Gekoopte leuens: 'n Resensie

  • 1


Titel: Gekoopte leuens
Skrywer: Lien Roux-de Jager
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799361407

 

Koop Gekoopte leuens by Kalahari.com.

In Lien Roux-de Jager se vorige spanningsverhaal, Donker leuens, wat verlede jaar verskyn het, het lesers vir Kalli Krynauw, ’n forensiese psigofisioloog (poligraaf) leer ken; ook die karakter De Waal Brink, wat as konsultant ingeroep word; Kalli se suster, Madelein, ’n model wat al 15 jaar aan dwelms verslaaf is en haar verhouding met die dwelmkartelle wat komplikasies veroorsaak en die web van leuens en spanning al stywer span. Dit was duidelik dat die boek se einde en die karakters se ontwikkeling ideale ruimte gelaat het om as eerste hoofstuk in ’n reeks te dien.

In die tweede boek, Gekoopte leuens, is Kalli Krynauw terug en sy en haar suster weer die middelpunt van die moeilikheid. Die boek speel af in ’n luukse oord in die bosse naby Pelgrimsrus en Kalli word nie net as forensiese psigofisioloog ingespan nie, dit is ook haar fyn kennis van die polisieprosedures wat van haar ’n gedugte teenstander en gewaardeerde kollega maak. Sy breek weg na die oord saam met haar suster, wat nou al meer as ’n jaar dwelmvry is en boonop die “gesig” is van ’n skoonheidsreeks, Papillon, wat in die laboratorium op die oord vervaardig word.

Die kuiertjie lyk aanvanklik na net die regte medisyne vir ’n moeë lyf, maar ná ’n spoggerige onthaal twee dae na hul aankoms word Kalli een oggend met ’n kopseer – en boonop half bedwelmd – wakker. Daar is bloed aan haar wit aandrok en haar suster het spoorloos verdwyn. Sy kan nie veel van die vorige aand onthou nie. Sy word verdink van moord op haar suster en in hegtenis geneem, waarna sy gou agterkom dat van die polisielede geplant en boonop korrup is en sy op een of ander manier die skuiwergat vir iets baie groter is. Sy word uiteindelik onder toesig van Special Intelligence Services (SIS) vrygelaat en moet na die oord terugkeer.

De Waal Brink, die wetenskaplike wat navorsing doen om ’n alternatiewe brandstof te vind, met wie se paaie Kalli s’n in die eerste boek gekruis het, daag as konsultant tot die ondersoek op. In Donker leuens het hy en Kalli mekaar ook romanties leer ken, maar hy moes terug Amerika toe. Saam ontdek hulle twee lyke in ’n afgeleë stroompie op die oord se gronde en hul vermoedens dat die laboratorium nie net skoonheidsmiddels vervaardig nie, word versterk.

Intussen gaan draai die boek in die woestyn van Doebai, waar ’n familievriend, Joe, agter Madelein aan is en sy eie lewe in gevaar stel om Madelein te vind.

Lien Roux-de Jager ken woordkuns. Sy verstaan hoe belangrik beskrywings is, dié sonder oordadige byvoeglike naamwoorde. Sy skep atmosfeer met keurige woorde en sit jou pens en pootjies in daardie oorgroeide bosse rondom die oord; laat proe jou die sand op jou tong in die woestyn.

Sy huiwer nie om rond te speel in genre-fiksie nie: ’n kleuterverhaal, sewe jeugverhale, nege romanses, en deesdae spanningsverhale. Sy het 'n passie vir geskiedenis en het 'n historiese roman teen die agtergrond van die Boereoorlog geskryf, asook kortverhale in die bundels Boereoorlogstories 2 en Grensoorlogstories. Sy skryf ook kortverhale vir Vrouekeur.

In Die Afrikaanse Skryfgids was haar bydrae 'n hoofstuk oor die skryf van historiese romans. Twee van haar gedigte is opgeneem in die digbundels Skeur en Honderd jaar later.

Hierdie boek is een van daardie wat jy nie sal kan neersit as jy eers begin lees het nie. Dis volledig genoeg geskryf dat jy nie die verhaal verloor as jy nie die eerste boek gelees het nie. Maar hier en daar het iets gekrap in die boek se tegniese versorging: ek het die eerste maal gesnap dat Brink se mankstappie met die kierie ’n foefie is om sy identiteit te beskerm en dat hy “staalblou oë” het. Ook toe Kalli foto’s neem van die bloedvlekke op die bed en met die oorverduidelikte tegniek hoe die bloed op haar rok beland het, is die herhalings regdeur die boek steurend.

Haar forensiese navorsing is goed, en die verduideliking van hoe die staatspatoloog by haar bevindinge kom, is ook in die kol. Sy is deeglik en het aan alle aspekte van ’n misdaadtoneel gedink.

Maar ek kan sien hoekom Roux de-Jager geliefd is vir liefdesverhale en nog nuut in die spanningsverhaal-genre is. Die stereotiepe heldin met die kort humeur, die eiewysheid van ’n vrou wat nie oorwin wil word nie, maar hunker na die held, is alles daar. Soms geloofwaardig, maar soms net te veel op die resep van die liefdesverhale wat ons in die tagtigs en negentigs gekry het toe daar nie veel mededinging van oorsee was nie.

Hoewel die spanningslyn goed is, kan mens nie verhelp om te wonder oor die blitsvinnige uitslae deur patoloë en polisielaboratoriums, die helikopters wat ingespan word en die spanne speurders wat ingetrek word nie. Miskien bestaan dit in Suid-Afrika, maar ons as Jan Publiek hoor nooit daarvan nie.

As jy kyk na die eerlike weerspieëlings van die misdaadsituasie in Suid-Afrika en na skrywers soos Karin Brynard, Bettina Wyngaard, Deon Meyer, Chris Karsten en Leon van Nierop se waagmoed om hoofkarakters te laat sneuwel om die storie meer dramaties te maak, is hierdie boek dalk effe lig in die broek om waarlik spanningsvol te wees.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • Maryke, wat 'n heerlike resensie. Ek glo dis selde dat 'n skrywer  die resensent bedank vir die kritiek! Hierdie keer is ek eerlik dankbaar daaroor, hier en daar dinge uitgewys wat vermy kan word. Maar dis die deel oor die liefdeslyn wat my hand sterk. Daar word aanbeveel dat die liefdeslyn sterk bly, want dit verkoop beter, maar my mening is ook dat dit subtiel in die agtergrond moet bly in 'n spanningsverhaal. Ek gaan sommer heelwat verander aan die derde een van die trilogie wat nou voltooiing nader  en met jou resensie in die hand, gaan ek daarmee wegkom. Lien Roux-de Jager

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top