Gemorspos

  • 0

Ek e-pos my kom-pos vir jou,
gemors
wat onbekende jorse
soos wors
uit ‘n masjien
in my inboks mors.

Aangevuur
en aangestuur
deur gawe, goeie mense,
gooi ek ook grappe, grafika,
gebede en wense,
soms ook die banale,
alles wat ek het,
in die digte, digitale
rioolslote van die internet.

Die ketting moet jy tog nie breek nie
(ook nie trek nie),
maar aanstuur aan nog vyf,
besoedeling tot teen jou lyf,
klaar ingevryf ...

Die virusse klim oor jou heinings
versperrings, vuurmure,
blokkers en skildwagte,
sypel in, besoedel jou adreslys,
wurm in, tot in jou blikbrein-binnekamer –

...  tot by jou harte-skyf.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top