Die week in woorde
Toe ek maar nog ’n kalfie was (goed, ’n kalfie én ’n kunsstudent), het ek een Augustusmaand ’n installasie-werk geskep wat probeer het om die happy accidents te vergestalt wat mens soms oorkom as jy stilsit en stilbly en wag op ’n gedig. Die titel (érg studentikoos) was “Serendipitea under the poetree” en het nie werklik ’n verband probeer trek tussen tee en die misterieuse weë van die pohesie nie, maar eerder staatgemaak op die impak van woordspelings – sommer twee in een sin, very punny!
(Wat presies die haas, die skroot, die hark en die helder lig met mekaar uit te waai het, is tot vandag toe steeds onduidelik. Selfs ons land se slimste kunskritici kon nog nie agter die kap van dié spesifieke byl kom nie.)

In elk geval: die enigste rede waarom ek toe nou dié week weer aan my destydse poetree dink, is dat dit tans voel of ek onder een of ander wonderbaarlike woordboom sit en poëtikale serendipity ervaar. Ja, die goeie gode van gedigte is my tans genadig. Dis dalk omdat ek so mooi soet sit en aan my tesis tik, of anders is ek besig om die vrugte te pluk van goeie dade in ’n vorige lewe.* Of nee, ek plúk nie eers die vrugte nie; dit val sommer in my skoot (lees: inboks).
Gister kry ek ’n e-pos van die Academy of American poets met ’n skakel na hierdie fassinerende lesing deur Susan Howe. Voor gister het ek nog nooit van Howe gehoor nie, maar ek was aangegryp deur die transkripsie van haar lesing. Ek hou van die manier waarop sy soveel los fragmente saamgetrek kry en skynbaar moeiteloos van een betekenis en assosiasie na die volgende hop. En jou wraggies, vandag lees ek toe weer vir Howe raak terwyl ek navorsing doen vir die bogenoemde tesis waaraan ek so soet sit en tik, en dit in ’n artikel wat ek jarre gelede, in die jaar van onse heer 2006, afgerol het en toe nooit gelees het nie.

Ek vermoed die universum wil graag hê dat ek en Howe mekaar beter moet leer ken, so nou begin my soektog na een van haar bundels. Sal lekker wees as dit ook net onverklaarbaar in my inboks beland, maar ek sal eerder nie daarop staatmaak nie. Daar het egter nuus oor drie ander bundels in my inboks beland, en om solank Brownie-punte te score vir my vólgende lewe sal ek ’n goeie daad doen en die goeie nuus deel:
- Petra Müller se bundel om die gedagte van geel is uiteindelik hier! Dit word volgende week by The Book Lounge bekendgestel. Ek het Petra by die Woordfees van hierdie gedigte hoor lees en dis iets om te beleef. Klik hier vir meer inligting en onthou om jou plekkie in die gehoor te bespreek.
- Net die dag na Petra word Rustum Kozain se nuwe bundel Groundwork ook by The Book Lounge bekendgestel. Van hierdie verse het ek ook al gehoor, verlede jaar by die Open Book-fees, en, noudat ek mooi daaroor dink, Susan Howe se bundel sal maar eers moet wag. Rustum s’n en Petra s’n kan mens nie mis nie.

- En nou, die Royal Wedding van die Afrikaanse digkuns in 2012, die oomblik waarvoor al wat resensent is al hoe lank asem ophou, die bundel waarvoor elke self-respecting fan al sedert 2008 voor ’n venster staan en wag ... Loftus Marais se tweede pennevrug is byna ryp en gereed om gepluk te word! Soos die poniekoerante sal sê: “Sources close to the poet have revealed ...” dat die bundel tans by die drukkers is en dat die datum vir die boekbekendstelling reeds bekend is. Stof solank jou beste hoed af en begin jou mooimaak, en moenie ’n ete by die Spur of ’n ooievaarstee op 15 Augustus reël nie. Dan sien ek jou in die voorste ry om te hoor wat Loftus opgetower het. If the rumours are anything to go by, it’s going to be a cracker!

