
“I see the heart of a child in the eyes.”
Tydens die aanbieding voel ek ’n paar maal: daar kom daai onverklaarbare emosie. Dis dieselfde emosie wat ek sou voel wanneer ek in die vorige eeu die Afrikaanse musiek van Kerkorrel en Koos Kombuis gehoor het. Dis die emosie wat ek ervaar wanneer ek Luna, Frieda van den Heever en Nicole Holm die gedigte sien opvoer en sing het, destyds met Jeanne Goosen se “Elders aan diens”. Dis die emosie wat ek ervaar wanneer ek die mooiste lig sien, die mooiste woorde hoor, met die mooiste beelde.
“Ons red die wêreld,” is die gedagte wat deur my kop gaan. Ek wonder hoekom, want ek doen nie juis iets nie? Iets laat my dink dat ons almal een is. Omdat ons almal hier is. Mens is mens. Mens is natuur. Natuur is magies. En ons weet nie dit alles nie; ons probeer ook maar net oorleef ...
So, is die “ons” verregaande? Daar is ’n toets ...

Toets is ... wanneer jy die koor hoor. En die gumboot-dansers beleef. Die kunsklas sien. As jy instap wanneer die babatjies in ’n lang ry lê en slaap. As jy die dogtertjie sien met die graafwond bokant die oog. As jy nie geraak is – selfs huil nie – is jy eg introvert. Introverte verteer mos eers nuwe inligting, vergader dit en reageer dan.
Want reageer sal jy ... Want jy is mens, en mens het mos iewers binne hom die waarheid. Die legendetjie, en talle vertakkings daarvan – onder andere die een in The Alchemist van Paulo Coelho – lui dat, juis omdat ons mens is, dit so moeilik is om die waarheid te vind, want dis waar mens laaste sal soek: binne jouself.
En hier, in die klein saaltjie in Wellington, is dit voor jou – jy kan daaraan raak. Net ’n paar maal vanmiddag klap die gehoor spontaan hande: onder andere as die pleegmoeder vertel hoekom hulle die liefdesdiens lewer.

En die pleegmoeder is vanuit die gemeenskap, met ander woorde die gemeenskap sien om na homself. Want Marietjie en haar kollegas het die behoefte gesien, dit in ’n paar areas begin aanspreek; hul kennis van struktuur en organisasie gedeel. En nou is dieselfde gemeenskap besig om die wêreld te red. En nou word honderde kinders versorg deur mense in die agtergeblewe areas en omstreke, omdat hulle nou weet hoe.
En as Marietjie vlietend oor die feit glip dat norSA in die Wes-Kaap 18 000 mense voed, dan klap die gehoor weer hande.
O, en dan is daar applous vir die koor. Die gehoor stel voor hulle moet inskryf vir norSA’s got Talent. So beïndruk. Ayabonga se koor sal gratis by jou kom optree, want die sangers smag so na blootstelling.
Applous vir Sazi se gumboot-dansers. En vir sy behoefte om te dig.
Applous vir die dansgroep, wat afgerig word deur Mej norSA, Claudia.
Marietjie en haar kollegas kry eendag ’n oproep – hulle moet asseblief ’n sekere tyd by die jeugsentrum Phumelelani wees. Daar gekom, is die beskeie lokaal versier, kompleet soos vir ’n funksie, met versnaperinkies. ’n Wenner vir hul Persoonlikheidskompetisie is aangewys. Die kinders het alles self behartig. Op die dag toe die sentrum geopen is, toe die eerste Mej norSA speech en die koor daarna hul lied sing, is daar nie ’n droë oog nie. Die woorde stem nogal ooreen met ’n gedig van Sazi Manzi, wat opgeneem is in die klein norSA-digbundel.

Vandag lees Sazi sy gedig. Die eerste vers sê:
When we were cold and lonely
When we were lost and homeless
When we were sad and bitter
When hunger strikes you protect us
When it feels like the end you are always there to comfort
And give us love
Brett Anderson sê in sy kort toespraak: “’n Blommetjie kan uitdroog sonder aandag, maar norSA gee daai blommetjies water en versorg hulle terug in die lewe in.”
Marietjie wys ’n skyfie van die lewe daar in Newrest. Die pot op ’n paraffienstofie in die voorgrond verduidelik dat kosmaak in die dorp primitief is, want die meeste mense is sonder elektrisiteit. Marietjie verwys na almal se glimlagte, terwyl mens foto vir foto die swaarkry sien. ’n Klipgooi ver, net agter, is ’n reusetoring van Eskom.
’n Paar kunstenaars se werke teen die mure, en in blaaiboeke, is onbeskryflik.
Marietjie sê ’n dag of twee nadat kindertjies hier aankom, sien jy die lewe in hul oë terugkeer. Dis die lewende getuienis van norSA, wat die wêreld red.
Hier sal jy jouself leer ken, en die lewe in jou eie hart voel bons, en in jou oë voel. Want mens wil inherent goed wees. Ons sal mos almal die wêreld red, as ons weet hoe. Dis maar wat norSA doen. Op meer plekke as waarvan ons weet. Dis waarmee hulle, en ons, die wêreld red.

Foto’s verskaf deur Sandra Blackie

