21 * * *
Ek en ou Johnny, 'n kollega, het Vrydae na werk, soos ons na sy huis toe stap in Arcadia, aangedoen by die hotelle op pad en dan het sy vrou vir ons koffie gegee voor ek die pad vat Sunnyside toe waar ek in 'n losieshuis gebly het. Dit was nou die jare wat ek 'n vak of twee gedop het en dan na-uurs moes inhaal.
Die spesifieke dag is ons laaste stop die Hellenic, ons sit in die sogenaamde lounge (soos gewoonlik want in daardie dae was vrouens nie toegelaat in kroeë nie) en dit gaan besonder jolig, seker studente wat kom vier het na 'n toets of 'n ding want ek herken die een ou, die woeligste van almal daar, as 'n regstudent, baie raakgeloop by die pinballmasjien maar nooit formeel ontmoet nie. Ek weet nie watter jaar hy akademies was nie maar histories moes hy 'n hele aantal jare gewees het. Ek het hom later deur my broer ontmoet wat ook kom regte swot het; sy naam van Gys (die ou, nie my broer nie).
Soos ek sê hy was woelig, tussen die tafels rondgeloop, met almal gesels en sommer in die algemeen toesprake afgesteek. Soos hy tussen die tafels rondloop sak sy kouse kort-kort af en, elke keer as hy sy kouse optrek, sien jy daar's 'n moerse gat in die regterkous. Sy hare staan wild in alle rigtings want iemand het 'n bier op sy kop uitgegooi en soos hy sy kop geskud het, het die bier sy hare geset, kan jy maar sê, in 'n middelvlietende posisie.
Eventwil, ek en ou Johnny sit nog so en suig aan ons dop toe is daar so 'n roering in die lounge want die vensters aan die straat se kant flits blou, so al asof iemand buite sweis. Die hele vertrek loop toe leeg soos ons almal uitstorm en dit blyk toe die ligte van 'n verkeerspolisiekar te wees; hulle het 'n ou ingejaag en voorgekeer reg voor die Hellenic se stoep. Nie 'n goeie plek uit 'n wetstoepasser se oogpunt nie want almal is toe natuurlik aan die kant van die arme gevangde. Party versoek die konstabels vriendelik om die ou, wat nog steeds in sy kar sit, te laat gaan. Ander versoek hulle vriendelik dog dringend maar dis eintlik 'n soort van 'n paartie, almal lag en intussen het die ouens uit die kroeg ook bygekom. Dis 'n gemaal en 'n gelag en geskerts van die eerste water en as ek dit nie mis het nie, het een van die ouens nog rondgeloop met een van die konstabels se pet op sy kop.
Ewe skielik, terwyl ons almal nog so staan en spaas maak, wemel die plek van polisie en honde; drie vangwaens het uit die niet verskyn. Dit het 'n taamlike demper op die algemene bui geplaas, party ouens is selfs terug lounge en kroeg toe maar ou Gys was nie afgesit nie. Hy loop tussen almal rond en probeer getuies opkommandeer dat die polisie sy "kliënt hardhandig uit sy voertuig verwyder het" om nou sy presiese woorde te gebruik.
Die uiteinde van die saak is die vangwaens vertrek en vanuit die laaste wa se agterruit, eintlik agtersif, loer ou Gys en sy kliënt vir ons. Ons het vir hulle gewaai maar Gys en sy kliënt het nie teruggewaai nie.
22 * * *
'n Jaar of twee na bogenoemde insident is ek en my broer en ons meisies na 'n sokkie by Gys se huis, eintlik sy ma se huis waar hy en sy jonger broer, 'n polisieman, gebly het. Ek het hom intussen goed leer ken want hy was deel van my broer se vriendekring.
Die broer vermoed ek het 'n bietjie te vinnig begin flesvat, wou as't ware die studente wegdrink en hier driekwart in die sokkiejol in kom roep my broer my om te kom kyk na Gys se boetie. Hy lê op sy rug uitgestrek op 'n riempiesbank in die portaal en slaap, sy hande op sy pens gekruis. Dan, kort-kort, rek sy oë wyd oop en staar hy na die plafon en soos hy na die plafon staar, tuit sy lippe en peul daar 'n weense worsie by sy mond uit, seker so twee-en-'n-half sentimeter. Hy suig dan die worsie terug waarna sy oë weer toegaan en die proses herhaal homself dan weer met eentonige reëlmaat, seker so elke minuut.
Ons het hom maar naderhand wakker gemaak, voor hy stik of iets.
Jan Rap


Kommentaar
Jan,
Ek het ook 'n rukkie in Sunnyside gewoon in die 1960's, toe ek by die TPA gewerk het. Dit was aan die onderkant van Vlokstraat, naby die riviertjie. Privaat loseer.
Waar het jy loseer en wanneer?
Ek sal ook graag wil weet in watter rigting jy studeer het en watter vakke jy dan gedop het, want ek kan nie glo dat jy enige vak sou kon dop nie!
Groete,
Varkspek
Varkspek
In Sunnyside het ek in 'n buitekamer by drie ou tannies loseer, in Jorissenstraat, skuinsoor 'n kafee. Regoor die straat was nog 'n klomp studente wat by 'n tannie Joubert gebly het waar ek twee etes 'n dag geëet het. Daarna is ek na die Benlo-losieshuis toe in Sunnyside, regoor die poskantoor in Troyestraat (was dit nou nie vir jou 'n lekker plek nie!). Op daardie stadium was ek ingeskryf vir argitektuur. Daarna het ek en my broer 'n kamer gedeel in Bondstraat, naby Loftus, tot 1971 wanneer ek toe getrou het en in die Elsie Joubert-woonstel in Muckleneuk gaan bly het.
Groetnis.