Gedagtes oor kabaret: Dorothea van Zyl in gesprek met Hennie Aucamp

  • 0

 

En so kom ons aan die einde
van 'n aand vol troebel pret -
want "troebel pret" is - met permissie -
die somtotaal en definisie
van hierdie hoerkind:
KABARET.

Dit bied 'n leunstoel - sonder leuning -
en noem sy hoofdis: as-met-heuning;
dit sien die skedel agter vlees -
al sou dié vlees hóé prima wees.

Kom, klink 'n loopdop op die lot
en sit hom toe met:
EDELVROT!
(Uit: Oudisie! 1991)

 

 

Hennie, jy word volledig vereenselwig met kabaret in Afrikaans. Wil jy iets oor jou vroeë kennismaking met kabaret sê?

Dit het hier op Stellenbosch gebeur. Professore Con de Villiers en Erika Theron het die vooroorlogse Duitse kabaret persoonlik meegemaak, en veral dr Con kon lank uitwei oor byvoorbeeld Claire Waldoff wat in breë Berlynse dialek - "aangeleeg, hô" - met almal gespot het, veral met mans. Sy was lesbies van aanleg, wat haar gehoor weldeeglik geweet het, en dit het ekstra peper aan haar lewering van "Raus mit den Männern!" ("Chuck out the men") verleen.

Ek onthou hoe prof Erika Theron voor die Musiekvereniging gepraat het oor Kleinkuns in die Berlyn van vroeër. Kleinkunst en Literarisches Kabarett was die terme wat sy gebruik het. Sy was veral geesdriftig oor Fritzi Masary, wat die liefling van die operette-publiek was, maar talle van Masary se operette-arias was suiwer kabaretmatig. "Waarom," vra sy in een van haar lewerings, "Waarom sal 'n vrou [bedoelende getroude vrou] "dan geen buitehuwelikse verhouding daarop nahou nie?" En haar verleiding - dis nou as Potifar se vrou - van die kuise jong Josef, is net toegelaat omdat sy teenoor haar wettige man gespeel het.

Dr Con het by sy Sondagse "at homes" tussen Bach en ander groot kanonne deur 'n reeks kabaretsterre ingesmokkel: Greta Keller, Zarah Leander, Eartha Kitt, Lucienne Boyer.

"Aucamp," het dr Con my geterg, "ek weet wat jou so aantrek omtrent die kabaret. Dit drup van die hormone."

Vreemd genoeg het dr Con 'n "blinde kol" gehad vir Brecht. Brecht het ek by Frits Stegmann, nóg 'n groot musiekgees in Stellenbosch, leer ken; natuurlik Die Dreigroschen Oper met die onverganklike musiek van Kurt Weill. En ook by Bill de Klerk. Maar dit is eintlik Robert Mohr en Arnold Blumer wat my wegwys gemaak het in die wêreld van Brecht. Brecht was die grootste en blywendste invloed op my kabaretwerk.

Hoe het jou praktiese ervaring van kabaret op Stellenbosch verloop?

Dit het met die nooit volprese insette van Marie van Heerden in die Libertas-teater op die Markplein in Stellenbosch begin. Sy het my tikwerk gedoen, maar sy was ook 'n aktrise, en bowenal 'n gevoelige regisseuse. Omdat sy my werk via tikwerk geken het, het sy my gevra om die verhaal "Wolf, wolf hoe laat is dit?" vir die verhoog te verwerk. Dis sy wat die inval gekry het dat daar liedjies in 'n sekere Aucamp-program moet wees, en haar toneelseuns, Johann en Marcel, het Jannie Hofmeyr na haar toe gebring. My eerste volwaardige liedteks was "Die lewe is 'n grenshotel", en dit was ook Jannie se eerste volwaardige toonsetting. Ons het lank saamgewerk, maar hy het later 'n behoefte aan vryer liedtekste gehad, en toe het hy 'n kabaret saam met Etienne van Heerden geskep, Ekskuus vir die wals, geregisseer deur Johann van Heerden.

