Genade deur dankbaarheid gevind

  • 2

Riaan Cruywagen het met sy vele openbare afskeidsboodskappe vroeër, bykans altyd met een sinsnede afgesluit: ..”dit was net genade”. Toe dink ek en weer en weer kon ek hierdie skryfstuk nie keer ...

As jy gevra word om 'n lys te maak van dinge waaroor jy dankbaar is, hoe lank sal hierdie lys wees-20 dinge, 100, 500? Jy sal waarskynlik goeters soos jou gesondheid, jou verstand se vermoë om goed te funksioneer, familie, vriende, en vryheid insluit. Maar sou dit ook die basiese benodighede, soos 'n veilige plek om te slaap, skoon lug en water, kos, en medisyne insluit? Wat van die aarde self, blou lug, uit-die-maag-lag, 'n warm aanraak, die reuk van lente, die smaak van sout, die soetheid van suiker, of daardie oggend koppie koffie saam met die koerant?

Sonder opdrag, kan besinning oor dankbaarheid vervelig of sentimenteel lyk. Dit roep herinneringe van jou moeder wat jou vermaan om al die kos op jou bord te eet of die asdrom uit te sit of die hond kos te gee. Deel van die verwarring is dat baie mense by die punt gekom het, dat dankbaarheid gelyk aan die verpligting daarvoor gestel word. Maar ware dankbaarheid begin as waardering vir dit wat in jou lewe inkom. Uit hierdie waardering, ontstaan 'n natuurlike, spontane emosie wat dankbaarheid is, wat dikwels gevolg word deur vrygewigheid. Wanneer dankbaarheid uit ‘n skuldgevoel strompel, is dit so dat per definisie, wat gegee is, nie weer geskenk kan word nie.

Die woorde "dankbaarheid" en "genade" deel 'n gemeenskaplike oorsprong: " Dankbaar" vanaf die Latynse woord gratus, wat ook "verblydend" kan beteken. Laasgenoemde omvou die stille wete en emosie dat wanneer jy in 'n toestand van diep dankbaarheid is, jy dikwels spontaan die teenwoordigheid van genade sal voel. Die genade van 'n mens se lewe is dat dit jou die vermoë gee om te ervaar wat buite die gees en liggaam aangaan. Waar God die leegheid kom volmaak.

Ons vertrekkende pensioenaris predikant noem nou-die-dag ‘n waar ding: Jy met al jou foute, is gekies vir hierdie geleentheid om bewustelik die lewe te proe. Hierdie gawe is genade, selfs wanneer jou lewe met groot moeite en opdraendes gevul is; wat die spul laat voel soos 'n geskenk wat liewers agterweë kon bly.

Erens het ek eenmaal gelees van ‘n ou wat hom onttrek het aan die lewe, doelbewus om met slegs die noodsaaklikste van ‘n lewensverwagting te leef, om ‘n nuwe pad te begin stap. Toe die dag aanbreek dat sy uurglas leeg was en hy moes sterf, toé, ontdek hy deur allesheen, dat hy tog nog nie geleef het nie. Toe het hy begryp, dat die lewe en alles daarin, maar slegs 'n geskenk was.

Hierdie genade van lewensbewustheid, met 'n gedagte wat weet "’n oomblik is hier en nou," is die wortel van alle wonder, waaruit dankbaarheid vloei. Die wonder, die verborgenheid, is dat ek, soos almal anders, hierdie kort, kosbare tyd van menswees, nooit vir ‘n ander kan “gee” tensy ek dit nie self vul nie.

