Die Afrikaanse Taalraad wend dringend ‘n poging aan om ‘n gesprek op die hoogste vlak oor Afrikaans met die ANC aan te vra. Aanleiding hiertoe is ‘n implisiet Afrikaans-vyandige klousule, verskuil in die voorgestelde Talewet. Die Afrikaanse Taalraad en sy lid-organisasies wat derduisende lede verteenwoordig, het met ontsteltenis kennis geneem van die ANC-faksie se meerderheidsbesluit in die talewetsontwerp-portefeuljekomitee. ‘n Talebedeling vir sogenaamde nasionale entiteite soos provinsies, nasionale departemente en munisipaliteite wat Afrikaans as gebruikstaal prakties gesproke uitsluit, is met ‘n ANC-meerderheidstem deur die betrokke komitee aanvaar. Die betrokke klousule bepaal dat nasionale entiteite minstens drie tale in sy amptelike kommunikasie met die publiek moet hanteer. Die vangplek is egter dat twee van daardie tale gemarginaliseerde of voorheen benadeelde tale moet wees. So ‘n reëling lei noodwendig tot uitsluiting van Afrikaans, omdat Engels (as nie-gemarginaliseerde taal) sonder meer die voorkeur sal kry.
Konstruktiewe en oplossingsgerigte voorstelle van Afrikaansgerigte organisasies is by die afgelope sitting van die portefeuljekomitee van die tafel gevee. Voorstelle het onder meer ingehou dat nasionale entiteite eerder reëlings moet tref om vier tale te gebruik wat kan inhou dat Afrikaans nie noodwendig uitgesluit sal word nie. Die besluit van die portefeuljekomitee wat uiteindelik in die Talewet vervat gaan word, neem glad nie in ag dat Afrikaans ‘n wyd verspreide nasionale taal is wat byna oral in die land gepraat word, anders as die sogenaamde gemarginaliseerde tale wat dikwels tot streke beperk is. Dat sekere streke daarby, volgens demografie oorwegend Afrikaans is, word geïgnoreer en dat ‘n taal soos Afrikaans groot ekonomiese en interkommunikatiewe waarde het, tel nie by besluitneming wat in hierdie geval duidelik politieke ondertone het nie.
J van der Elst


Kommentaar
Wat help dit om met die ANC hieroor te praat? Dit is dan juis die ANC wat Afrikaans wil uitroei: Die Afrikaner was die onderdrukker en Afrikaans is sy taal en dus moet dit uitgeroei word. Die Afrikaanse kerke, politici en so aan het hierdie indruk bevestig deur verskoning te vra en, verder, deur om elke hoek en draai versoening te preek. Jy kan per definisie net versoening najaag as jy verkeerd gedoen het.
Die enigste manier om hierdie heksejag op Afrikaans te stuit is vir al die predikante en betrokke politici om aan die Afrikaner verskoning aan te bied vir hulle onnodige apologie aan die huidige regering. Verder moet hierdie predikante en politici dan hulle destydse apologie terugtrek en eis dat die regering namens die grootste gros van sy burgers verskoning aanbied vir kinders se koppe teen wawiele verpletter, vir plaasmoorde, vir verstopte riole, slaggate in paaie, veediefstal en vir brandstigting van treine en biblioteke.
Johannes Comestor het een of ander Fransman mooi aangehaal: Wie verskoning aanbied beskuldig homself.