
Foto: Canva
geel
ek hoop jou dag is geel –
nie die geel van skree of sonbrand nie
maar die sagte geel
van van gogh se sonneblomme
wat altyd draai na waar die lig woon
ek wens jou môre is ’n skilderdoek
deur ’n hand geskep wat pyn geken het
maar steeds
met elke kwashaal
liefde probeer vind het
mag jou donkerblou nag
net ’n tydelike hemel wees
soos daardie starry night
waar selfs die maan huil,
maar die lig steeds dans
jou trane is nie die einde van kleur nie
elke druppel verf ’n nuwe begin
selfs as jou hart breek
bly die geel daar –
skaam, maar getrou
en wanneer jy weer voel jy’s net ’n skets
onaf en gebreek
onthou:
van gogh het nooit sy eie lig gesien nie
maar kyk hoe helder brand sy werke nog
jou lig sal ook bly
selfs al voel jy dit nie nou nie


Kommentaar
Onbeskryflik mooi!