Geloof soos ’n kind

  • 0

As ek so na die briewe van baie mense op SêNet lees, wonder ek soms of die magdom kennis waaraan ons blootgestel word op die Internet en in boeke, nie mense se Geloof laat wankel nie. Dit is alles goed en wel om hierdie vreeslike artikels en boeke te lees, maar dit wil vir my partykeer voorkom asof baie mense hierdie skrywes wat hulle op die internet en in boekwinkels bekom, vir soetkoek opvreet.

Dit is asof daar ’n industrie ontstaan het waarin Geloof of selfs ongeloof, in spesifieke pakkette verpak word. Die ateïste het hulle Dawkinse, Darwins en vele anders skrywers aan wie se lippe hulle hang. Dan het die agnostici en hutspot-gelowiges nog ’n groter verskeidenheid bronne, waarin mense van die Hindoes tot Moslems bespiegel oor die aard van hulle bestaan en geloof. Gereeld haal hierdie spul boeke aan van skrywers soos Deepak Chopra en nou die onlangse boek Conversations with God, waaraan iemand soos Ronel so verknog is. Ek het so bietjie navorsing oor die boek gaan doen, en wonder bo wonder bespreek die boek allerlei dinge soos die Bhagavad Gita waaroor ’n paar ander skrywers hier ook gaande is.

Selfs vir ons Ware Christene is daar soveel webtuistes en boeke beskikbaar dat daar selfs kettingwinkels in die land is wat Christelike literatuur en musiek verkoop. Ek het die laaste paar jaar nogal geleer om die internet te gebruik, en die menings en opinies van Christene word oral op die internet verkry. Tog is dit belangrik om al hierdie inligting te fynkam en seker te maak dat dit nie afwyk van die Woord nie.

In baie opsigte dink ek dat hierdie leesstof, of dit nou gemik is op Christene, ateïste en agnostici (of hutspotte) vir kommersiële doeleindes gebruik word. Ek het wel genoem aan Ronel dat dit nie nodig is om verder as die Bybel te lees nie, maar ek moet bieg dat ek verskeie aanvullende boeke raadpleeg om my in my Geloofstaak te ondersteun. Ek sien geensins ’n probleem daarmee as mens sekere leesstof aanskaf wat as gids dien om die Bybel en jou verhouding met God beter te verstaan nie, maar soms voel dit of sommige van hierdie skrywers en boeke ’n spesifieke status kry. Ek dink wel dat die meerderheid Christene daardie dissipline het om onderskeiding te tref tussen dit wat die Woord aanvul en gedrag wat daarvan afwyk.

Ek is nie altyd seker of daardie dissipline by die ongelowiges en veral die hutspotters bestaan nie. Dit wil voorkom asof hierdie mense net naarstiglik na strooihalms gryp en elke tikkie informasie wat hulle in ’n mens geskrewe boek ontdek of op die internet raaklees gebruik om hulle punt te staaf. Daar is dus geen grense vir dit wat hulle met ons deel nie, aangesien die informasie by derduisende tweedehandse plekke geleen is. Die een skryf vandag oor die Bhagdad Gita en dan verbuig daardie een dit om sy agenda te pas. Op die einde van die dag is daar soveel dinge wat die ander uit kanselleer of weerspreek dat hierdie tipe mens heeltemal berserk raak en die pad byster raak.

Pleks mense besef dat ons werklik nie al hierdie inligting hoef te verteer ten einde genot uit die lewe te put, of naby aan God te leef nie. Ons kan bloot die Woord van God toepas en soos ’n kind glo in dit wat daarin geskryf staan.

Die Woord is daar vir almal om te lees, en God maak dit maklik om Hom te Dien, Eer en te Verstaan.

Tant Alie

Brief verkort. – Maggie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top