glo waarlik vry

  • 1

noulat alle gewelddadigheid, tweespalt, oorloë,
beëindig, opgeskort, gestaak, uitgestel, verby,
vir eers verlaat is, ter wille van vreedsaamheid,
verlossing, ware geregtigheid van verlossing,
oorlewing vannie heel sterkstes, uit allie sterkes,
aflê van Self-misleidend’ onkunde-ontkennings,
argetipes, stereotipes, sambreel-veralgemenings,
verwydering, van alle sistemies struktuurgeweld,
van superioriteitsindroom, magsvertoon, sluheid,
sistematies, bekering van “Duiwelspiek”-dissipels,
ieder liewe slu sweem van’l pseudo-skynheiligheid

Self-destruksie-superviraalsindroom, simptomaties,
van Millennium Drie Krisis, Gewete-loosheid, o eish,
ingebed in “gereddene”, “gelowige”, “skoongewaste”,
in sy of haar neo-ortodoks “geloof”, fundamentalisties,
ingebed in Fariseër, Skrif-ekspert se skyn-Heil-g’bed,
elk pilaar stewigdiep geanker in kapitaalfondament, ja,
“gelowiges” dink mos hul is heilig, kanti, hul Krisis vrot

so asof “Duiwelspiek” maar net ‘n dom klip, berg,
mos nette geografiese simbool, //Hoerikwaggo,
nie ultra-ikoon van apokalipties’ Self-verwoesting,
nie sjatan se vuil heerskappy, hoog bo Moeder,
vervloeking van haar tot in haar baarmoeder,
falliopiese pypies en al, vol haat en nyd,
energiegewendheid van gedrewenheid,
hoe kapitalis mede-Mens moet uitbuit,
kapitaal progressief moet groei en bloei

su(i)perioriteitsindroom, in elke hoekkroeg,
in elke kroeg se hoek, manne met tanne,
selfs manne sonner tanne, met tantes,
met tradisionele gewoontes en wapens,
nie so afshouerig soos ET se oud-AWB,
“Duiwelspiek”-ouddissipelsvereniging,
sado-masochisties vervleg met geweld

so asof “Duiwelspiek” haar vuilgevriet,
vertoon op Facebook en YouTube, Mxit,
aanduiding, bevestiging, neo-konfirmasie,
solidifisering van agitprop, kopsmokkelry,
psigo-ekonomies beïnvloeding, bemarking,
kondisionering, gewoondmaking, aan sjatan,
aan sy verleiding, sy lis, sy haat, sy gier,
hoe hy’t geniet as Mens mekaar ver-“dier”,
sy dissipels se obsessief-magslustigheid,
submissiwiteit, stokoud ou-skool begeerte,
hunkering, verlange na illusies, gedaantes,
van “ras”, “klas”, “Ekonomie Twee”-teorie,
Gewete-loos apartheid, ultra-gewetenloosheid,
van onkunde-ontkenningskunde-ontkenners,
onnerrie indruk hul’s Oorlewingstrydwenners,
glo waarlik vry, verlos, gered, gereed, kanti,
ver van Vryheid, sonder een greintjie geloof

Jacobus Faasen

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top