George is kiekie-mooi en dra die "Outeniquaroes"

  • 0

Daar is twee soorte roes. Die een ken veral mense langs die see baie goed. Dit vind deur oksidasie plaas en laat ’n rooikleurige bedekking aan yster en staal. Dit is so erg naby die see dat ek soms dink dis ‘n wonder dat plastiek nie ook roes nie. Die ander een is nie aan almal bekend nie. Dit laat baie "draers" daarvan ongemaklik en verleë, ander spot met hulself daaroor, en ’n groepie spog daarmee. Dit is veral die Gautengers wat hierdie roes kan identifiseer, of is dit nou diagnoseer? (Die Gautengers is mos slim. Ek weet, want ek was een van hulle.) Die roes staan as Outeniquaroes bekend. Maar laat ek verduidelik.

Eerstens, soos die naam aandui, kom dié roes in ’n bepaalde geografiese ligging voor, digby die Outeniquaberge. Die roes slaan veral in George uit, die besonder mooi en groot dorp onder die Outeniquaberge se suidelike hange. George lê op die tuinroete en is een van die Suid-Kaap se groot handelsentrums. George is in 1811 as dorp geproklameer en na King George lll vernoem. Voor die proklamasie was dit ’n buitepos gewees en reeds ’n gewilde middelpunt van die houtbedryf. Hierdie mooi dorp is wel bekend vir sy politikus van die ou-ou bedeling, en het sy lughawe wat eintlik in Oudsthorn moes gewees het te danke. Dan was die soldoedies vroeër hier opgelei. Ernie Els het ook hier ’n "vinger in ’n baai". En dit is hier waar oorlede Magrietjie, die labrador met sterstatus, se opvolger, saam met haar baas en ’n koketiel die strate met ’n fietswaentjie plat ry. Dit is ook die plek waar Hansie Cronjé met sy vrou Bertha op Fancourt kom woon het, en toe verongeluk hy in ’n vliegtuig wat teen ’n hang van die Outeniquaberge gebots het.

Dit is nie in die eerste plek George se see met die romantiese Victoriabaai en Heroldsbaai se "argitektuur" wat bekoor nie. Selfs Gwaingmond ander kant Pacaltsdorp, Ballotsbaai en Oubaai kom nie naby sy berge, die Outeniquaberge, met onder andere sy Cradock (1583 m) en George (1327 m) pieke, nie.

Die naam Outeniqua word etimologies verklaar as "die gebied van die draers op die rug van heuning in sakke" (Boshoff en Nienaber, Afrikaanse Etimologieë, 1967). Kortliks, dis ’n Khoi-woord wat "sakdraers van heuning" beteken. Maar ek wonder of die "heuning" nie meer is as die soet stroop wat deur bye uit blomme berei word nie. Is dit nie dalk iets heeltemal anders wat die berg vry stel nie?

Outeniquaroes lewer waarskynlik ’n groot bydrae tot George se tatus as "hemel-op-aarde" vir die wêreld se gholfaanbidders. Vir sommige van hierdie gelowiges is dit ’n "gholfmekka". Tot die lugredery Kulula.com reflekteer, as ek my nie misgis nie, in sy advertensie iets van die spesiale roes, wanneer die ou Georgiaan met sy gholfkarretjie ry. Ek kan met die roes saamlewe en is steeds stomverwonderd wanneer ek van die Noorde met die Outeniquapas af kom en Geoge van bo-af (seker 800 m) sien en besef ek bly nou in hierdie droomwêreld.

Die Outeniquapas is deur Italiaanse krygsgevangenes begin bou. Dit is om twee redes nie vreemd dat hulle (volgens oorlewering) so "ontspanne" en stadig gewerk het nie. Die prisoniers was onder andere musikante en kunstenaars, en nie padmakers nie. En wat geen bron vermeld nie, was natuurlik die byna metafisiese, bosinnelike invloed van die Outeniquaroes op hulle. (Ek was, soos vroeër gemeld, mos voorheen van Gauteng, vandaar die diagnose.)

Ten tweede, die roes kom nie net in ’n bepaalde gebied voor nie, maar is soos reeds gesuggereer, ’n toestand in die mens. Dis soos vriendelike soldaatjies wat die bewoners rondom die Outeniquaberge se onrustigheid in hulself beveg. In die negentiende eeu word al daarna verwys. In 1880 skryf ’n peripatetiese (rondreisende) verslaggewer van die Oudtshoorn Courant dat George een van die mooiste klein dorpies in die land is, maar ook die slapendste. Hy skryf "daar is nie ’n meer wenslike plek om jou tyd rustig te verdryf nie. Daar is so baie gras, so baie skaduwee en so baie tyd, niks om te doen nie, behalwe om Sondae kerk toe te gaan nie en in die week lang ente rustig te stap nie. Die mense van George hou van stap, drentel beskryf dit waarskynlik beter, en hul primitiewe wyse van beweging is tipies Georgiaans. Dit is so rustig en waardig, elke stap berekend. ’n Vreemdeling sou, as hy nie bewus was van die ware oorsake nie, gedink het die mense ly aan ’n hartkwaal en dat hulle bang was dit lei tot hartkloppings," skryf die "peripateet".