Ek kan dit só stel: die eerste "been" van my kabaretfase in Stellenbosch was 'n Van Heerden-"been". Ek het Dooierus aan Marie en die ander Van Heerdens opgedra: Marcel, Marjorie, Johann. En Wolwedans: 'n soort revue, is opgedra aan Ernst van Heerden, wat die eerste pleitbesorger vir my liedtekste was.

En toe kom die Amsterdam-ervaring en 'n studietyd in Amerika waarvan jy my vertel het?

Op pad New York toe in die tagtigerjare het ek 'n paar dae in Amsterdam oorgebly, en daar het ek 'n ervaring gehad wat 'n beslissende uitwerking op my kabaretbelangstelling gehad het. 'n Program - Alle laatjes oopen, of so iets - het hulde gebring aan liedteksskrywers - of was dit nou net één liedteksskrywer, Guus Vleugel? Daar was twee vleuelklaviere op die verhoog, en vier deurwinterde kabaretsangers en toneelspelers, Conny Stuart, Gerrie van Klei, Paul Deen, Willem Nijholt. Dís die soort kabaret wat ek wil bedryf, het ek besluit: kabaret as literatuur.

Reeds in New York, by die Teacher's College, Columbia, het ek kabaretsketse begin skryf. Terug in Stellenbosch het ek Herman Pretorius genader oor 'n kabaretaand. Ons planne het al groter en groter geword; al hoe meer komponiste, al hoe meer spelers is betrek. Dit was 'n wonderlike tyd, die voorbereiding vir Met permissie gesê; ons was so doldapper as wat net beginners kan wees. En Herman Binge het 'n borg bedink, en ons het met die Musiek- en Kunsdepartemente van die Universiteit onderhandel, want ek wou die Gesammtkunst-beginsel van die Weimar-kabaret deurtrek na Stellenbosch.

En toe reël Rosa Keet dit dat Met permissie gesê na die Markteater in Johannesburg gaan, met 'n fabelagtige rolbesetting - Amanda Strydom, Laurika Rauch, Bill Curry, Sam Marais, Annelize van der Rijst, Clarabelle Van Niekerk, Gerben Kamper, wie nie almal nie - onder spelleiding van Janice Honeyman.

Rosa Keet en Merwede van der Merwe se magtige insette ter bevordering van Afrikaanse kabaret mag nooit vergeet word nie. Daar was reekse TV-programme, duur en verbeeldingryk aangebied, en daar was Merwede se twee epogmakende simposiums, Musiek & Liriek, eers in Johannesburg, toe in Stellenbosch.

Meanwhile back at the ranch: Etienne van Heerden het twee vollengte-kabarette geskryf, Arnold Blumer het toegetree tot die kabaret en self 'n vollengte-kabaret geskryf, en teorie en vertalings verskaf wat kabaret 'n ferm Europese basis gegee het; Anthony Costandius het op die toneel verskyn; Jannie Hofmeyr het bly komponeer.

Maar my antwoord streef jou vraag verby, Dorothea. Een ding wil ek beklemtoon: die geskiedenis van kabaret in Afrikaans is nog nie geskryf nie, en moet spoedig gebeur, voordat ál die belangrikste rolspelers oorlede is of geëmigreer het. Die alte vroeë dood van eers Stephan Bouwer, toe Arnold Blumer, het kabaret in Afrikaans gevoelig geknou, en dr Herman Pretorius woon en werk nou in Australië. Waar, o waar, bevind Merwede van der Merwe haar?

Wat verstaan jý onder kabaret?

Ek probeer my opvattings omtrent kabaret op my ervarings van Europese kabaret in Duitsland en in Nederland baseer, asook op uitsprake van kabaretkundiges in hierdie lande. Ons moet onthou dat moderne kabaret meer as 'n eeu oud is, en sy wortels ver in die verlede het, soos in Middeleeuse moraliteitspele en "sotterniën".

Kabaret is in sy wese op lering ingestel, maar lering deur middel van vermaak. Oorheers die lering-aspek, raak die gehoor verveeld; oorheers die vermaak, sit jy met nóg 'n verskeidenheidskonsert, wat baie plesierig mag wees, maar homself nie kabaret durf noem nie.

