Geheuekiekies 4, 5 en 6

  • 6

Geheuekiekie 4

'n Outjie nooi my eendag om by hom te kom kuier, te kom speel soos dit daardie tyd bekend gestaan het.  Hy't so paar huise aan oorkant die straat gebly.  Op 'n stadium sê hy hy moet nog 'n karretjie gaan haal.  Ek stap saam met hom en, by die trappe wat oploop agterdeur toe, sulke rooi blinkes, sê hy, "wag maar hier; jy mag nie in die huis inkom nie."

Geheuekiekie 5

Ek en my nefie gaan haal my ouma se koei, haar naam was Doortjie.  Destyds het baie dorpshuise 'n stal gehad en die dorpskoeie, kan jy maar sê, het bedags op so 'n gemeenskaplike veld, net buite die dorp, gaan wei en dan moet hulle in die aand gehaal word.  Ons soek die miskoeke waaruit die stoom nog trek en dan spring jy so van miskoek na miskoek, dan kry jou voete lekker warm.  Op pad terug soek ons die laaste koei wat water afslaan om ons voete af te spoel en dis éérs warm.  Ek wonder wat my ma sou gesê het as sy geweet het met watter voete ons by die huis ingekom het.

Geheuekiekie 6

Ek lê op die mat deur die Huisgenoot en blaai (daardie dae was die Huisgenoot nog nie so deurmekaar soos 'n Amerikaanse TV-nuusprogram se skerm nie) en ek sien my een sussie, toe nog baie klein, met 'n moerse osketting by die voordeur ingestap kom, die knietjies knak eintlik onder die gewig.  Ek blaai verder deur die tydskrif, steur my nie verder aan haar nie tot ek net geel sterre teen 'n swart agtergrond sien en dofweg hoor ek hoe my broer, wat op 'n stoel reg langs my gesit het, sy gat af lag.  Ek kon tot vandag nog nie uit haar kry oor hoekom sy my daardie dag met daardie ketting oor die kop geslaan het nie.

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Jan Rap, wyl ek besig is om die drade uit te trek, die knoppies af te skakel en my sleutelbord finaal vir die jaar te pak, wil ek graag vir jou ook dankie seg vir al die geheuekiekies en ander gedagtes wat jy met ons gedeel het ... ja, ons aarde dy gewis uit... geseënde Christusfees vir jou en jou geliefdes ook, Cornelius.

  • Dankie vir jou geheuekiekies: Skitterend man! En deel gerus jou geheuealbum met ons.
    Groete
    Panda

  • Jan,

    Dis tog seker oor daai stink voete dat jy nie in die mense se huis toegelaat is nie. Daaroor ook dat jou sussie jou met die ketting geslaan het, sy kon dit nie meer uithou nie.

    Maar ek onthou ook uit my jeug, party mense se huise was pynlik skoon en blink, lappies op hul plek, geen stoffie in sig nie. Jy was skoon bang, weet nie waar om te trap of vat nie, die tannie is bekend as streng op haar huis se netheid.

    Varkspek

  • Ai nee Jan – is jou nou ernstig?

    Dankie, ek't lekker gelag. Kiekie 5 is net vir my bietjie vergesog. Kou nog aan hom.

    Trienie

  • Doodernstig Trienie, om die waarheid te sê, dit was vir my snaaks dat ander mense verbaas was daaroor want ek het gedink dis standaardpraktyk in die koue dele van die land.  My tuinboukundige assistent (nou al 28 jaar by my) sê hulle het dit ook gedoen.

  • Varkspek, dis sweerlik soos jy daar afgelei het.  Maar eienaardig genoeg, die einste nefie saam met wie ek so van stomende tot stomende miskoek gespring het se ma, my tannie, was so pynlik netjies.  Jy kom net in die huis vir etes, anders trap ons net die vloere vuil volgens haar.  En eerste ding wat sy doen as daar kuiermense was, was om dadelik vloere weer blink te vryf.  Nogtans ’n liewe tannie, van my ma se agt susters was sy een van die gaafstes (terloops, jy kan dink, met my ma se agt susters en my pa se twee broers en twee susters het ek ’n car case (verskoon die Engels) vol nefies en niggies.  Vandag weet ek net waar een is.  Eintlik hartseer).

    Dankie vir julle gawe woorde Trienie, Panda en Cornelius.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top