Terwyl ons nou op die Loftus-topic is: lees hierdie week ook Loftus se gesprek met Jaco Barnard-Naudé op LitNet. Die twee raak filosofies oor Jaco se artikel in LitNet Akademies.

(Ek kan nie die woord “akademies” tik sonder om herinner te word dat ek eintlik veronderstel is om soet te sit en my tesis te tik nie. So op daardie hoë noot groet ek soet.)
* ’n Naskrif oor reïnkarnasie
Nie een om enige klip onomgedraai te laat (as ek eintlik veronderstel is om soet te sit en aan my tesis te tik) nie, het ek ’n noukeurige wiskundige formule uitgewerk en ’n deeglike Google-soektog onderneem om te bepaal wie ek moontlik in my vorige lewe kon gewees het indien ek wel gereïnkarneer is.
Ek het nege maande van my geboortedatum afgetrek en toe gaan kyk watter mense rondom daardie datum die tydelike leunstoel onder die koelteboom vir die ewige teekamer in die hemel verruil het, en dit wil voorkom asof ek moontlik die reïnkarnasie van Tennessee Williams is. Dis óf hy óf ene Doodles Weaver, ’n radiopersoonlikheid wat blykbaar beter bekend was as Professor Feetlebaum. Alhoewel hierdie tweede opsie vir my heel waarskynlik klink, wil ek nie die moontlikheid heeltemal uitskakel dat ek moontlik, in my vorige lewe, Nikolai Podgorny, die president van die USSR, was nie.

Die wonderlike ding van die internet (en ek dink ek het dit al voorheen hier gesê) is nie noodwendig dat jy altyd die antwoorde vind waarna jy soek nie (Tennessee? Doodles? Nikolai?), maar wel die fassinerende antwoorde waarna jy níé noodwendig op soek is nie. Soos byvoorbeeld: ek is nou presies 28 jaar 38 weke 2 dae 16 ure 40 minute en 56 sekondes oud. En as ek sedert my geboortedag nooit my hare gesny het nie, was dit vandag 4,185 meter lank. En net vir ingeval jy dit nie weet nie: ’n appelboom wat op my geboortedag saad geskiet het, het sedert daardie dag 2 550,333 kg appels gedra. Die boom se bydrae tot die ekonomie is R84 905, 70 en dit het al 4 279 mense gevoed.
Dis bepaald meer produktief en nuttig as my poetree, wat sedert sy geboortedag in Augustus 2007 nog niks laat gebeur het nie. Presies soos Auden voorspel het.
(Vir uiters bruikbare feite oor jou verjaarsdag, besoek http://www.pokemybirthday.com.)
Voorgeskrewe leesstof
II
You were silly like us; your gift survived it all:
The parish of rich women, physical decay,
Yourself. Mad Ireland hurt you into poetry.
Now Ireland has her madness and her weather still,
For poetry makes nothing happen: it survives
In the valley of its making where executives
Would never want to tamper, flows on south
From ranches of isolation and the busy griefs,
Raw towns that we believe and die in; it survives,
A way of happening, a mouth.
Uit "In Memory of W B Yeats" deur WH Auden. Lees die volledige gedig hier.
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.



Kommentaar
Ja, feite is nuttig soos appels ... sê maar jy rook, en dit kos om en by R500 per pak, wat die eintlike onkostes is na alles bereken word, hoeveel geld het die gemiddelde mens al letterlik geblaas op 28?
Hallo Kaitangsou
Hier is 'n geheim: ek haat appels. Ek sal veel eerder herkou aan 'n handvol nuttelose feite as aan enige deel van 'n appel. hier's vir jou 'n Smorgasbord:
A cockroach can live nine days without its head before it starves to death.
Shakespeare invented the words "assassination" and "bump."
More people are killed by donkeys annually than are killed in plane crashes.
A snail can sleep for 3 years.
En verder lees ek ook dat meeste lipstiffies vis-skubbe bevat.
Ek's met jou - who cares - but it still beats eating apples!
Groete
Bibi