Jy haal uit die Oosterse religieuse wysbegeerte uit aan, wat die niksseggende (in die konteks waarin jy dit probeer gebruik) uitlating maak dat mens nie weet wat jy nie weet nie en ook nie kán weet wat jy nie weet nie, omdat dit nie geweet kán word nie, om die punt te probeer maak daarmee dat ons, wie van Spiritualiteit en spiritualiteit praat, alles uit die duim suig.
Maar wat op aarde het dié uitlating te make daarmee wat die mens wél weet? Daar is tog ’n duidelike onderskeid – alhoewel daar dinge is wat party mense nie weet nie, is húlle onkunde weer kundigheid by ander, omdat alle mense se kennis nie op presies dieselfde vlak en reikwydte is, nie. Dít is die parameters waarbinne ons nou funksioneer en behoort te praat en het dit hoegenaamd niks te make met jou aanhaling nie. Jou snedige afsluiting van ’n anders gangbare (trant gewyse) brief val dus daarmee deur die mat.
Jy vra ook waarom Spiritueel met ’n hoofletter geskrywe word. Die hoofletter is die aanduiding dat dié Spiritualiteit na die werk en Gees van God verwys en spiritualiteit met kleinletter, óf as genuswoord vir al dié spirituele verskynsels of die spirituele realm versus die materiële realm, óf na werking van negatiewe spirituele aktiwiteit. Die Woord met Hoofletter is die verwysing na die Goddelike Persoon van die HERE Jesus Christus.
Dan vra jy ook verskillende vrae:
Is die spirituele oogpunt vrygestel van die reëls wat geld vir ander vorme van verstaan? – Nee, omdat die spirituele oogpunt ook berus op strata van kennis omtrent die spirituele realm.
Verwys dit na iets wat jy kan verifieer? – Ja, mits jy in staat is om in die spirituele realm te kan funksioneer sodat jy dit kan verstaan.
Las jy by of laat jy weg en hoe groot is die rol van interpretasie en verbeelding? – Soos met enige gewaarwording laat dit ’n subjektiewe indruk op die een wat dit ervaar, máár het ook objektief uitkenbare sinjatuur – en soos met enige ander empiriese data (spirituele data is ook empiriese data, maar in die spirituele realm), behoort enige subjektiewe ervaring ondergeskik gestel te word aan die objektiewe sinjatuur. Dus is dit in alle gevalle ’n onding om by te las of weg te laat – die Woord waarsku juis direk daarteen (Deuteronomium 4:2; 12:32; Spreuke 30:6; Openbaring 22:18-19).
As jy ’n spirituele oogpunt sien as verskillend en apart van die menslike oogpunt, verwys jy na die siel ("ghost in the machine") of die spirituele oogpunt wat jy sien en verstaan vanuit ’n spirituele oogpunt ? – Die menslike oogpunt behoort die “menslike” sowel as die spirituele te harmonieer, omdat die twee in harmonie moet funksioneer – die mens is juis ’n baie spirituele wese, welke hoedanigheid die mens nog van die begin af van enige ander soort of spesie onderskei het. Daarom is daar nie veronderstel om twee stelle beginsels te wees nie, óf is dit nie veronderstel dat een stel (die spiritualiteit), wat die verwysingsraamwerk sou volledig maak, weggelaat behoort te word, soos die neiging van agnostici veral, is nie. Die siel is nie apart van die mens nie, maar onlosmaaklik deel van dieselfde mens, totdat die liggaam afsterwe en die siel in rus gaan vir die wederopstanding.
Is dit verifieerbaar? Natuurlik – afgehandelde dinge wat reeds geverifieer is en die res wat in die toekoms sal gebeur, is, weens die betroubaarheid van die Profeet daarvan, die Woord, nog meer betroubaar as die reeds vrygestelde werkverrigting data van ’n toekomstige sportmotor deur ’n bekende en betroubare vervaardiger wat die publiek op die koms van die nuwe sportmotor voorberei. Die vervaardiger het al ál die toeste gedoen, maar die publiek moet maar glo wat hulle nog nie gesien het nie – en hulle doen dit geredelik … hoeveel te meer nie die Woord van God Wie álle roumateriaal en tegnologiese natuurwette waarmee die vervaardigers op aarde werk, geskep het nie?
Groete,
Kobus de Klerk

