Maar nie meer binne tradisionele Afrikaanse kerke waar ’n stelselmatige afname jaar op jaar onder kerkganger en veral onder katkisante ondervind word nie.
Die Engelsman, Angus Buchan se massa-byeenkoms buite Bloemfontein, (’n miljoen persone?) was oorwegend deur Afrikaners ondersteun wat bewys God is nog lewendig onder hulle. Inteendeel, indien daar wel ’n miljoen mense daar was, dan is dit ’n kwessie van een uit elke vierde Afrikaner was daar! Selfs hier op LitNet (oorwegend Afrikaners) was die tsoenami-leser-respons van so ’n aard soos wat ek in my meer as tien jare deelname aan SêNet nog nooit gesien nie.
Van die rubrieke en response oor die byeenkoms en oor Angus, was daar ook die “Christelike intellektueles”, wat merendeels negatief teenoor die byeenkoms asook Angus se leer ingesteld was, en waar hulle steeds hulle aan wil blindstaar, is dat die man in die straat tipe Afrikaner, gatvol is vir al die “intellektuele” benaderings tot sy godsdiens. Soos Angus, wil hy sy God in gebed en in eenvoud dien met die Bybel as sy godsdiens-maatstaf. Hy wil nie hê dat aan sy geloof in die Bybel as God se openbaring aan die mensdom getorring word nie, soos dit tans vir hom in sy tradisionele kerke vir hom wil voorkom, die dat hy eerder wegbly.
Indien die tradisionele kerke op en wakker is sal hulle gewaar hoe groot die Afrikaner-getalle bywoning, bo alle verwagtinge daar was, en dat dit vir hulle tot nadenke hoort te druk en om Jesus se woorde ernstig op te neem waar Hy sê: “Maak oop julle oë en kyk na die veld wat ryp is vir die oes.”
(As ’n gay ateïs, is wat ek hierbo skryf, ’n poging tot objektiewe gevolgtrekking tot die gebeure van 22 April ’17 en die response daarop).


Kommentaar
So, miljoene (?) mense is met 'n slap riem gevang! Wys jou maar net hoe primitief die mensdom nog is.
"Maak oop julle oë". En wat van jou?
Raed
Jesus het hierdie woorde aan sy dissipels gesê, die toekomstige predikers vir die eerste geslag kerk. Ek is beslis nie 'n prediker nie.
Maar ja. Ek weet wat jy eintlik bedoel. My oë is lankal oop mbt alle vorms van god-aanbidding. Ek kan jou verseker dat indien jy my anders as wat ek nou is kan oortuig, is ek goedsmoeds bereidwillig om te verander, soos wat ek verander het vanaf godsdienstige tot ateïs.
Ek stem saam, Raed-na-Gael, maak oop julle oë en moenie so met 'n slap riem gevang word nie.