Aan die begin van die jaar het ek 'n Kindle-leesmasjien aangeskaf. Eintlik is dit 'n binnekamersaak, maar omdat ander mense daarby kon baat, het ek oor my ondervinding geskryf (SêNet 9 Jan). Sedertdien lyk dit vir my asof elektroniese teks al hoe meer in algemene gebruik kom. Leesmasjiene met 'n verskeidenheid handelsname word teen ongeveer 'n duisend rand elk geadverteer. Uiteraard is die vraag watter een 'n mens behoort te koop. Sonder geskikte programmatuur is 'n rekenaar waardeloos. Insgelyks is nie net tegniese voortreflikheid by 'n leesmasjien van belang nie, maar ook watter leesmateriaal beskikbaar is.
Ek hou nie meer rekord van alles wat ek gelees het en in watter bron dit was nie, maar êrens is berig dat daar by die Franse en Japanese weerstand teen e-teks is. Dit is toegeskryf aan die aard, veral die beperkte omvang, van wat beskikbaar is. Die Suid-Koreaane, daarenteen, aanvaar e-teks in 'n baie groter mate. Anders as wat 'n mens sou verwag, maak bejaardes in Duitsland glo meer geredelik as jongmense van e-teks gebruik. Faktore wat hier 'n rol kan speel, is dat die lettergrootte van e-teks verstelbaar is en dat e-teks tuis afgelewer word. In die VSA word boekverkope in e-formaat op 15 tot 20% gestel, teenoor 12% in Brittanje.
Ek is glad nie 'n rekenaar- of foefie-besete mens nie. Ek verkies om dinge eenvoudig en masjienloos te hou. Sowel die rekenaar as die leesmasjien het egter hulle waarde bewys. Ook was dit reg om die Kindle met 3G-verbinding te koop, want 'n verlangde boek is binne 'n minuut of twee vir lees beskikbaar. Onlangs het ek die waarde hiervan op nuut besef toe ek tien pleks van die verwagte drie dae elders moes deurbring. Ek hoef nie meer 'n stapel boeke rond te karwei nie. Die leesmasjien het my lewenskwaliteit 'n hupstoot gegee. Plaaslik het die prys van hierdie Kindle intussen van R2 600 tot R3 000 gestyg, waarskynlik weens die verswakking van die rand. Oor die uitsonderlike doeltreffendheid van Amazon se dienslewering bestaan daar geen twyfel nie. Ook is die omvang van die leesstof wat van daar af vir die Kindle beskikbaar is, indrukwekkend.
Soos met nuwe tegnologie verwag kon word, is daar beperkings. Enersyds is e-teks in verskillende formate beskikbaar. Hoewel moontlik die bekendste en gewildste, is Kindle net een van hierdie formate. Omdat ek dit vermoeiend vind om 'n boek op die skerm van 'n note- of netbook-rekenaar te lees, het ek dit onlangs nodig gevind om 'n tabletrekenaar aan te skaf. Dit bied die voordeel dat ek nie-Kindle e-boeke kan aflaai en hulle in my leunstoel kan lees. My ondervinding hiervan is nog te beperk om nou reeds meer hieroor te skryf.
Andersyds is die produksie van e-teks baie jonger as dié van gedrukte teks. Hoewel groot en vinnig vordering gemaak word, is baie gedrukte teks nog in geen elektroniese formaat beskikbaar nie. Dit is dus voortydig om, soos elders op LitNet, te beweer: "Nooit weer is 'n boek nie beskikbaar nie." Wat e-geformateer word, is uiteraard veral daardie tekste waarvoor daar (groot) aanvraag bestaan, dus handelswaarde het. Klassieke tekste is algemeen in verskillende e-formate beskikbaar en omdat die kopiereg verstryk het, kan hulle goedkoop of selfs gratis aangeskaf word. Nuwer gedrukte tekste, sê van die afgelope tien jaar, is ook geredelik in e-formaat beskikbaar. Die neiging is deesdae om boeke van die begin af in sowel gedrukte as elektroniese formaat te publiseer. NB-uitgewers het onlangs meer as 750 van hulle publikasies as e-boeke by plaaslike en oorsese verspreidingsondernemings beskikbaar gestel. Maar om die verkoopprys dieselfde as die van die gedrukte uitgawe te hou, toon dat daar nog glad nie by die ekonomie van e-boekhandel aangepas is nie.
Maar tussen hierdie twee uiterstes van lank gelede en onlangs is daar baie leesstof wat nog nie elektronies beskikbaar is nie. Ek vind dit dus steeds nodig om ook gedrukte boeke aan te koop. Omdat 'n beperkte verskeidenheid in die plaaslike winkels as nuwe en tweedehandse boeke beskikbaar is, moet ek my soms tot die invoer van gedrukte boeke wend. Wat in sodanige geval belangrik is, is dat goedere soos boeke nie meer per skip nie maar per vliegtuig versend word. Die voordeel is dat 'n boek baie gouer arriveer, maar die nadeel is dat versendingskoste meer as die koopprys kan beloop. Dit is veral duur as boeke van ver af, bv die VSA, ingevoer word. Van bv Brittanje en Europa is die versendingskoste aansienlik goedkoper. Daar is ondernemings wat aflewering na enige plek by die verkoopprys insluit.
