Gegroet, my hinterland

  • 0

Foto: Unsplash.com

Gegroet, my hinterland

Windverweerde gannabos
Tolbos deur die wind teen die draad gelos
Voetpaadjies deur die boesmangras
my blik streel die horison en ek wonder
oor my spore wat hier was
 
By Niekerkshoop, Groblershoop
En Kakamas

Waar draai my gedagtes vas?

Loop jy die stofpad na Copperton
of ry jy donkiekar na Warrenton?
Hier het ek myself geword 
Geboortegrond en bakermat 
Dankie Heer – niks kom ek kort

By Bakenberg en Grootdrink 
Daar is die lewe breed vir my ingeskink
hierdie droë vlakte maak my gedagtes vry

Heimat van my voorgeslag
dis daar waar my hart eens vlerke kry

In die aand kyk ek op na die wye Karoonag-hemel
waar die aarde se helderste sterre wemel
Ek stuur ’n gebed na bo
daar is net een ding wat ek vra
Heer – hou dit vir ewig so

Gegroet, my hinterland!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top