In die Bybel het Paulus geleer, "Wees in alles dankbaar." Wat hy bedoel het, is dat vanuit ons beperkte insig, dit nie moontlik is om die uitslag van 'n gebeurtenis te weet nie. Wat vandag erge ongelukkigheid veroorsaak, kan spoedig in 'n onverwagte seën verander. Daar is 'n baie ou storie oor 'n man wie se seun 'n sterk, mooi, wilde perd gevang het. Al die bure het die man vertel hoe gelukkig hy was om hierdie mooi dier te kon aankeer. Die man het geduldig geantwoord: "Ons sal sien." Een dag het die perd sy ruiter afgegooi en die seun het sy been gebreek. Al die bure het die man kwalik geneem en gevra hoe kon hy sy seun op die wilde dier laat ry. Weer het die man geantwoord: "Ons sal sien." Kort daarna het ‘n oorlog uitgebreek en die weermag is gestuur om al die jonger mans as manskappe op te kommandeer. Toe al die weerbare jong mans uit die dorpie weg is, was net die seun met die gebreekte been gespaar. Die man se vriende het hom vertel hoe gelukkig hy was dat sy seun se been juis nou gebreek was. Dan sou die man net sê, "Ons sal sien." Net soos dit, is ons dankbaarheid vir deelname aan hierdie lewe ‘n misterie.

Dankbaarheid vir genade ontwikkel in die uitleef van onbaatsugtige dankbaarheid. Dit is opgesluit in die oefening om jou bekommernisse stadig maar seker weg van jouself, asook van diegene na aan jou, te skuif. Wanneer dit gebeur, soek mens al minder en minder die pad na 'n goeie fortuin. Dan word dit genoeg dat daar mense is wat gelukkig is, wat liefde vir jou gee en wil ontvang, dat jy veilig is, en so sonder soek en grawe, word 'n belowende toekoms uit genade gebore. Dit is nie meer ‘n geval dat jy net goeie dinge vir jouself kies nie, en jou dankbare leefwyse is nie meer afhanklik van jou lewensomstandighede nie. Jy besef dat pyn en vreugde deel is van die geheel. Wanneer hierdie toestand van onbaatsugtige dankbaarheid begin blom, word jou gedagtes ruimer, ook stiller, en jou hart ontvang sy eerste smaak van die lang-gesogte vrylating van vrees en wil. Dit... is genade.

Hennie Fritz

 

  • 2

Kommentaar

  • Hello

     
    Soos ek ook al gesoek het kon ek nie die opstel vind waarin die term "fortuna" bespreek word soos dit in die opstelle van Montaigne voorkom nie deur 'n bekende Amerikaanse vroulike  literêre kritikus. Haar naam ontgaan my nou volkome.  Daar word indien korrek onthou word gewerk met die terme, 'good fortune' and 'bad fortune' wat in Afrikaans sekerlik as geluk en ongeluk vertaal kan word.
     
    Vir die wat dan nie uit genade onverdienstelik kan leef nie en skop teen die godsdienstige onderbou van die woord genade moet hulle dan sekerlik verlaat om die sekulêre weergawe van geluk en ongeluk en die terme gebruik. 
     
    Indien die trant van die opstel korrek onthou word, was die vraag wat die literêre kritikus wou antwoord of Montaigne Godsdienstig was of nie, gelowig of ongelowig. 

     
    Die slotsom waartoe gekom was deur die kritikus is dat Montaigne skepties was en dalk meer as agnosties moet beskou word in vandag se terme maar dat sy opstelle deurspek is met die term, 'fortuna', of dan geluk indien daardie vertaling aanvaar sou word. 
     
    Dit kan argumenteer word dat Montaigne gelukkig was met sy lewe, bewus van die geluk wat sy kant gekom het en dan in dankbaarheid geleef het en so 'n voorbeeld stel vir die ongelowiges onder ons wat besef hoe die geluk aan hul kant was.
     
    Baie dankie,
    Wouter
  • Dankie Hennie,

    Ek het jou stuk oor genade geniet. Vernaam die gedeelte wat uitwys dat : "Uit hierdie waardering, ontstaan 'n natuurlike, spontane emosie wat dankbaarheid is, wat dikwels gevolg word deur vrygewigheid."

    Woorde - so waar!

    Trienie Mahne

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top