Reineth Prinsloo het besluit Mandeladag en die 67 minute diens hoef nie tot een dag per jaar beperk te word nie. Sy vertel van 'n lees- en boekeprojek wat aan Mandeladag gekoppel is, maar 'n langtermynbetrokkenheid van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van Pretoria in die vooruitsig stel.

Reineth vertel vir Naomi Meyer nog van die projek.

Hallo Reineth, vertel asseblief vir ons lesers wie jy is.
Ek is 'n senior lektor in maatskaplike werk by die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Ek spesialiseer in gesinsorg en in groepwerk asook in gemeenskapsdiensbetrokkenheid / akademiese diensleer. Ek is die voorsitter van die Fakulteit se gemeenskapsdienskomitee en veral verantwoordelik vir die integrasie van teorie in gemeenskapsbetrokkenheid in modules, waarvoor studente dan krediete kry. Die doel van die akademiese diensleer is om studente se sosiale verantwoordelikheid te bevorder. Hierdie projek is egter 'n vrywillige projek waar ons probeer om die dosente en die studente by gemeenskappe betrokke te kry.

Hoe werk die projek wat julle Departement in gedagte het?
Drie laerskole in Mamelodi is geïdentifiseer en hier word beoog om leeskamers in te rig.
Om die drie leeskamers in te rig, gaan verskillende groepe dosente en studente per keer na skole gaan om boekrakke te bou, te verf en alles vrolik in te rig. Wanneer dit klaar is, gaan hul dan in klein groepies na die skole om vir die klein kinders te lees en die onderwysers te help om die leeskamers sinvol te kan benut.

Hier is baie honger kinders in die land. Waarom fokus op 'n leesprojek vir Mandeladag?
Dit is so dat die kinders honger ly en 'n mens ignoreer dit nie. Daar is egter by al drie die skole voedingskemas. By al drie is daar lokale wat vir biblioteke opsygesit is en al drie die skole het boeke en boekrakke, maar dit word nie benut nie. Ek dink dit is enersyds omdat die onderwysers oorlaai is met tot 64 kinders per klas en andersyds omdat lees oor die algemeen verwaarloos word gesien in die lig van die internet en elektroniese media. Hierdie kinders het egter ook nie almal toegang tot die tegnologie nie. "Gee iemand ‘n vis, en hy het kos vir ‘n dag; wys hom hoe om vis te vang en jy voed hom vir ‘n leeftyd" - ietsie hiervan dryf my en die projek. As ons by kinders die wonder van 'n boek met kosbare woorde en prente en stories en feite en drome ens kan bevorder, dra ons by tot 'n leeftyd se groei en onderrig. As ons die leeskamers vrolik kan maak, en vol belofte van lekker kleure, mooi en interessante boeke, sagte kleurryke strooikussinkies en matte waarop die kinders kan sit en lê en lees, kan ons dalk die saadjie saai wat die wonderwêreld van boeke oopmaak. Ons fakulteit kan dalk selfs later geletterdheidsklasse vir volwassenes in hierdie lokale aanbied.

Hoe het julle die drie skole waarop jul fokus, gekies?
Die universiteit het 'n sentrale gemeenskapsdiensafdeling wat alle vennootskappe met gemeenskappe koördineer. Sodra studente en/of dosente by 'n gemeenskap betrokke raak, word dit by hierdie afdeling geregistreer. Die ander kant van hulle taak is om ook vennootskappe met rolspelers in die gemeenskappe te sluit en volledige behoeftebepalings te doen. Ek het hierdie drie skole al verlede jaar saam met een van die koördineerders gekies omdat hulle, na aanleiding van die behoeftebepalings, die grootste behoefte aan hulp met boeke en biblioteke gehad het en steeds het. Ons taakspan het aan die begin van Mei na die skole gegaan, die behoeftes van die skoolhoofde en onderwysers aangehoor en daarrondom beplan. Dit is dus nie 'n projek wat van bo op die skole afgedwing word "omdat ons het en julle nie het nie". Dit is 'n volledige vennootskap met al die rolspelers betrokke.

