Geroep is julle

  • 2

Vanmôre het ek amper lus om die intreesin van hierdie skrywe, met “my geliefde broeders” te begin. Moontlik eerder as ‘n beklemtoning van die eerbied en erns waarmee ek die inhoud hiervan wil deel, as die wedersydse gevoel van samehorigheid. Ieder geval, hoop en vertrou ek dat die kommerboodskap wat neergepen word, verstaan en met begrip aan die regte oë gestuur sal word.

Alhoewel ek nog nie die voorreg gehad het om moderne Israel te besoek nie, is daar heelparty kaarte en verwysings in die Bybel beskikbaar. En vir dié wat twyfel in die korrektheid van die Woord, is “Google” darem ook daar – met nogal dieselfde feite. Overgesetsynde, is die konsep van “Jerusalem-na-Judea-na-Samaria-tot-die uithoeke-van–die aarde” wel aan ons gereformeerdes bekend. Die agtergrond wat ek as teologies-gestremde bedink, is egter dat die eerste 3 plekke in die evangelisasie-visie ongeveer so vêr of so naby, soos die kampe van die Kruger Wildtuin van mekaar geleë is. Die wêreld was aansienlik kleiner in ou Paulus se tyd. Uit stawende skrifgedeeltes is dit egter verder duidelik dat die evangelisasie en bediening van Jesus se verlossing, eerstens aan die mede-Jode was en seker moes wees. Hulle moes tog eers ’n “geestelike fort” skep; ’n veilige werk-, eet-, slaap- en kerkplek.

Ons gemeente se bediening en –visie volg gewis in hierdie voetspore. Ons voed en gee ’n geldjie waar nodig, brei sokkies en kook sop vir die koue, was die plaaslike bergies, soek werk en bedien hulle met die Woord, preek vir die plaaskinders en befonds die genooide predikers. Ons ondersteun sendingegpare in Mosambiek en help ander groepe wat geroep word om vir Thailand in Thailand te gaan bid. Ons pak gemeentebou projekte in Malawi aan en stuur geroeptes sodra ons van die geleentheid bewus word. Ek glo elke uitreik is volgens die Wil van God en elke geroepene, hopelik ook.

In die aanloop tot gister se nagmaaldiens, was daar weereens ’n versoek tot gebed vir ’n ander land op die afkondigings: “Bid hierdie week vir Iran, hul verkiesing en hul kandidate.” Daar was nog ’n land op die gebedslys, maar my gedagtes het so knorrig weggedwaal dat ek nie eens opgelet of kan onthou watter godverlate landjie dit was nie. My gedagtes het onwillekeurig gaan kuier in ons eie “Judea” en “Samaria” en die uithoeke van ons Vlakte.

Vir baie van ons gemeenskappie se mense en selfs dié nader aan die huis, is werk- en woongebiede soos Elsiesrivier, Norwood, Avon, Heideveld, Surrey, Bonteheuwel, Valhalla Park en Florida geensins bekende speelplekke nie. Wat egter waar is, is dat elke stad en groter dorp sy eie soortgelyke gebiede het. Dit is hier waar die fabriekspersele oorkant die besige straat is en die meubels, ysterhekke, verf, en al die ander goeters vervaardig word. Dit is ook hier waar die mense wat net langs hierdie gebiede woon, meestal ‘n sukkelbestaan voer – nie altyd suiwer geldelik nie, maar altyd weens die geestelike ineenstorting van hul gemeenskappe.

Hier is misdaad nie ‘n oorlewingstegniek nie, dit is ‘n loopbaan. ‘n Loopbaan wat gevorm word vanaf die kleinkindjare. ‘n “Werksdag” wat begin deur die eerste treksel tik in te kry en dan die pad te vat opsoek na iets en alles wat geaas en indien nodig, gesteel kan word om te gaan verkwansel of te ruil vir die volgende treksel. Hier breek die tieners helder oor dag by fabrieke en motors in, sonder vrees vir vervolging. Die dryfkrag van ‘n ekonomie en maatskaplike stelsel wat hierdie “loopbaan” bevorder, laat al hoe meer onskuldige ledige kinders misdadigers word. Die enkele Pastore wat opstaan teen die oorwig boosdoeners hier, word ook vervolg, gemartel of gedood. Hier is godsdiensvryheid net so onderdruk soos in Viëtnam, maar ons praat nie daaroor nie. Ons hou gesamentlike sinode-sittings en smee polities korrekte beleide, en terwyl die kerkleiers aan Belhar se belydenis wurg, gaan die inwoners verlore.

Terwyl ek deur die gebiede ry is die een opvallende kenmerk die jongmense wat sommer net “rondhang”. Op die straathoeke is daar swanger meisies en hul maats met kleuters, wat saam met groepies jong manne, skynbaar sonder doel of heenkome, net rondstaan. Moontlik is hierdie juis hul toegangsdeur na die Vlakte van misdaad. Moontlik is dit hul mense se onvermoë om daardie “deure” te sluit, wat die groter misdaad is. Hier is die kerstenseisoen verby – hulle lewens val buite die gemaklike grense van “Jerusalem” en die “uithoeke”. Nêrens is daar selfs Jehova-getuies wat traktate van redding uitdeel nie; in teenstelling met die sagte godelose buurte in Durbanville waar hulle in hopies rustig die strate kan bewandel. Van ons gereformeerdes is daar geen sprake nie; wat nog te sê van ons eie kerkmense.

Op die deurdrumpel van ons ekonomiese hartland, sit talle gemeenskappe wat in die wurggreep van misdaad, valse profete en godsdienste van die dood vasgeklem is. Mense wat dit elke oomblik van elke dag en nag ervaar; nie net sporadies nie. En terwyl ons Calvyne wetend of onwetend dit miskyk en uitreikspanne waar ookal stuur en bid vir die lot van die uithoeke van die wêreld, is hierdie krakende smeltpot besig, om vinniger as wat ons dink, die voortbestaan van ‘n generasie in te sluk. Besig om die voortbestaan van die evangelie en die kerk soos ons dit wil beskerm, ’n vergete dag op ’n slag te kelder.

Tot daardie dag wanneer ons in die warmte van ons veilige woonbuurte die realiteit van misdaad en goddeloosheid ervaar en ons dan ons hande saamslaan en vra: hoekom dan ons, Here?

Gisteroggend was die vervullendste nagmaalviering wat ons Hemelse Vader my die voorreg tot nóg toe gegee het om by te woon. Hoe wonderlik sou dit nie wees indien ’n mede Afrikaanssprekende hierdie ervaring in sy straat, op sy parkie, in die skoolsaal of die kerk, saam met sy bure op die Kaapse Vlakte kon geniet nie.

Gelukkig is dit verseker God se Wil dat dit moet gebeur; en hopelik hier-en-daar, een van ons kerkgroepe se wil om daarna te luister.

Hennie Fritz

  • 2

Kommentaar

  • Dankie Hennie vir hierdie skrywe.  Ek moet ook maar hand in eie boesem steek en meer hulp verleen aan die mense wat so swaar kry.  Ek neem af en toe afval na ons plaaslike stortplek en my hart brand as ek vrouens en kinders sien wat rondkrap in die vullis om iets bruikbaar [eetbaar?] te vind.

     
    Enjee
  • Dit is voordelig om teologies gestrem te wees Hennie want dan is jy gespaar van sieldodende dogma.

    Jy sal dan kan leef soos ons voorvaders wat 'n voorbeeld gestel het aan alle inwoners van hierdie land. Dit is hoekom ek vir jou Deut. 14:22-28 op die hart druk. Gaan jy en doen so voort. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top