Gerrit Komrij oorlede: gemaskerde verkleurmannetjie, nee duisendpoot

  • 0

Portret van Gerrit Komrij in die Letterkunde Museum in Den Haag

 

Gerrit Komrij (68 jaar) is volkome onverwags op 5 Julie oorlede. Sy biograaf, Onno Blom, was een van die min mense wat bewus was van ’n siek Komrij. In Afrikaans het Komrij vir kontroversie gesorg as samesteller van die bloemlesing De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (1999). In die Nederlandse literêre wêreld was Komrij ’n duisendpoot, want hy was ook roman-, toneel- en rubriekskywer, verteller, vertaler en gevreesde kritikus. In 1993 het hy die P.C. Hooft-prijs gekry vir sy beskouende prosa, maar dit is die eretitel Dichter des Vaderlands (2000 – 2004) wat hom die naaste aan die hart gelê het.

Nog voor sy verkiesing as Vaderlandsdigter het Komrij hom geroepe gevoel om die Nederlandse groot drie (Reve, Hermans en Mulisch) op te volg. “En daarvoor moet ik me verenigen met de homoseksualiteit van de heer Reve, de scherpte van de pen van de heer Hermans en de ijdelheid van de heer Mulisch”, het Komrij op ’n keer skertsend gesê, aldus Arjen Fortuin in die NRC-Handelsblad (6 Julie). Iets wat Komrij egter van sy voorgangers onderskei het, was sy vermoë om ander skrywers en digters te bewonder en om hulle te ondersteun. In sy sosiale omgang was Komrij ’n liewe man, maar as skrywer en kritikus vlymskerp. Wanneer hy ’n slegte boek of gedig gekry het om te keur, het hy dit altyd as ’n persoonlike belediging beskou en dit ook dadelik te kenne gegee.

As bloemlesersamesteller van beide De Nederlandse poëzie van de negentiende en twintigste eeuw in duizend en enige gedichten (1979) en die Afrikaanse ekwivalente bloemlesing twintig jaar later, De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten, verwek Komrij se keuses opspraak. 20.000 Eksemplare van die Nederlandse bloemlesing is binne tien dae verkoop. In die Nederlandse bloemlesing het hy min aandag gegee aan die “overschatte groepen” soos die Tagtigers en die Vyftigers en baie meer aandag aan die vroeëre negentiende eeuse poëzie. Dieselfde werkswyse het hy toegepas in Afrikaans en die Sestigers afgeskeep ten gunste van relatief onbekende name uit die argiewe van die ontstaansgeskiedenis van ons taal. Miskien het hierdie werkswyse verband gehou met sy eie styl as digter, want as debuterende digter was hy teen die avant-gardistiese mode van sy tyd. Hy het oor ’n hele eeu van Modernisme, Humanisme en psigologiese Realisme teruggereik na die Romantiek met sy ironie en satire. Die rymende en geestige verse in sy debuutbundel, Maagdenburgse halve bollen en andere gedichten (1968) het eerder aangesluit by Nederlandse digters uit die verre verlede. Sy voorganger word beskou as die negentiende eeuse digter, Gerrit van der Linde, ook genoem De Schoolmeester. Aanvanklik is Komrij se poësie dus met gemengde sukses ontvang.

In al sy literêre werk het die masker Komrij se handelsmerk geword. Nie die gevoel nie, maar die verhulling daarvan tel. In die inleiding van genoemde bloemlesing uit 1979 het Komrij sy motto so neergeskryf: “Het accent ligt, om een indruk te wekken, hier meer op het vakmanschap, de smaak en het volwassen gezicht dan op het stamelen, de vulgaire sentimenten en het simpeldom. Meer op de satire, de maskerade, de afstandelijkheid dan op de dodelijke ernst, de eenduidigheid en het volle leven.” (Trouw, 7 Julie). Rob Schouten skryf in dieselfde artikel dat agter hierdie satiriese lewenshouding van Komrij baie meer weggekruip het as blote provokasie van bestaande instansies. Uit sy rubrieke en essays het dit duidelik geblyk dat hy met ’n ontleedmes die smaakloosheid en skynheiligheid in die Nederlandse politiek, argitektuur en televisie blootgelê het. Sy idee’s het die vertwyfelde beskawing en die dubbelsinnighede vanaf die na-oorlogse Nederland tot die eeuwisseling verwoord. Daarmee het hy al baie mense in die skrywerswêreld, maar ook lesers in die breër samelewing, kwaad gemaak.

Dit was hoogs waarskynlik ook makliker om sy pen in gal te doop vanuit Portugal, waar hy al sedert 1984 met sy lewensmaat, Charles Hofman, woon. Afstand bring dikwels helderheid, veral vir die gebreke van die samelewing waaruit jy kom. Dit is die groot voordeel van buitestaanderskap. En dit het sekerlik ook vir Komrij gegeld. Hy was ongetwyfeld die grootste satirikus uit die literêre geskiedenis van Nederland.  

 

 

Maskers

De man die vrolijk met zijn masker speelde
Totdat het uur sloeg dat zijn waar gelaat
Muurvast één leven met zijn masker deelde:
Als kind al maakte dat verhaal me kwaad.

Zoiets was zuur. Straks, als ik groot zou zijn,
Zou ik bewijzen dat het anders kon:
Dat ieder masker veilig, zonder pijn,
Weer van je hoofd kon, als een capuchon.

En lang heb ik daar heilig in geloofd.
Op niets bedacht hield ik mijn aard verborgen
Opdat die, als mijn speelvuur was gedoofd,
Zuiver zou blijken als de eerste morgen.

Nu ben ik oud, alleen om te erkennen:
’t Verhaal is waar. Het masker gaat niet af.
Het is alsof je aan de hel moet wennen.
Het is alsof je kijkt in een leeg graf.

Uit: Alle gedichten tot gisteren (1999)  

Enkele huldeblyke:

  • “Nederland heeft in hem een grote dichter verloren.” (Koningin Beatrix)
  • “Komrij vervulde de rol van klokkenluider in architectuurland. Zijn columns in Het boze oog (1983) toonden feilloos aan wat er verkeerd was. Komrij nam architectuur serieus. Daar schrokken de architecten van.” (Sjoerd Soeters, argitek)
  • “Komrij was een rolmodel als columnist. Ik heb weleens geschreven dat hij altijd gelijk had. Hij was een taalkunstenaar, hij kon zijn oordeel zo mooi en precies en helder opschrijven. Hij heeft van het genre van korte stukjes met een mening echt iets gemaakt van literair niveau.” (Ronald Plasterk, oudminister van kultuur)

(Uit: NRC-Weekend, p.11,7 & 8 Julie)

In sy geboortedorp, Winterswijk, sal die plaaslike hoërskool vanaf Augustus die naam Gerrit Komrij College dra. Luister daarna op:

 

Kyk hier na ’n filmpie van die gedig Alles blijft van Gerrit Komrij:

 

Lees ook Hendrik-Jan de Wit se huldeblyk aan Gerrit Komrij

Lees Annemarié van Niekerk en Jaap van Goedegebuure se huldeblyk aan Gerrit Komrij

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top