Gibson se verse maak selfs die dood nie gedaan nie

  • 0

Titel: [VII]
Skrywer: Gilbert Gibson
Uitgewer: NB Uitgewers / Publishers
ISBN: 9780624058847


Koop [VII] by Kalahari.com
.

Die aktiewe digter Gilbert Gibson se vierde bundel, getiteld [vii], verskyn vanjaar op die rakke. Die getal sewe is van ouds ’n heilige getal wat ’n volmaakte siklus impliseer. Gibson skryf in [vii] téén die omvatting van vervulling wat die einde beteken of verlies wat juis finaliteit beteken. Verlies van geliefdes en die onvermoë om dit vry te spring, is ’n hooftema in die bundel. Die digter se verse is “gebore uit begeerte om die lyn tussen die hier en die onsigbare oor te steek” (“[47]”). Hy skryf tot op die grens van die onbereikbare of onoorbrugbare – hetsy met behulp van taal of deur die gebreke daarvan uit te wys - deur afstand in tyd in sy verse in te weef.

Daar is heelwat verwysings na die toekoms en onbekende met die verganklikheidsbesef in die mens se onderbewuste, soos “om onder wolke te vertoef en bly hoop/ ons gaan stap eendag deur ’n digte staning doringbome” (“[1]”) of “drome oor die grond/ waarin ons eendag sal slaap” (“[14]”), “die aandag van eendag tot end” (“[39]”), “tot sterwens toe word ek en die bees/ die heiligheid belet/ tot ’n ander wêreld/ wat eendag net lewende dooies het” (“[43]”), en “ek het my verbeel dat ons eendag hemel toe gaan” (“[70]”).

Die reismotief in die gedigte simboliseer waarskynlik ook die reis na ’n ánder, beter wêreld na die dood. Die skryfhandeling is ’n proses om nader te kom aan die onbereikbare en ’n poging om die onbetekenbare te beliggaam.

Op verskeie maniere laat die digter die gedagte by die leser dat die getal sewe juis nie heilig is nie. Daar is die ontbreking van persoonlike voornaamwoorde, afwesigheid van interpunksie, woordweglatings, kontraste en die weglating van die sewende gedig in die bundel se chronologie. Die digter doen ook afbreuk aan vaste rympatrone en -versvorme.

In die gedigte “[3]”, “[14]”, “[16]”, “[17]” en “[82]” doen die digter afstand van selfingesteldheid, omdat die persoonlike “ek” gewoonlik aan die begin van die verse ontbreek. Gibson se verse stel eise aan die leser in dié sin dat lesersbetrokkenheid noodsaaklik is vir herstel van weglatings en voltooiing van onvoltooide sinne, byvoorbeeld in “ek word jou waghond jou/ plaasaanval jou psalmis/ onderkant die huis in ’n prieel/ daar sal niks jou” (“[6]”). Daar word van die leser verwag om die vers te voltooi met “ontbreek nie” en die leser kan dit doen slegs as hy/sy vertroud is met die Bybelse Psalm 23. Die ervaring van toeganklikheid onder lesers sal verskil na gelang van die leser se agtergrondkennis oor verstegniese aspekte, sintaksis en semantiek.

Daar is heelwat intertekstuele gegewens, veral gesprekke met ander persoonlikhede (onder meer Ingrid Jonker (“[53]”), Boerneef (“[24]”) en Monroe (“[77]”)), en Bybelse verwysings, wat hoë eise aan die leser as medeskrywer stel. Die Bybel as interteks beklemtoon die twyfelagtige verhouding van die mens en die heilige Opperwese. Kontraste sluit onder meer in: dag en nag, son en maan, oggend en aand, ontwaking en slaap/droom, volmaakte en onvolmaakte, lewe en dood, beweging en stagnering, water en droogte, reën en woestynagtige, toekoms en verlede, besit en verlies, afstand en intimiteit.

Hoewel die uitbeelding van die hond en sy skaduwee op die voorblad met beskerming en getrouheid geassosieer kan word (soos die “waghond” in “[6]”), dui dit moontlik ook op onheil, dreigende gevaar binne die konkrete konteks en geheimsinnigheid. Die rooibruin kleur op die voorblad simboliseer die motiewe van bloed, bene en grond wat verwonding, besering, nuwe lewe en liefde impliseer.

In die gedig “[45]” word die toneel van ’n stil aand met leë strate en ’n hond wat blaf weergegee. Woorde soos “wapenstilstand” en “klouterdief” laat die leser onraad bespeur. Hierdie onrustigheid en angstigheid, wat veral voorkom in stil nagtonele, kan aansluit by die mens se droomwêreld en onderbewuste.  

Die uitdagende bundel kom voor asof dit ’n vloeiende en soepel geheel vorm, weens die gebrek aan interpunksie en hervatting van die sewende aanvanklik afwesige gedig in die slotvers. Tog laat die enkele punt aan die einde van die laaste gedig die leser verbyster, omdat dit indruis teen ’n volmaakte sirkel. Die leser bly dus in ’n verwikkelde spel met die digter gewikkel. In [vii] beklemtoon Gibson die geheimenis en verborgenheid van poësie as kunsvorm. In hierdie bundel kry elke hond sy dag en vir die digter gun ek ’n welverdiende langnaweek.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top