Gesprek

  • 0

Die vlug was lank. En stil. Ek was teleurgesteld. Dit was ’n jaar sedert ek laas met iemand gesels het. Ek kon nie ’n sitplek by ’n venster kry nie. Dit sou die stilte draagliker maak. Langs my in die middelblok het ’n gesin van vier gesit; in die sitplek direk langs myne ’n seuntjie van so vier of vyf. Om met die kind te praat sou erger wees as die stilte waarin ek myself die meeste van die tyd bevind. 

By hotel Kugel het die lang student in die donker pak sy arm uitgesteek en die sleutel aan die swaar goue kegel voor my neergesit.

“Wil you find your room?”

Ek het die sleutel geneem en geknik.

Eers was dit nodig om ’n paar goedjies by Billa te gaan koop. Nadat ek my tas in die kamer gaan neersit het, het ek dadelik die 50 meter na die supermark gestap. In my eie land was dit ook vroeërjare só: tussen Saterdae 13:00 en Maandae 9:00 kan jy vergeet om enige winkel oop te kry.

“Grüss Gott,” het die vrou by die kasregister gesê. Ek het die groet met ’n glimlag erken.

Dit was koud. Ek het ’n warm stort gaan neem en my tas uitgepak. Toe het  ek in Neubaugasse vir trem 49 gaan wag. Na die 35 grade waarin ek op OR Tambo op die vliegtuig geklim het, was die koue verfrissend.

By die stasie in Siebensterngasse het hulle opgeklim. Die ou dame met die hond. Die trem was vol. Sy het na een van die leerhandvatsels bokant haar kop gereik. Die hond was so styf teen haar aangedruk dat dit moeilik was om tussen pelsjas en hond te onderskei. Ek het opgestaan en beduie dat sy moes sit. Die verrimpelde gesig het in ’n dankie vertrek. Ek het geweet dat sy die een was.

Presies op die las tussen twee tremtrokke het die hond gaan sit, sy agterlyf in die een en sy voorpote in die volgende trok. Om elke draai het sy lyf geswenk. Regs-links. Links-regs. Die vrou het stip voor haar uitgestaar. Ek het haar liggies op die skouer getik en na die hond gewys.

“Cute,” het ek gesê, “look like he’s dancing.”

Sy het geglimlag en liefderyk oor die hond gestreel. “English not very good,” het sy gesê.

“Mine neither.”

Daar was ’n paar oomblikke stilte.

“Do you live in Wien?” Ek was uitgehonger vir geselskap.

“Yes. Many years.”

“I love Wien. I come here every year.”

“From where?” 

“South Africa.”

“South Africa? Never heard. In Africa?”

“Yes.” Ek het nie gekom om oor Afrika te praat nie. “I have a dog as well.”
In Stiftgasse het die man langs haar afgeklim.

“Sit.” Sy het my aan die arm geneem en tot langs haar op die sitplek afgetrek. 

“You come here every year? From África?”

“Yes, every year in December.”

“But why? It is so far!”

“I have to meet somebody here every year.”

“You know somebody who lives in Wien?”

“No.”

Die onbegrip op die ou gesig was amper so groot my eie.

“Well ... ” Sy het lank nagedink. “I think Wien loves you as well.”

Ons al drie het by Volkstheater afgeklim. Ek en sy en die hond. Ek het oor die bruin pels gestreel. “Be a good dog.” Ek was hartseer.

Vir ’n oomblik het sy my teen haar vasgedruk. “Hope you find the person you have come to meet.”

“I already have.”

By Ubahn 3 het sy vir oulaas gewaai voordat sy met die roltrap na die ondergrondse stasie is.

Ek het op ’n bankie by die halte in Museumsquartier gaan sit. Lank. Daar was soveel om oor te gesels. Net voor middernag het ek opgestaan.

“Kom jy saam?”

Sy het geknik en by my ingehaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top