Vertel vir ons van jul eerste fase van werksaamhede wat op 1 Junie afgeskop het – en wys ook vir ons 'n paar foto's, asseblief.
'n Groep van ongeveer 30 studente (daar was meer as wat ek verwag het en dit het my stoutste verwagtinge oortref!), drie dosente en ons dekaan, Norman Duncan, het Saterdag by die Dr IM Monare Primary School ingeklok. Ons het die boeke wat reeds in die vertrek was, uitgedra en onder Leti se bekwame leiding het die meisies die boeke begin sorteer. Ons beplan om die boeke wat vir elke ouderdomsgroep geskik is, met gekleurde plakkers te merk om dit vir die kinders en die onderwysers makliker te maak. Daarna het die mans die baie gevaarlike onstabiele boekrakke afgebreek. Volgende Saterdag word die gate in die mure opgevul en die voorbereidings vir die verfwerk gedoen. Die verf sal die volgende naweek gebeur. Twee honneursstudente by ons joernalistiekdepartement het foto’s en video’s geneem en hulle sal dit in die week vir my aanstuur. Ek sal dan daarvan vir jou stuur. Daar is vir my min dinge so bevredigend as om te sien hoe so 'n projek ontvou. Die samewerking, toegeneentheid en geesdrif van die skoolhoof en die onderwysers, die studente wat met mekaar bind, grappies maak en soos een man saam werk, die doelwitte wat stelselmatig die een na die ander werklikheid word, die feit dat 'n mens en ons as fakulteit en universiteit regtig op grondvlak 'n verskil in mense se lewens maak - dit maak dit alles die moeite werd. Dit was groot pret!

Wat kan lesers doen om te help – en wat kan hulle vir julle stuur, en waarheen?
Ons sal baie dankbaar wees as ons boeke kan ontvang wat geskik is vir laerskoolkinders, en veral dan boeke vir 5- tot 7-jariges. Die boeke moet verkieslik in Engels of in een van die amptelike tale wees. Afrikaanse boeke gaan in die skooltjies deurgeblaai kan word, maar nie noodwendig gelees kan word nie. Opvoedkundige speelgoed, plakkate vir die mure, byvoorbeeld van diere, kossoorte, plante ens, sal welkom wees. Gekleurde strooikussings en "klein" meubels – tafeltjies en stoeltjies – sal ook help.
Ek is nie seker presies hoe ek moet antwoord oor die "waarheen" nie. My spaarkamer hier by die huis is tans die stoorkamer vir boekdonasies omdat plek by ons fakulteit beperk is. Lesers kan my dalk per e-pos kontak by reineth.prinsloo@up.ac.za en dan kan ons sien hoe ons die skenkings kan akkommodeer. Dalk sal enige geldelike donasie ook nuttig wees. Ons maak gordyne vir die lokale se vensters en gaan beslis nog boeke moet aankoop as ons nie genoeg skenkings kry nie. Die geld kan by die universiteit inbetaal word en dit kan dan aan ons Fakulteit se Community Engagement-kostepuntrekening oorgedra word. Ek kan al daardie inligting ook aan lesers verskaf as hulle my kontak. Ek vlieg op 5 Junie Boston toe, waar ek 'n referaat by 'n kongres lewer, maar is weer volgende Dinsdag, 11 Junie, terug. Ek sal dan opvolg.






|
Versoek vanaf Reineth Prinsloo: Is daar enige lesers wat Engelse boeke kan skenk, veral vir kinders 5–8 jaar? Die kinders praat nie een taal nie en daarom is dit nogal moeilik om te bepaal op watter een mens moet fokus. Kontak asseblief vir Reineth by hierdie adres: reineth.prinsloo@up.ac.za |

