Gifbeker deur Irna van Zyl: ’n resensie

  • 0

Gifbeker
Irna van Zyl

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903680

Die gewildheid van kos, sekere geregte en restaurante is soms ernstig afhanklik van die giere en geite van modebewustes, nes die lengte van ’n romp of die aantal denim-items wat jy op een slag mag dra. Tandestokkies geryg met viennas en gekleurde uitjies of die nederige mostertring is byvoorbeeld lankal nie meer ’n geskikte bydrae vir ’n bring-en-braai nie. Die gasvrou, wat besig is om deconstructed patats met vreemde, skaars eetbare sade te besprinkel, gaan jou verstom aankyk as jy met dié geel gevaar by haar braai opdaag. Die ander gaste gaan gril (maar heimlik hoop jy stuur van jou gestolde slaai in ’n Tupper-bakkie saam met hulle huis toe) om dan net verder aan hulle vervelige vlamgeskroeide blomkoolkoppe, gedoop in humus, peusel. Maar, die hoop beskaam nie. Volgende seisoen besluit ’n bekende kosblogger of restaurateur of wêreldberoemde sjef dat ’n Onderstebo Pynappelkoek vir die volgende seisoen die enigste ding is wat op die poedingtafel hoort.

Mens se smaak in kos en klere en kuns en ander kreatiewe uitlaatkleppe verander gedurig en word natuurlik ook gedikteer deur kenners en trendsetters. Vroeër jare was daar slegs ’n paar gespesialiseerde joernaliste aan wie se opinie jy jou moes of kon steur, maar deesdae het enigiemand met ’n slimfoon en ’n e-posadres die geleentheid om sy mond in die openbaar uit te spoel. Party met meer sukses as ander.

Irna van Zyl maak ruim gebruik van bogenoemde gegewe in haar jongste riller, Gifbeker. Kos, restaurante, kosbloggers, kostoekennings en mense se persoonlike smake en afkeure word ingespan om, soos die treflyn dit stel, die tafel te dek vir ’n paar interessante moorde in die Hemel-en-Aarde-vallei. Haar eie ervaring as joernalis en kosskrywer vir Eat Out-tydskrif kom natuurlik handig te pas.

Irna van Zyl | Foto: http://www.irnavanzyl.co.za/

Die eerste slagoffer is ’n bekende kosblogger wat nét te veel aan die Kaapse foodie, Chris von Ulmenstein, herinner. (Van Zyl erken self in die Huisgenoot van 29 Maart 2018 dat die karakter dalk mag klink soos iemand in die kosbedryf, maar versuim om die naam te noem.) Von Ulmenstein maak mense die duiwel in met uitsprake op haar berugte blog, The Whale Cottage, soveel so dat daar al petisies opgestel is om haar blog te probeer verwyder. In Gifbeker is ’n petisie blykbaar nie genoeg nie – ’n dodelike sampioen (die gifbeker) word opgedis om enige verdere gewraakte woorde van die blogger-karakter, Sandra Dippenaar, te kniehalter. Of was die gif vir iemand anders bedoel?

Die polisiespeurder, Storm van der Merwe, wat in Van Zyl se eerste riller, Moordvis, haar verskyning gemaak het, word weer ingespan om die skuldige vas te trek. Storm se oudkollega, Andreas Moerdyk, is ook terug op sy pos, maar dié slag as leepoog-verliefde wat hard werk vir Storm se aandag. Die moontlike ontluikende romanse tussen dié twee karakters voel ongelukkig erg geforseerd en onsexy en is net so onwaarskynlik soos ’n Duitse oorwinning in die 2018 Sokkerwêreldbeker.

Sjef Zeb Tswalo en sy restaurant, Zebardines, staan sentraal tot die verhaal en al die aksie, moorde en misdaad draai rondom dié bekroonde sjef en sy restaurant, ’n entjie buite die gewilde kusdorp Hermanus. ’n “Moordlys” met vier datums word in die restaurant gevind en Storm is onder druk om die skuldige vas te trek voor die laaste datum op die lys; ’n toekenningsaand waar die land se Top 20 restaurante aangekondig word. Benewens die reeds gepleegde moorde, die potensiële moorde, Moerdyk se attensies en die verdwyning van Storm se geliefde hond, is daar soos in enige waardige misdaadroman red herrings by die dosyne (en nee, dis nié een van Zeb se geregte nie). Storm en die leser word van meet af mislei oor wie die moontlike skuldige nou eintlik is. En die lys van verdagtes is lank, hoewel nie almal ewe oortuigend as moordkandidaat oorkom nie.

Van Zyl het beslis deeglike navorsing gedoen en elke bladsy spreek van haar liefde vir die koswêreld. Die inligting oor kuskos, sampioene en foraging is interessant en leersaam, maar het later effe oordadig gevoel. Meer moord en minder mushroom(!), het ek later gedink. Maar, die oordaad ten spyt, trek Van Zyl op die einde die drade netjies bymekaar. Haar jarelange ervaring as joernalis en redakteur maak haar ’n baie natuurlike, sleek boekskrywer en hoewel Gifbeker op ’n paar plekke moontlik tekort skiet, vergewe mens haar dit, want dis steeds ’n … nou ja … liplekker boek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top