Ons ken George Claassen as die onsinbestryder. Die man wat alles uit ’n wetenskaplike hoek beoordeel. In Die Burger van 30 Maart gaan hy ’n stappie verder. In ’n brief onder die opskrif Wie se plig is dit om onsin te bestry? val hy Leopold Scholtz aan omdat hy ’n artikel geskryf het onder die opskrif: Is jy dood as jy beslis dood is? Hy vra of Scholtz as historikus ook soveel op onbewese en onsienlike dinge vertrou om by die waarheid uit te kom, wanneer hy historiese feite navors?
Hierdie brief is eintlik ’n lelike aanval van een joernalis op ’n ander of is dit maar net nog ’n Claassen-ateïste veldtog teen die evangelie? Scholtz se historiese akademiese agtergrond het hoegenaamd niks met die saak te make nie en Claassen se jarelange roeping om as selfaangestelde nasionale “onsinbestryder” op te tree, eintlik ook nie, tensy hy op hierdie wyse weer aandag op sy selfopgelegte roeping wil vestig. Is Claassen se ongevraagde dwarsklap na Scholtz, in terme van joernalistieke etiek, in orde?
Die belangrikste vraag is of Scholtz as ’n joernalis nie die reg het om, binne sekere perke, oor byna alles te skryf, waaroor hy ’n mening wil uitspreek nie? Waarom wil Claassen hom in hierdie geval beperk? My vermoede is dat hy ’n atmosfeer probeer skep waar die openbare media huiwerig sal wees om enigiets oor geestelike sake te publiseer. As dit so is vertoon Claassen se “wetenskaplikheid” ’n afkeuringswaardige, subjektiewe persoonlike kleur.
Claassen het geen reg om daarop aan te dring dat ’n ander joernalis sy vak “binne die dissipline van wetenskaplike navorsing (moet) beoefen” nie. Dis nou te laat maar Claassen kan gerus volgende jaar die KKNK besoek en vir ons ’n wetenskaplike verslag gee van wat daar gebeur.
Jocelyn Bell word aan Scholtz voorgehou as ’n voorbeeld van iemand wat die Maja se tradisionele opvattings op wetenskaplike wyse weerlê. My vermoede is (sonder dat ek enige van Bell se publikasies gelees het) dat sy dit gedoen het sonder om die Majas en hulle tradisies op ’n lelike wyse af te kraak, selfs al is hulle lewensbeskouing “hoogs onwetenskaplik”.
’n Mens is dank aan Scholtz verskuldig dat hy met sy artikel “Is jy beslis dood as jy dood is?” ’n moeilike onderwerp, wat gou ’n ongemaklike persoonlike kleur kry, goed gehanteer het en bereid was om ten spyte van die risiko's, ’n “nie-wetenskaplike” saak met ons te deel. Gelowiges is vandag geneig om minder kerklik te wees en dit skep juis ’n groot behoefte aan die geestelike.
Selfs al het hy voorheen by Die Burger gewerk is dit absoluut verkeerd van Claassen om sy mening, al is dit hoe “wetenskaplik”, op enige persoon te probeer afdwing.
George B


Kommentaar
Ek geniet dikwels Leopold Scholtz se skrywes oor wêreldpolitiek. Maar daardie artikel waana hier verwys word was die grootste klomp snert wat ek in 'n lang tyd gelees het, en kritiek daarop wel verdien.
George B
Beste Thomas, soos jy verseker kan getuig, het ek jou en ander kundiges se sekerheid omtrent 'niks' na die dood, ook reeds menigmaal bevraag - sonder enige antwoord of bewys wat julle daaromtrent kon lewer... MAAR, wyl die geagte George Claassen so kundig is, het my vrae vir gewoon enige wetenskaplike verklaring vir die mens se bewussyn, jou ook in die verlede verby gegaan... daarom; gegrond op jou veronderstelling aan George B, julle ook sekerlik aan dieselfde onsekerheid gebonde is... Namaste! Cornelius
WIE POOG OM WIE HIER STIL TE MAAK?
Die polemiek wat hier deur George B aangevuur word, gaan nie primêr oor `n godhipotese nie, maar eerder oor `n meningsverskil aangaande wanneer dit gepas sou wees om wat te sê en wie dit behoort te sê of stil te bly. Die meriete hiervan kan nie behoorlik geëvalueer word nie, tensy ons vertroud is met die agtergrond.
