Geen bekendstelling nodig nie
Vliegtuie hef liggaamsruimte op,
forseer intimiteit met vreemdes.
In MANGO 32A armdruk ek met 32B,
nes ’n digbundel op ’n propvol prosarak. Soos ’n ouma
met kleinkindkiekies op ’n slimfoon, brand ek
om my broodvars iPad-vers vir hom te wys:
dit beeld kopvel as uitgetrapte mat,
bierpens as skottel deeg,
elke woord gepaard met anti-woord.
Ek sal benadruk dat metafore opsetlik soos spatare
oor kieriebene rank, en dat hy veral moet let
op die metrum wat tik soos ’n tydbom,
stiplees dat ereksie rym met disfunksie,
halfrym begeerte aan vergete heg.
32B, ’n Rastakapsel skateboarder, stoel helaas stomsmoel langs my:
pril gelokte kaktus van stekelrige jeug, T-hemp met zol gekrui.
Postmod Hermes-dye is sentrifugaal gebeits,
beur teen ripped jeans waardeur tattoos knipoog.
Deiktiese ruimte is klaarblyklik vir hom van geen nut nie:
swaartekrag elektrifiseer sy kopulasie met tydruimte
op sy vlerklose vlugplank. Hipnopompende oorfoon-rap
begelei sy hoog-op-boom.
Ek bly afgunsstil voor my raakskerm,
stel nie die Marley-kloon aan mý anti-materiemaat
voor nie, verkneukel dat dié reeds toeka medeskaatser
op Bob se glipplank is, met voorbedagte rade
op sy jong nekwerwels gerig.