Gilgamesh,
Die orakel van Delphi en Apollo en só ook Gilgamesh (al klamp jy dié mitologiese naam vir jouself aan), is algar mites, fabels… maar ek is werklikheid, hoeveel te meer nie my Skepper, die God van alle tye, nie.
Jy is duidelik vies oor daar antwoorde is vir dít wat jý gemeen het, geen antwoord het, nie.
Spiritualiteit, of “geestigheid” soos jy dit noem, is nie ’n ‘virus’ (jy lees te veel Dawkins en te min Bybel) of ’n filter nie, maar onmiskenbare lewenswerklikheid. Jy sal moet vrede maak daarmee – selfs as jy erg van mening verskil, sal jy maar uiteindelik die geslypte byle eenkant moet laat lê met dié lewenswerklikheid …
Adam was volwaardig en outonome mens en God het vir Eva geskape om by hom te pas, dus óók só te wees. Daarom is mishandeling en verdrukking van vroue in die huwelik heidens, onchristelik. Jou beskouing oor die sogenaamde onderdanige rol van die vrou aan haar man wat uit die opgetekende Woord blyk, is eweneens ’n kwaadwillige versinsel – ek nooi jou uit om enige teksverse uit die Woord aan te haal wat jou punt, naamlik dat die vrou kwansuis ’n minderwaardige (jóú interprestasie van onderdanig?) moet vervul. Die mens en veral ook die moderne mens, het talle sosiale strukture waar onderdanigheid aan ’n hiërargiese gesag ’n baie belangrike rol speel, ter wille van die verantwoordelikheidshiërargieë en van orde in die samelewing. Dikwels is die onderdanige in die samelewing beter gekwalifiseer as sy direkte hoof en derhalwe het onderdanigheid géén verband met minderwaardigheid nie. Só ook maar in die ware Christelike huwelik – die man is die hoof, wat aan hom sekere verantwoordelikhede besorg, met die gepaardgaande bevoegdhede om dit uit te voer – en soos in enige ordelike struktuur met ’n hoof, is daar gekwalifiseerde en bekwame helpers, onderdaniges, om hom daarin by te staan sodat die doelwit bereik kan word. Só ook met die vrou in die ware Christelike huwelik, die kern van die boustene van ’n gesonde volk. Die Goddelike riglyne oor die rol en plek van die vrou in die huwelik, het gekom te midde van omringende nasies waar vroue verdruk was en as seksobjekte gesien was. Daar is vandag nog volke wat hulle vroue só behandel. Tóg sal die bevooroordeelde agnostikus te velde wil trek teen dié normale en gesonde Christelike struktuur, net omdat dit Christelik is.
En só neem ons dit dan ook maar vanwaar dit kom.
Jou relaas oor die plek en rol van die siel, is sorgwekkend onkundig en insigloos – René Descartes had, net soos jy en ’n paar ander, nie die vermoë om te onderskei tussen spirituele manifestasie in die fisiese realm nie en daarom sien julle alle spirituele manifestasie as produkte van die brein, terwyl die brein eintlik maar net dié spiritualiteit laat manifesteer sodat dit vir die fisiese liggaam bruikbaar is.
Die siel is juis die skakel tussen fisieke liggaam en gees (die menslike gees is spirituele energie) En só beheers die gees van die mens die liggaam van daardie mens deur die siel.
Hierdie dinge is vir ons as gelowiges om te weet, maar vir julle al minder wordende paartjies, om nog uit te vind, want iewers het julle net eenvoudig alle kontak verloor… dit is abnormaal – en dié abnormaliteit word sterk beklemtoon deur die sinnelose en waansinnige aanspraak dat julle reg is en die hele res van die mensdom sedert die vroegste tye her, tot vandag toe, verkeerd is… Julle is gelukkig báie min en sal ál minder word – moenie dink dat omdat daar nou meer agnostici is as 10 jaar gelede, dat julle meer word, nie, want julle getalle neem verhoudingsgewys af in verhouding tot die aanwas van die mensdom – julle is op pad…
Hoop jy kom reg.
Terloops, jou held, Descartes, was, juis weens sy groteske wanopvattinge oor die siel, ook die vader van wreedaardige praktyk van viviseksie… maar júlle (kan nie?) leer nie.
Kobus de Klerk.