Selfs in die Weimarjare is daar tussen Kabarett en Cabaret onderskei. Kabarett (met 'n dubbel-t) was ernstige vermaak, met 'n sterk literêre inslag; Cabaret weer het sinneprikkeling voorop gestel.

My eie definisie? Kabaret is 'n teaterverrigting wat hom van die woord, musiek, mime, skaduspel en dans bedien, maar altyd met 'n intellektuele basis en verkieslik met 'n sterk oorkoepelende tema wat op doodsondes in die maatskappy toeslaan.

Wie is, volgens jou, ons belangrikste kabaretsterre?

Ek is nie meer intens betrokke by kabaret nie, en gaan nie meer in die aand uit nie, maar ek sou sê Pieter-Dirk Uys, Casper de Vries, Nataniël en David Kramer het elkeen 'n unieke bydrae gelewer, en lewer dit nog steeds, en natuurlik Amanda Strydom, wat haar eie tekste skryf, sing en speel.

Pieter-Dirk Uys is 'n volhardende politieke kabarettis, en behou hom die reg voor om enige politieke party die les te lees, maar altyd hoogs toneelmatig, hoogs vermaaklik. Casper de Vries is 'n skerpskertser (stand-up comedian); Nataniël is 'n fantas met 'n merkwaardige musikale intelligensie; David Kramer betrek gemarginaliseerde talente, ons almal tot voordeel. Soos Amanda Strydom skryf die gemelde here hul eie tekste, wat hulle in 'n besonderse kategorie plaas.

En verder is daar Coenie de Villiers, wat sy eie MC is, en Jannie du Toit en Christa Steyn, wat al hoe meer monoloë en tweesprake in hul programme indra, in die allerbeste Karl Valentin-trant, en Richard Van der Westhuizen en Lochner de Kock wat óók uitstekende sangers en toneelspelers is. En Laurika Rauch. O, ja, ons hét sterre, en dié wat ek so pas genoem het, kan hulle ook in die buiteland handhaaf, in Londen, Nieu-Seeland en, grootste toets van almal, in die Lae Lande, wat 'n baie sterk kabarettradisie het.

Ek laat voorlopig liedteksskrywers uit, want dan raak my lys te lank.

Dorothea, ek moet beklemtoon dat my lys voorlopig is en uiteraard leemtes het. Waarop ek in die eerste plek gelet het, is die kabaretmatige van die bydrae van die gemeldes.

Jy het in 1994 gesê dat jy klaar is met kabaret. Voel jy nog só?

Ek het in 1994 uitgetree as dosent in Stellenbosch en het Kaap toe getrek. Hiermee het ek ook afskeid geneem van my "laboratorium", die Dramadepartement van Stellenbosch. Die Universiteit, of meer presies gesê, die Departemente Musiek en Drama, het my kabaretboekery en -plateversameling aangekoop en in die biblioteek en diskoteek van die Konservatorium tuisgebring. My kabaretdokumente is in die Dokumentesentrum van die KGB, maar word helaas nie naastenby genoeg benut nie.

Ek gee nog raad van die kantlyn af, maar nuwe navorsing, veral in die buiteland, is gebiedend as kabaret in Afrikaans nie in 'n paar plaaslike clichés versand wil raak nie.

Waar staan die kabaret vandag?

Ek reis nie meer nie, vanweë gesondheidsbeletsels, en weet dus nie presies wat die huidige stand van kabaret in Europa is nie.

Ek het die ongemaklike gevoel dat kabaretsterre na pop-status begin streef en toenemend voor groot gehore, selfs in stadions, optree - ja, ook Liesbeth List - met al die klankversterking wat reëlreg teen die intieme segging van ouwêreldse kabaret ingaan. Is kabaret dalk besig om 'n pop-verrigting met intellektuele pretensie te word? Ek kan maar net saam met EM Foster sug: Two Cheers for Democracy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top