God se begrafnis

  • 2

Deesdae woed die stryd tussen Religie en die wetenskap, in besonder die Evolusieteorie (van Darwin moet ek tussen hakies byvoeg, want Kreasionisme het die arme man die sondebok gemaak.)

Ironies, egter, het die eerste aanslag op die Christelike geloof in die negentiende eeu gekom uit eie geledere. Bybelkenners, soos David Friedrich Strauss met sy boek getiteld Das Leben Jesu, kritisch bearbeitet (1835) het al wat Christen is, tot in hulle diepste siele geskok. Terwyl Darwin, onbewus van alles, vinke se bekke gemeet het in die Galapagos eilande, of miskien was hy besig om Tafelberg te beklim, het George Eliot hierdie boek in Engels vertaal. Van toe af het nie net Jesus nie, maar die hele Bybel sterk onder die loep gekom.

Met hierdie boek het Strauss die geldigheid van die Bybel geheel en al ondermyn en dit het soos ? veldbrand deur die hele Europa versprei. Toe Darwin se Origin of Species sy verskyning gemaak het, kon selfs kerklikes dit lees sonder om siek te word. Hulle was toe al gewoond aan die nare kol op hulle mage as gevolg van Strauss se soektog na die “historiese Jesus” in die Bybel en ander bronne, en die bewys van ongeldigheid van die evangelies as historiese bronne.

Wat veral van belang is, is dat Strauss ? heel nuwe historiese benadering tot die Bybel gebring het. Dit is nou nie meer gesien as God se heilige woord nie, maar behandel soos enige ander letterkundige werk. Die uitwerking was verbysterend. Ernstige vrae het ontstaan oor byvoorbeeld wonderwerke en of Jesus werklik bestaan het.

Die kritici het dit veral ook gehad oor die verskille tussen die evangelies. En op grond daarvan dit as geskiedskrywing verwerp.

Die uitwerking van die twee boeke was verskillend. Darwin se Origin het tot gevolg gehad ? mag der menigte kreasionistiese pseudowetenskaplike snert soos Kobus deesdae hier op SêNet ten toon stel, terwyl Strauss se boek die hele Europa jeremiadies laat weeklaag het. Skrywers, digters soos Thomas Hardy met sy “God’s Funeral” http://www.poemhunter.com/poem/god-s-funeral/ het lustig(?) daaraan deelgeneem.

Eers in die twintigste eeu het mense soos Dawkins gekom om die negentiende eeuse pessimisme oor ? verlore geloof te verdryf.

Groete
Angus

  • 2

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Hello Angus

    Ek is bly dat jy Strauss se boek hierbo noem. Ek het al so baie gehoor van dit en het so 'n ruk terug besluit om dit te lees, maar het toe nooit so ver gekom nie. Deels seker maar omdat die boek nie goedkoop is nie. Gelukkig het ek vanaand 'n PDF-weergawe daarvan gekry en hoop nie jy gee om dat ek die link daarna hak aan jou brief nie sodat ander dit dalk ook kan aflaai en lees.

    http://archive.org/details/lifeofjesuscriti00straiala

     

  • Beste Chris,

    Man, baie dankie vir daardie skakel. Ek het die boek in sy oorspronklike Duits, nog van my oupa persent gekry.  Ek is maar dom om dinge op die rekenaar te soek, en is jou ewig dankbaar, want nou hoef ek nie my Duitse kollega lastig te val nie. My Engels is so bietjie beter as my Duits.
     
    Groete 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top