
Foto: Canva
GEDAGTES OOR ’N NOTA UIT DIE TRONKAANTEKENINGBOEK NR.8 (1930–1932) VAN ANTONIO GRAMSCI, TOE HY OP TURI DI BARI AANGEHOU IS
vir mlr
die revolusionêr noteer daar: in maart 1932 se l’italia che scrive skrywe luigi tonelli
oor pietro mignosi se boek epica e santita, en tonelli wat opmerk
hoedat die werk ’n pragtige kanto bevat –
nogal so in die trant van ’n rimbaud –
ter ere van al die “arme diere,”
(met hierdie paar reëls dragtig ingeslote):
“wurms en muise,
vlieё en luise
en digters
kan al die wêreld se wapentuig
nie uitgewis kry nie”
*
want al was federico lorca vier jaar later in melancholiese granada
self alleen voor die koeëls van fascistiese geweers afgesonder
met ronkende bomwerpers omheen wat die lug verdonker
(as maar net een enkele sprekende voorbeeld uit die gal van die laaste eeu)
leef homeros en sappho en hy en elkeen van die ander ongeskonde
blywend voort in die kollektiewe bloedlyn van beelding en sange

