Ek hoor nou die dag oor die radeloos weer dat dr Piet Croukamp weer die nuwe bestel vergoeilik (mooi woord wat ek by Jason geleer het). Hy's darem nou al so ver ('n geruime tydjie al) dat hy erken die regering maak dit nie maar hy skyn my vol te hou dat ons in 'n demokrasie lewe. As jy nie tevrede met die administrasie is nie, reken hy, kan jy hierdie regeerders uitstem EN beveel hy aan, mens moet aansluit by als wat jy kan, die duiftelersvereniging, die posseëlversamelaarsklub, die vereniging van groente- en kruiekwekers, die toetie.
Hierdie aansluit by die verenigings en gildes, soos Piet aanbeveel, dra nie by tot lewensgehalte nie behalwe nou as hierdie goed jou storie is. Dis baie lekkerder om langs 'n vuurtjie waar 'n vleisie rook te sit met 'n Duitse bruisdrankie, of bietjie houtwerk te doen of te skilder as om komiteevergaderings by te woon. Buitendien, by al hierdie klubs en goed sal jy moet Engels praat en dit dra GLAD nie by tot lewensgehalte nie; dit herinner jou net weer eens aan die heksejag op Afrikaans asook die Afrikaanssprekende se verbysterende gedienstigheid. Also, klubs en goed is uit as 'n teenvoeter vir 'n mislukte staat; as die staat regeer soos hy veronderstel is en nie droogmaak nie is jy vry – jy kan jou eie taal praat en jy hoef nie klubs te stig of by hulle aan te sluit nie.
Stem gaan ook nie ons Boere help nie want jou stem as deel van 'n minderheidsgroep in 'n land waar resultate in elk geval gekook word is minder werd as 'n emmer vol koue piepie. Boonop, om een of ander onverklaarbare rede, glo die mense (wat dik is vir die regering) mens stem vir die opposisieparty met die meeste kiesers, selfs al stem jy nie 100% met daardie party se beleid saam nie eerder as vir die party(e) wat jóú saak bevorder of goedgesind is. Dis mos nou simpel; stem vir die party wat begaan is oor jou, die Afrikaanssprekende se, belange en dan WORD hy die party met die meeste kiesers en KAN dan iets vir die Afrikaanssprekende doen.
Jaco sê byvoorbeeld onderaan George se brief die VF het geen kans om enige impak te maak nie maar die DA het wel omdat meer Afrikaners vir die DA stem. Wel, as meer Afrikaners vir die VF stem dan het die VF mos meer kans om hierdie impak te maak of hoe? So, om te wys die Afrikaner is 'n entiteit om mee rekening te hou stem dan VF (eerder as om die briefie te bederf soos George aanbeveel) en skenk geld aan Afriforum eerder as aan die sending. Wat die stem vir die DA betref: Dit staan natuurlik elkeen vry om te stem soos hy wil maar hoekom sal Afrikaners nou vir 'n anti-Afrikaanse party wil gaan staan en stem? Tensy, natuurlik, die DA pro-Afrikaans is maar, tot dusver, het nie een van sy aanhangers op hierdie werf dit nog kon bewys nie.
Nou-ja tot hiertoe dan en groetnis
Jan Rap

