Gesin in die bos

  • 0

Gedurende hulle verblyf in die Transkei in die 1940's het my pa by 'n bosbouplantasie gewerk, die plekkie se naam was Qorana. Hoewel ek nie seker is van die spelling nie, naamlik of die eerste letter 'n "Q" of 'n "X" moet wees nie, wil ek daarop wys dat die "r" uitgespreek moet word soos die Afrikaanse "g", dus kan mens maar sê dit is "Kogana".

In later jare het my pa dit geniet om by geleentheid staaltjies te vertel, wat hy met groot geesdrif, stemspel en gebare gedoen het. Hy kon Xhosa ook baie goed praat, hoewel dit seker nie hier ter sake is nie. Van die staaltjies het gegaan oor 'n "wilde" gesin wat daar naby in die bosse gewoon het. Hulle het hul bestaan gemaak uit die inheemse bome, deur dit af te saag en te verkoop vir meubelhout. Ek onthou nog die mense se van soos hy dit vertel het, maar ek sal hulle maar sommer die Petoorse noem.

Soos gesê, het die mense geleef van die verkoop van goeie, soliede hout. Maar hulle moes permissie kry om 'n beskermde boom af te saag en seker 'n fooi ook betaal. En dan moes die boom natuurlik ook aan sekere vereistes voldoen - wat die vereistes was weet ek nie, maar mens kan raai dat die boom dalk al moes skeef hang van sterk winde en op die punt was om om te val, of dalk het dit reeds plat gelê, miskien met 'n bietjie hulp van die Petoorse. 'n Amptenaar moes dan kom en met 'n hamer sy metaalstempels se merke op die boomstam inkap. Mens kan dink dat die stempel dalk iets gesê het soos "On His Majesty's Service: Forestry Division" en "Permission granted".

Die Petoorse moes vroegtydig 'n versoek rig dat die amptenaar kom met sy stempel en dit is dán wanneer die sports begin het ... Hulle sal sorg dat hulle vooraf 'n goeie voorraad van die beampte se gunsteling drankie het en hom inwag. Vriendelik innooi om te rus na sy perderit en vir hom die nodige skink - en sorg dat sy glas nie leeg raak nie. As die beampte dan behoorlik begin ontspan en gemoedelik raak, sal hulle hom vertel hoe ver en moeilik bereikbaar die betrokke boom is. Jy moet glo myle loop, die bosse is so dig dat 'n perd nie daardeur sal kom nie, dan deur 'n kloof waar daar nog baie tiers is (die oumense het mos gepraat van "tiers" ipv luiperds) en hy sal dalk laat in die aand eers terug wees. Dit sal hulle weke neem om die opgesaagde stompe tot by hul werkplek te kry. Hoekom hom dan so vermoei en aan gevaar blootstel? Gee maar die stempel vir hul seun Koos, hy is nog jonk en ken die wêreld, sal die tog gou kan aflê en is nou-nou terug. Die amptenaar het nie meer weerstand nie, ook gesien die oulike Sannie in haar beste rokkie wat hom so mooi bedien en hy gee maar die stempel. Onderweg stempel Koos sommer 'n hele paar meer bome as wat hulle wettiglik mag oes. As hy, wat die verantwoordelike amptenaar is, later begin agterdogtig raak dat hulle darem nou baie hout het om te verkoop kan hy niks sê nie, want hy het hom aan wangedrag skuldig gemaak!

Die mense was natuurlik maar baie arm en het tot groot mate van die natuur geleef, veral as hulle nie genoeg hout had om te verkoop nie, want hulle het maar 'n swak prys gekry vir die rou hout by die genadelose handelaars. Soms het daar waens volgelaai met ware soos groente en sakke mielies en meel deur die bosse beweeg met 'n kronkelende grondpaadjie en dikwels, as hy uit die bosse is, kom die eienaar agter hy is erg besteel. Die einste Petoorse het dan die wa van agter af afgelaai as hy so stadig beweeg, blykbaar het hulle selfs vooraf in die bome geklim en, terwyl die wa onder hulle verbygaan, aan takke gehang en gegryp om af te gooi wat hulle kon!

Die gebied was baie afgesonder van wat ons sou noem die beskawing en sosiale verkeer met ander buite hul eie kring was seldsaam. Tot so 'n mate dat mens selfs sou sê hulle was menssku. Godsdienstig was hulle ook nie - daar was geen kerk naby nie, behalwe miskien kerkdienste op sendingstasies en daarin het hulle beslis nie belanggestel nie. Hulle het selfs die predikant vermy as hy te perd op huisbesoek aankom. Die eerste een wat hom sien skreeu hard 'n paar Xhosawoorde wat beteken "Na die langgras toe!" en dan laat spat die laaste een en gaan kruip weg in die gras en die bosse.

Fluit-fluit, my storie is uit.

Groete,

Tiens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top