In ’n kolom van die Mosselbay Advertiser van 1881 word na George as die "land van melk en heuning" verwys. Dit word met ’n versie verder borduur:
O George it is an ancient town,
                        Nigh a century old, I ween;
                        And much like Stilton cheese at its prime,
                        All old, decayed, and green,
                        And the good town-folks, like their verdant oaks,
                        Do vegetate serene.

George is bekend vir sy besondere flora. Hier is proteas, disa en heide, om ’n paar veldblomme te noem, en dit is pragtig boomryk. Dit word deur die rustige bergstroompies gevoed. Dis kos vir die siel. Hier kan alle skeppings, mens, dier en plant, op kalmte vegeteer. Die Suid-Kaapse fynbos is hoeka as beskermende bioom deur die "World Heritage Organisation" verklaar. Die blom wat hier uitstaan is natuurlik die George-lelie of berglelie met sy trompetvormige skarlakenrooi blomme in die lente, en daarmee saam die geelhout- en eikebome. George het ’n besondere houtroete. Dit begin by die museum met ’n spesiale afdeling wat die geskiedenis van die Suid-Kaapse houtbedryf illustreer met die (gerestoureerde) Geelhouthuisie van 1890 en lei na pragtige bome en eksklusiewe meubelmakers. Die roete eindig in die NG Moederkerk (1842) met sy hoë stinkhoutpreekstoel en geelhout-plafon en -pilare. Groente- en melkboerdery kenmerk die landelike omgewing, en deesdae is tonnelkweking uiters gewild. George is wêreldbekend vir sy hopboerdery. Verder is hier die lekkerste aarbeie wat jy sommer self kan gaan pluk. Die "power vans" neem jou op ’n kiekie-mooi-reis in "Eden" en laat toeriste toe om die Outeniqualug in te asem. Vandag is daar ’n paar stapklubs op George, wat die eeu oue tradisie van stap voortsit. Die "hak-tot-toonstappers" is veral bekend en baie avontuurlustig. En George het ’n besondere vervoermuseum, wat jou nostalgies laat.

Moontlik is daar iets spiritueels aan die Outeniquaroes. Die oudste Rooms-Katolieke kerk (1843) in Suid-Afrika is op George. Die Church of St Mark (1850) in Yorkstraat is ook die kleinste Anglikaanse katedraal in die land. Die NG Gemeente Outeniqualand se kerkgebou staan tussen plase, waarheen mense Sondae lang ente en vol stof ry om rus te kry. Honderde motors het plakkers met CAW wat nie die nommerplaat van George weerkaats nie, maar wat ’n akroniem is van nie net “cold and wet” (lankal nie meer so nie) maar vir "Christ At Work". Jesus se uitnodiging eeue gelede, sy werk ook vandag "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal vir julle rus gee" (Mat 11:28), het op George besondere (selfs ’n dubbele) betekenis.

In die derde eeu voor Christus, waarsku die wysgeer Qohelet (Prediker) dat "alles ’n gejaag na wind is". Dalk is mense se frustrasie met die Outeniquaroesdraers omdat die werk nie klaar kom nie, in elk geval "’n gejaag na wind". Sit jy eerder ’n bietjie jou gereedskap neer, skakel jou masjinerie af, stop jou rotteresies en kom span jou sintuie in en ervaar die skoonheid van die Outeniquaberge. Dalk is dit so lekker hier dat jy ook ’n draer van die roes word. Moet net nie dit wil kom verander nie. Neem volgende keer die alternatiewe ou Knysnapad en ry oor die besondere ou bruggies; of neem ander passe soos die geskiedkundige Montagupas na Herold, en verlustig jou aan die prag van fynbos en geografie. En as jy nog steeds jaag, pas op vir die kameras op die pad langs die Swart- en Kaaimansriviere voor jy Wilderness kry. Mag die Georgiane ook nie blasé raak oor hul kiekie-mooi rustige omgewing nie. Hier is so baie om die oë te verryk met inheemse- en ander fynbos, vleilande, sy dam, meer en see en veral die berg, dat jy nie anders kan as om ’n bietjie te stol of selfs in die "tuin" te hiberneer nie. Hier is in elk geval genoeg om jou asem te roof. Kom nou en raak "roestig"!

Pieter van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top