Waar ek verwys na "Piet" bedoel ek eintlik professor Piet Croucamp; geen disrespek nie (inteendeel, ek het respek vir 'n ou wat dorpers waardeer), dis net korter.
Piet het' n lang storie oor wat demokrasie is, praat van sekondêre identiteite ens. Feit is, in 'n demokrasie is daar per definisie nie sekondêre identiteite, soos taal, kultuur of godsdiens nie. Daar is wel godsdiensvryheid wat tot gevolg mag hê dat op 'n klein skaal ander godsdienste aangehang word (soos Christene in Japan byvoorbeeld, Paganiste in Engeland of ateïste in waar ookal) maar dit is klein afwykings of variasies van daardie kultuur se, noem dit maar, hoofgodsdiens. Daar mag ook subkulture wees maar dieselfde is ook hier van toepassing. 'n Totale ander kultuur, en dus taal, sal 'n strewe na onafhanklikheid ( 'n éie demokrasie) tot gevolg hê (vgl die Baske in Spanje of die Iere in die VK).
Piet maak groot gewag van die liberale grondwet. Die feit is egter dat, soos toe voorspel is, die grondwet skaars die papier werd waarop hy geskryf is. Nie omdat daar noodwendig iets met die grondwet verkeerd is nie maar omdat, weens "swak administrasie en politieke opportunisme", die grondwet nie toegepas word nie. Afrikaans, Afrikaanse onderwysinstansies en die lewensgehalte van swart, gekleurd en wit (dink maar aan die plaasaanvalle, die ineenstorting van die onderwys en volksgesondheid, die verval van die infrastruktuur ens) het drasties agteruitgegaan sedert die sogenaamde demokrasie ingestel is.
Die weerstand destyds teen hierdie bedeling was juis omdat dit duidelik was dat swak administrasie aan die orde van die dag sou wees. Mens kan nie nou, soos Piet maak, die huidige bedeling verdedig deur sy onvermoë as verskoning te gebruik nie; dit is soos om, vir regverdiging dat jy 'n naelloop verloor het, aanvoer dat jy nie so vinnig as die ander ouens kon hardloop nie.
Die vervreemding waarvan Piet praat is dan juis die gevolg van 'n onvermoë om te regeer en "om dit aan die orde te stel" soos Piet wil hê sou, in 'n demokrasie, 'n ander party lankal ingestem gewees het. Hierdie is NIE 'n demokrasie nie.
Piet reken die regering moet eintlik die lot van die swartmense aanspreek maar dit is 'n 'te groot skip om nou om te draai.' Hierdie bedeling is juis teweeggebring onder die voorwendsel dat swartmense se lot gaan verbeter. Die teendeel het egter gebeur (soos voorspel was destyds) en wat nou? Wat is dan die alternatief?
Tree in gesprek met Afrikaanse en Afrikanergroepe? Waansin.
Piet sê voorts dit " is in hierdie konteks dat die gesprek tussen Afrikaanssprekende organisasies en die ANC onlangs ... plaasgevind het. Watter konteks? Die feit dat die skip te groot is om om te draai? Sal Piet of een van sy aanhangers verduidelik, ek lees dalk iets mis. Buitendien, hoe anders dat nie een van die besware geopper "nie in die paradigma van universele besware val nie", daar word dan juis met die Afrikaanse belangegroepe gepraat.
Piet sê ook dat "... indien die ANC en die regering die grondwetlike mandaat uitgevoer het sou ’n kwessie soos Afrikaanse skole nie ’n politieke kwessie geword het nie". Dis nie dat die regering nagelaat het om die mandaat uit te voer nie; hy is nie in stáát om dit uit te voer nie en in sommige gevalle, gruwel der gruwels, verkrag hy die grondwet apris, juis soos in die geval van Afrikaans en Afrikaanse skole.
So kan ek aangaan maar my 600 woorde is haas op. Laat ek net ten laaste sê dat dit uiters vreemd is politieke wetenskaplikes en kommentators dit nie verdag en/of verdag vind dat na 18 jaar die regering nou met Afrikaners en Afrikaanse groepe wil praat, en dit na die regering al die Afrikaanse onderwysinstansies opgefoeter het en besig is om alle Afrikaanse name uit te wis.
En ook, heel laaste, Piet se sluwe stekie na Dan Roodt vir wie hy teen Malema afspeel. Jy kan nie die twee in dieselfde asem noem nie. Dan wys skreiende onregverdighede uit, teweeggebring deur die sogenaamde struggle waarmee Malema-hulle nog steeds besig is en hulle, lyk dit my, sal nie rus voordat transformasie, met ander verswarting, nie klaar is nie. Piet probeer met groot omhaal van woorde die waansinnige oorgawe verdedig.
Jan Rap

