
Foto: Canva
Gebede by die wisseling van die getye
Eb
Klanke stroom ver uit, vol van liefdestrou.
Die see gaan nou rustiger meer en meer uit,
streel met ’n lied soos ’n antieke luit.
Tóé: die ligter kleure van groen en blou;
hoe goed is nou die sondeurstraalde sproei
van goue golwe wat lieflik oopbreek,
soos ’n fluit wat die klank verlief smeek
en in die wonderbare daglig gloei.
Die son knipoog gou oor die verre kim,
maar helder is die speelspontane wind
en wolkies wat nou strengel tot ’n lint,
die son omring tot silwersee se glim.
O Heer, laat ons tog U seën sien leef
as die lieflike kleure ons so omgeef.
Vloed
Die son spieël in die blink getye
met sonderling die spoelinge van lig,
die aanskyn van die lewe wat inwig
in die see se weifelende buie.
Dolfyne, versigtig speelse vryheid,
en bruin robbe wat in die water dryf
is bly in die golwe se stil gestuif,
van die seediere tot die lof bereid.
Kyk die seevoëls sal hemelwaarts roep,
draaiende in die gloed van die seeson,
sweef met spierwitte vlerke oopgesprei,
oomblik onbewus van die plassergroep.
O Heer, neem ons ook so saam met U op reis,
en laat ons U ter lug en see ewig prys.
Springgety
Verwoestend breek reusedeinings sand oop,
oorrompelend in die woedebuie,
veroweraars wat dood beduie,
en die slakke van hulle doppe stroop.
Hoog teen die wande van die strande val
die karkasse van somber seediere
en reste van bamboes en seewiere
tekens van die kille laaste verval.
Diep het die see se donker stem gedreun
oor eindtye in die verwoesting,
verpletterend die dode opgedring
vernietigde strand en aarde wat kreun.
O Heer, dit is so onstuimig om my,
laat ek my nederig geëb aan U wy.
Dooiegety
Alles het stil geword in die nuwe dag.
Die seespieël van son wat saggies dein,
vervloë verhale nog steeds uitsein,
net soos sterre se lig uitgaan in die nag.
Die see gaan dankbaar na gruwels weer rus,
met golwe wat nie meer oplig en ruis,
met die bedreigings wat nie meer opbruis
nie, maar wat vry is van drif en onrus.
Die oseaan is ’n mooi blomtuin, voorsien
van die rus wat nou oral vir ons wag,
met dolfyngeplas wat die golwe uitlag;
die waarlik geseënde einde sien.
O Heer, laat alles in U nou verstil,
tot stilstand, in die lewe van onwil.


Kommentaar
Pieter, baie dankie vir en geluk met sulke voortreflike gedigte.