Gorée-verbeeltenisse

  • 4

Om ’n Afrika te verbeel
taalifkat i dunya 

Hiér dans ons met die droom 
Wanneer dit rooi tot woorde op die oggend se lip
Hier onthou ons ’n wind 
Wat die voorouers besing 
As ons tong van die wêreld 
Stof en wortel en vlerk en klip
Hier boek ons ons menswees ín 
In die rymsoeke na beweging 
Om verbeelding se aanhoubeweeg af te beeld
Van trekgeselskap na staning na ’n put sonder water 
Om ruilhandel te bedryf 
Want ons het niks om te neem of te gee 
Buiten die lied se misterie van ontwaking 
Want ons het geen lotsbestemming of aankoms nie 
Behalwe net die droomtongfluit as boomskuit 

Bourema Diara se vertaling van SY AUN MOON se song op die binneflap van imagine africa (ISLAND POSITION, Brooklyn * Gorée, 2011) 

 

Foto: Breyten Breytenbach

 skryf 1 

skryf is om vat te probeer kry 
(in die vergaar van klanke)
op die vergaan van skrywe 
wanneer jy op die hurke gaan 
om met die droë stingel baobabvrug 
wat eens blom was 
en toe peul 
te kommunikeer      en te weet 
wind ween in die huis van blare 
ook al sién jy net die lig se dans

en jou verbaas oor die swart slak 
se klam spoor          voor 
sy oor die stingelvrug klouter 
om haar in ontgaankelk se liefde
te verloor                 vir die verkeer met eindigheid 

want dan weet jy ook dis tyd om huis toe te gaan 

maar huistuis bestaan nie – 
maar niks hou stand –  
maar maan het haar vlam verbrand 
in die vroeë oggenduur 
en selfs sand verloop weer met die see 
totdat die hart stukkend van seer 
se denkstringe meegee 
tot onsamehangende tonge vuur 

wat bly oor? 
die niewees van klip na oogknip 
wanneer jy in oplos sing 
van ontdaan se verruklike tinte 
soos ’n skip opgetooi in linte 
nog één keer loei om onder golwe 
te sink – 

en die hand ’n woord probeer herken 
in die wrak van skrywe 
om aan vas te hou
soos ’n reddingsboei 

 Gorée, 8 Oktober 2022, met ’n storm in die blou wolkehemel 

 

****************************************************************

inkpotblou die hemel :
maan reeds weg 
om te skuil teen wegskryf 
van substansie 
se wees-is 
vir die een 
se een se tel en vertel 
van haar oorblywende geskroeide vere  
eer daar geen 
een meer oor is nie 
en sy kaal in haar vel gesig sal moet wys :

want die see maak kapsie 
teen wit kranse oor branders gestrooi 
en waarom die lyk weer boontoe wil laat dryf  
as die krappe dit tog eens is met water ?  

**************************************************************** 
vroegverlaatnag klein kartonkoppie Touba-koffie 
swart en min en soet 
soos vergeetlewe
sommer op staande voet gesuie 
om die donker se styfheid 
uit die litte te kry 

en gewonder 
wat op aarde het mens besiel om te dink en beduie 
hierdie stilstaanverbygaan niéweet 
wiel sonder speke 
sou ooit in woorde 
’n aanwesigheid kon kry ? 

is wat gedig is 
dan nie net die tong-weggee se soetsoeklappie 
om koffievlekke 
op die golwe 
mee op te vee ?

****************************************************************

soos die een is 
so die ander – 
ek het gedog dat om aan te toon 
wat die vingers wil vertel 
van die vel van dinge gedroom 
wat gewoon onder klippe woon 
sou lei na ’n wysheid se opstel 
van wyshede – 

maar daar was geen stilte 
as beloofde land 
aan die einde van die dag nie – 
niks wat my bedag sou kon maak
op die nag soos ’n skag na verdwyngang 
wat as son gemaan na my toe kom
om alles en die alwees uit te wis – 
geen vis om uit te wys – 
geen voor-die-hand-liggende woorde 
agter die lippe –

net die weenwyse van hede soek 
hier en hiér 
voor dat dit 
onder ooglede verlede 

 *************************

 skryf 2 

“Life is not such a lonely place to be at” – JM Coetzee 

 
van die blanke bladspieël 
waar ’n lewe verdwyn het 
na die ontlasting van vingers 
as insekspore uitgevee 
om ook wanneer reeds onstilbaar 
nooit weer nié te bestaan het nie 
op soek na die gawe weergee 
van ’n lewe wat gegee 
en sonder verweer vergeet is : 
die insekte het gevrek 
aan die drek van vingerskot 
weggesê aan die verskiet 
van die blanke bladspieël 

om te skryf is om te grawe 

Foto: Breyten Breytenbach

 

  • 4

Kommentaar

  • Jacobus Swart

    om
    sonder verglaassel uit te strek
    op die grein van wit hout
    vir 'n onderskepping van die maan
    ou troukoek

  • Selwyn Milborrow

    Om te skryf is ook om te ontwortel. Breyten, jy het dit gedoen met jou ysterkoei. Dankie!

  • margaret cordier

    Verruklik!

    ... word skrywervingers snot
    die koningsblou uitskeiding by uitskeityd
    uit are van ’n oneinDIGe skrywer se inkpot
    al sou "ooglede verlede"
    sal die inkspoor op blaaie bly voortjubbel soos inksekte volgevreet aan sy soet woordvrugte
    in skrywers voortgeplant bly
    soos slakke

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top