Op die Woordfees op Stellenbosch sou die paleontoloog Dr. Jurie van den Heever glo die stelling gemaak het: “As jy dood is, is jy dood.” Verder het Dr. Abel Pienaar glo die stelling gemaak dat daar geen bewyse vir die bestaan van God, `n hemel of `n hel is nie. Fisies is albei hierdie stellings heeltemal reg; dit is die implikasies vir godsdienstige geloof wat omstrede is. Hieroor was Leopold Scholtz ongelukkig en het `n artikel onder die titels “Wat ons weet en wat ons glo” in Beeld en “Is jy beslis dood as jy dood is?” in Die Burger geskryf. Dié artikel bevat talle ongegronde bespiegelinge en dwalings in logika waaroor ek nie hier wil uitwei nie. Dit bevat voorts argumente ter ondersteuning van `n godheid en `n lewe na die dood en sluit dan af met die voorstel dat wetenskaplikes hulle nie uitlaat oor kwessies van geloof nie en dat teoloë hulle nie uitlaat oor onderwerpe soos evolusie nie. In George B se terminologie sou Scholtz dus vir Van den Heever en Pienaar “probeer stilmaak” het.
Die konsep van “non-overlapping magisteria” (NOMA) is veral deur Stephen Jay Gould gepropageer in sy boek, Rock of Ages. Die idee stem ooreen met wat Scholtz in gedagte het, naamlik dat wetenskap en godsdiens verskillende magisteria is en by hulle onderskeie vakgebiede moet hou. Die probleem met NOMA is dat sodanige oorvleueling wel bestaan en nie afgebaken kan word nie en enige poging om dit te doen, ook deur Scholtz, gedoem is. Dit is `n aksiomatiese waarheid dat, uit `n stel teenstrydige stellings, hoogstens een waar kan wees. Daar kan nie twee verskillende soorte waarheid in parallel bestaan nie. Dit ly ook geen twyfel nie, dat wetenskaplike bevindinge dikwels strydig met godsdienstige sieninge is. Een van die twee moet swig. Vir so lank as wat godsdiens enige bonatuurlike aansprake maak, sal dit noodwendig met die natuurwetenskappe bots; sonder bonatuurlike aansprake is geloof impotent. NOMA is `n idealistiese kop in die sand poging om hierdie onvermydelike struweling weg te wens.
Paleontologie omsluit immers die studie van gestorwe lewensvorme. Wanneer Van den Heever dus praat oor die aard van dood wees, is dit heeltemal binne sy vakgebied. Maar selfs al sou dit nie die geval wees nie, het Van den Heever alle reg om sy mening uit te spreek soos verskans in die land se grondwet. Net so het Scholtz die reg om syne te lug en het George Claassen die reg op syne. Hierdie konstitusionele reg verskans egter niemand se uitsprake teen kritiek nie. Nêrens in sy brief bevraagteken Claassen Scholtz se reg om `n mening te huldig en dit uit te spreek nie. Wat hy wel doen, is om te belig dat Scholtz se menings in dié artikel op onbewese wensdenkery berus; iets wat Scholtz nie op sy eie vakgebied as historikus sou doen nie.
George B verwys snedig na `n “lelike aanval” deur Claassen, `n “ongevraagde dwarsklap”, `n “selfaangestelde nasionale ‘onsinbestryder’”, `n “Claassen-ateïste veldtog” en beweer dat Claassen sy sienings op ander “probeer afdwing”. Wat Claassen eintlik in sy brief sê, is dat menings op feite gebaseer behoort te wees. Wat is die alternatief: dat menings maar op onsin mag berus? Is dit wat George B met sy verdagmakery voorstaan? Op watter grond Claassen se brief voorgehou kan word as `n poging om Scholtz “stil te maak”, slaan my dronk. Niemand gaan enigiemand hier stilmaak nie.
Groete,
Charl.
Hello,
Hello,
Probeer hierdie skakel: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2013/03/30/SK/15/30MrtBrief1p0.html
Dit lyk of ons hier 'n onderwerp beet het wat reaksie uitlok. Dis seker waarom daar webwerwe soos hierdie bestaan.
