Geheuekiekie 24
'n Hele tyd gelede ry ek en my pa iewers in Pretoria, daar naby die 'V'-gebou dink ek. My pa gesels land en sand in die passasiersitplek langs my en skielik hou hy op gesels, sak in sy sitplek af tot op sy rug en begin ritmies en met mening op die paneelkissie trap. Ek dog hy sien iets onheiligs by die deksel uitpeul.
"Wat gaan nou aan?" vra ek.
"Gwit man," sê hy, "jy't nou net deur 'n rooi lig gery!"
Geheuekiekie 25
Ons sit in die Duitse klas, vreesbevange soos gewoonlik en, seker van spanning, gaap ou Daan en ou Boel sien dit. Ou Boel roep hom vorentoe, gee hom sy knipmes en beveel hom om twee kannablare te gaan afsny en terug klas toe te bring. Doodsbleek kom Daan terug met die twee blare en ou Boel haal toe so ’n stuk wit sisaltou uit die skryfbehoeftekas en bind die kannablare styf weerkante van ou Daan se kop vas, sy oë is wydgesper soos die styfgespande tou sy voorkop vervorm. Hy’s ‘n haas, verduidelik ou Boel; hy slaap oopoë in die dag. Niemand waag dit om te lag nie en ou Boel gaan doodkalm voort om ons Duits te leer.
Jan Rap

