Gister sal nooit vandag wees nie
Noudat vandag gister kon aanraak
en elke minuut van hierdie
natuurlike tyd ’n vol oes lewer
dink ek jy moet weet, Mamma
‒ my hart klop in die Swartland
onder Kasteelberg in vreemde tale
ek sien die toekoms in elke vol dam
alhoewel ek druppels moes tel
om tot hier te kom
sien ek met my kinderkop in ’n volwasse lyf
hoe vrouwees ’n mens kan breek
of kan maak
alhoewel dit jou dwing om offers te altaar
wat soms meer van jou vra as wat jy kan gee
daarom dek ek vanaand my tafel
met ’n wit doek, skep kookkos
in my beste glasbakke
steek ’n kers by die tafel aan
en bied my kinders alles wat hulle vra
want gister sal nooit môre kan wees nie
al wens ek dat ons toe beter kon besluit
voor ons besield geraak het met ’n ewige altyd.
Kommentaar
Pragtig verwoord.
Ongelooflik goed en diep en bring tog hoop en hartseer want in die gedig is meer as net 'n storie, hier is 'n ontsnapping van 'n gevangenis wat die gedagtes wat so lank by gister vasgevang was. Nou gaan ons môre toe, sien ons kan nie môre sien nie, ons kan dit maak en noudat ons tyd verstaan kan ons dit net beter maak, want gister het ons nie veel van 'n sê gehad nie, het ons?