Brianvds meen dat Scholtz hier swak gevaar het en die reaksie verdien wat hy van Claassen gekry het. As dit die volle verhaal was sou ek nie gereageer het nie. Scholtz en Claassen was albei senior redaksielede by Die Burger, met eersgenoemde in die meer senior pos. Ek dink dit was 'n persoonlike aanval van een joernalis op 'n ander, maar eerstens in die sin dat Claassen beswaar het teen die feit dat Scholtz hom hoegenaamd oor geestelike sake uitlaat – in die media moet alles ”wetenskaplik” geskied, volgens Claassen. Myns insiens het dit moed geverg van Scholtz om oor so 'n persoonlike saak te skryf en dit het ek waardeer. Die algemene gevoel is nogtans dat sy betoog nie werklik slaag nie. Die vraag is ook of die koerant Claassen se reaksie moes geplaas het.
Die ironie is dat Claassen wat reeds jare onder die “wetenskap-vlag” vaar hoegenaamd geen wetenskaplike kwalifikasies het nie. Die lewe is net van so 'n aard dat sake nie net uit 'n “wetenskaplike” hoek beskou kan word nie. 'n Wetenskaplike siening van 'n klassieke kunswerk of 'n simfonie mag enkele interessante punte oplewer, maar sal nooit by die essensie uitkom nie. Claassen is 'n man wat hom reeds lank openlik en dikwels afstootlik teenoor gelowiges uitlaat. Hy het reeds jare gelede met “Skepties Suid-Afrika” begin. Ons het almal die reg op ons persoonlike religieuse mening (hierby sluit ek die hele spektrum tot by ateïste in) maar dit is gewoonlik 'n persoonlike saak, wat meestal nie in die media pas nie. Die reg om so 'n mening te hê moet vanselfsprekend wees en met respek aanvaar word – dis nie altyd maklik nie – ek voel soms iemand is regtig agter die klip, wat verkeerd is! Met sulke, in die groef, benaderings verander niemand ooit van mening nie en verhard standpunte net. Met 'n vorige skrywe van my was daar ook 'n reaksie waaruit 'n mens kon aflei dat die man my eers geweeg het en toe besluit het ek is 'n gelowige en toe gereageer het. Ons moet eenvoudig met mekaar kommunikeer sonder sulke voorbehoude.
Thomas, ja ek deel Scholtz se geloof en glo dat die lewe voortgaan na die dood. In die eerste en die laaste plek gaan dit oor die geloof – om te glo in die onsienlike. Daar is ook ander aspekte, waaroor ek my nie nou wil uitlaat nie, want dit sal nog aansienlike studie verg. Wil net daarop wys dat daar sedert die 1970's(?) wetenskaplike akademiese studies gedoen is van naby-doodservarings wat sterk daarop dui dat jy verkeerd is.
Cornelius, jy moet ook maar onder heelwat kritiek deurloop maar ek waardeer jou teenwoordigheid op hierdie webwerf – jou hart is reg.
Charl, dankie vir die agtergrond inligting. Jy is seker reg om my brief as “snedig” te etiketteer, maar hou in gedagte dat George Claassen reeds met 'n jarelange veldtog besig is en besonder onsmaaklik kan wees.
Wouter, dankie vir jou term “aggressiewe ateïste”. Dis my probleem met Claassen: sy “wetenskaplike” beheptheid en dat hy 'n “aggressiewe ateïs” is - met “ateïs” sou ek kon saamleef.
George
Hello,
George Claassen se eis dat Leopold Scholtz sy vak “binne die dissipline van wetenskaplike navorsing (moet) beoefen” nie, is natuurlik in ruim mate op homself van toepassing. Om Claassen te beskryf as "die man wat alles uit ’n wetenskaplike hoek beoordeel" is egter ver van die kol af: Claassen is geen (natuur)wetenskaplike nie, het geen van die natuurwetenskaplike vakgebiede ooit bestudeer nie, en as selfaangestelde "wetenskaplike joernalis" en "nasionale onsinbestryder" is hy in (natuur)wetenskaplike kringe bekend as grapjas rapporteur wat weinig (of niks) verstaan van die wetenskaplike aspekte van die sake waaroor hy rapporteer nie. As hy homself sou beperk tot blote rapportering oor wetenskaplike sake wat hy op die internet Google sou dit nog aanvaar kon word, maar wanneer hy probeer interpreteer (iets waaraan hy hom dikwels vergryp) skiet hy ver te kort en bewys hy hom dikwels as 'n wetenskaplike leek.