Benewens die versendingskoste moet ook invoerbelasting op gedrukte boeke betaal word. Tans word doeanebelasting nog nie op e-boeke gehef nie. Tydens die afgelope begroting is egter aangekondig dat dit vorentoe gaan gebeur. Die argument is dat dit onregverdig is om gedrukte boeke te belas, maar nie e-boeke nie. Dit sou sekerlik in selfs groter mate regverdig wees as boeke, verkieslik alle leesstof, van belasting vrygestel word, maar talle vertoë hieroor oor baie jare het op dowe regeringsore geval.
Die belangrike punt wat ek wil stel, is dat ek vind dat ek geneig is om eerder die e-boeke as my ten duurste ingevoerde gedrukte boeke te lees. Dit het niks met die onderwerp van die betrokke boeke te make nie. Dit het alles te make met die onomstootlike feit dat dit vir my geriefliker is om 'n e-boek op die Kindle as 'n gedrukte boek te lees. Ek lees die e-teks makliker en vinniger. Bowendien hou ek daarvan om die presiese betekenis van 'n woord te weet en dit word dadelik verskaf as ek op die e-woord druk. Onderaan die virtuele bladsy word aangedui hoeveel leestyd tot die einde van die hoofstuk en tot die einde van die boek nodig is, asook watter persentasie van die boek nog ongelees is.
As 'n mens oor 'n e-boek wil skryf, bv iets daarin wil naslaan, is dit moeiliker as by 'n gedrukte boek. Vir verwysing is daar pleks van bladsynommers pleknommers, wat minder spesifiek is. Dit is so omdat die hoeveelheid teks op 'n virtuele bladsy verstel kan word. Wanneer ek Kindle-pleknommers in my skryfwerk aandui, gebruik ek die nommer onderaan my e-bladsy. Ek sorg dat die aanhaling op daardie bladsy begin, maar nie noodwendig ook daarop eindig nie. Dit maak die aanhaling die maklikste hervindbaar. Dit is nie so presies soos die verskaffing van bladsynommers nie omdat as 'n mens weer deur 'n e-teks gaan, dit gebeur dat die pleknommers verskil van die vorige keer. Dit maak sin om na bladsy 14 tot 15 te verwys, want die gedrukte teks sit vas op die bladsy, maar dit het min sin om te skryf dat die plek van 'n aanhaling Kindle 108 tot 112 is. Dit moet aanvaar word dat die aanhaling om en by K 108 opgespoor kan word.
Een van die jongste artikels wat die gedrukte bladsy teen die virtuele bladsy opweeg, is Ferris Jabr se "The reading brain in the digital age: the science of paper versus screen" (Scientific American, 11 April). Op die internet is daar onderaan hierdie artikel ook interessante kommentaar. Wat nie daar genoem word nie, is dat die fisiese afwesigheid van 'n e-boek nie noodwendig 'n nadeel is nie. Bejaardes (wat progressief minder ruimte in beslag neem, bv in die ouetehuis, totdat hulle uiteindelik hoogstens 'n akkertjie van skaars twee meter by een meter gegun word) en bv gevangenes kan boeke sonder volume verkies. Verder, as 'n mens 'n leesmasjien het wat die teks belig, kan jy ononderbroke uit die dag tot in die nag voortlees sonder om 'n lig aan te skakel.
Die nie-fisiese aard van 'n e-boek word deur Jabr as "haptic dissonance" gekarakteriseer. Hy wys tereg daarop dat die gedrukte boek "more obvious topography" het. Andersins noem hy baie van die sake wat ek hierbo aangeroer het. Die volgende bewering is myns insiens twak: "The brain literally goes through the motions of writing when reading." Die volgende opmerking is myns insiens foutief: "Books on the Kindle can only be loaned once." Die e-boeke wat ek by Amazon gekoop het, is my eiendom en bly onbepaal leesbaar op my masjien. Enigeen kan dit daar kom lees, maar ek kan die teks nie na enig iemand anders se rekenaar of leesmasjien oordra nie.
Om aanvaarbaar as leesstof te wees, moet 'n virtuele bladsy "as close to reading on paper as possible" wees. Maar daarnaas "evolve screen-based reading into something else." Ek het aangedui in watter opsigte 'n e-bladsy reeds ekstra voordele bied. Dit is soortgelyk aan die posisie van bv die e-koerant wat die teks van die gedrukte koerant kan oorstyg deur gouer die jongste nuus beskikbaar te stel, video-materiaal in te sluit, kitstoegang tot soortgelyke items te verskaf, leserskommentaar onderaan die berig te publiseer, ens. Gedrukte teks het aanvanklik handskrif nageboots. Motorontwerp het aanvanklik perdekarre nageboots. Mettertyd word die nuwer tegnologie al hoe meer ingevolge eie potensiaal ontwikkel en hou die ouer tegnologie op om as model te dien.
Johannes Comestor

