leesontwikkeling en sommige lesers kom. Selfs disleksiese lesers verkies strokies soos:

Daar is ook die opsie van oudioboeke. Ja, dit is basies soos om na ’n storie te luister wat voorgelees word, en daar is tonne boeke beskikbaar deur platforms soos Spotify, Google Books en Amazon, om net ’n paar te noem. Nóg ’n opsie is om ’n e-boek te koop en gebruik te maak van skermlesers. Dit is gewoonlik ’n basiese programmetjie wat saam met die meeste rekenaars, tabletrekenaars kom – soos TalkBack vir Android, Kindle se VoiceView of iPad se VoiceOver – en die teks vir jou sal voorlees. Voorheen was hierdie funksie gefokus op blinde gebruikers, maar dit kan net so effektief vir disleksiese lesers gebruik word. Dit sal ook ’n mamma of ouma se stem ruskans gee wanneer daardie mislike verkoue hul stem steel.

Daar is dus verskillende opsies om uit te kies, selfs vir daardie sukkelende leser.

Waar om aanbevelings te vind?

Magdel Voster se uitgebreide artikel “Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke” (Vorster 2025) verskaf ’n lieflike seleksie titels vir alle ouderdomme en leesvlakke vir jong lesers.

’n Goeie plek om aanbevelings en resensies van kinderboeke te vind is in rubrieke soos hierdie een van my, of selfs op die webtuistes van aanlyn winkels en uitgewers soos LAPA, Penguin Random House South Africa, Pan Macmillan, Good Reads, en ander. Gaan lees wat ander lesers te sê het oor die boeke waarna jy kyk. Soms vind jy die perfekte boek deur na ander se aanbevelings te kyk.

Moet ook nie vergeet dat wanneer jy in die boekwinkel staan, dit nooit ’n slegte idee is om die agterblad, gewoonlik ’n kort lusmaker, te lees nie. Lees die eerste bladsy en miskien die laaste twee bladsye vlugtig deur. Vluglees dus die boek en ondersoek die teks voordat jy ’n oordeel vel en besluit om te koop al dan nie.

Ek hoop dat hierdie voëlvluggids vir hoe om daardie perfekte boek vir die jong leser in jou lewe te vind, jou van hulp sal wees. Want elke kind verdien om ’n aangename leeservaring te hê. Gaan koop nou ’n lekker boek of ses en deel dit met ’n jong leser.

Bibliografie

Lessing-Venter, N en M Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed. LitNet. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_LessingVenter-Snyman_866-895.pdf (16 Februarie 2025 geraadpleeg).

Oakley House. 2023. Understanding dyslexia. Oakley House Training: Specific learning disability training and support centre. Dieprivier, Kaapstad. Aanlyn kursus beskikbaar: https://www.oakleyhouse.co.za/training_online_courses/course_dyslexia.html (8 Maart 2025 geraadpleeg).

Snyman, M. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. Mousaion, 24(1):145–79. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/39624/Snyman_Gebruik_2011.pdf?sequence=1 (8 Maart 2025 geraadpleeg).

Theron, A. 2023. Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind https://www.litnet.co.za/boeke-en-ouderdomsaanbevelings-vir-jou-kind (12 Februarie 2025 geraadpleeg).

Vorster, M. 2025. Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke. LitNet. https://www.litnet.co.za/kinderboeke-terug-skool-toe-met-lekkerleesboeke (12 Februarie 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top