
FP van der Merwe (deur die Italiaanse skilder, Gino Mazzoli, in 1956)
Vir Marianne
Die wêreld van menslike uitnemendheid het geen grense nie. Sulke begaafdhede voldoen baie keer aan die klassifikasie van genialiteit, of grens ten minste daaraan. Ons hoor of lees van sulke mense, maar soms is hulle op die agtergrond, sonder ’n aptyt vir die verhoë van die glanswêreld. Die media en ons is só geneig om staatsmanne, akteurs, sportlui, akademici, filosowe, musici en andere te vereer en op trone van roem te plaas – dit is goed so, want ons moet daarvan weet. Maar dan gebeur dit ook dat die bewuswording en erkenning van sekere uitnemende mense eers na hulle afsterwe volg.
In 2024 (15 April) lees ek die bydraes in die briewekolomme van die Volksblad. My aandag word getrek deur ’n brief van Hennie van Deventer. Dit is in die vorm van ’n persoonlike huldeblyk aan oud-appèlregter, Gustav Hoexter. Hy is in 2024 in die ouderdom van 100 jaar oorlede. In ’n uitsonderlike brief beskryf Hennie die unieke wese en begaafdheid van Hoexter – nie net as ’n uitstaande professionele juris nie, maar ook sy wese as ’n wonderlike mens en vriend. Hy verwys na Hoexter as “... nie een vir die kollig nie”. Die brief het my bygebly tot vandag toe.
My gedagtes dwaal onwillekeurig na ’n persoon wat in Hennie van Deventer se kategorie van uitsonderlike mense sal val. Sy naam is Frederick Philippus van der Merwe, gebore op 16 Oktober 1917 in Krugersdorp. Sy familie en vriende het hom Fritz genoem. Sy geboorte was gevolglik net voor Afrikaans in 1925 amptelike status sou verwerf. Sy onbetwiste rol in die uitbouing van Afrikaans as taal, sou op daardie vroeë stadium nie voorsien kon word nie. Fritz van der Merwe was ’n oom van my, ’n jonger broer van my pa. In die skrywe wat volg sal ek probeer om sy uniekheid en uitnemendheid te beskryf. Of ek reg aan sy verhaal sal laat geskied, weet ek nie – ek kan maar net probeer.
Ek het nooit die voorreg gehad om oom Fritz te ken nie. Hy was een van agt kinders - vier seuns en vier dogters in die Van der Merwe-familie. Sy geboorte en grootword was in moeilike jare vir die Afrikaner-gemeenskap: Die nasleep van die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902); die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918); die Spaanse Griep-pandemie van 1918-1919, plaaslik bekend as die Groot Griep; die Groot Depressie van die 1930s; en later, die verwoestende impak van die Tweede Wêreldoorlog.
Die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaner-gemeenskap diep gewond gelaat. Die oorlog het plase verwoes en families ontwortel. Baie Afrikaners het teruggekeer na verwoeste plaasopstalle, sonder vee en infrastruktuur, en moes die moeilike taak aanpak om hul lewens onder Britse bewind te herbou. Ekonomies was hulle verarm en emosioneel het hulle die trauma van verlies en vernedering gedra. Polities het hulle gesukkel om hulle identiteit te handhaaf in ’n stelsel wat die verengelsing van onderwys en administrasie bevorder het. Dit het ’n tydperk van ’n lang soeke na kulturele oorlewing en selfbeskikking ingelei.
Die Eerste Wêreldoorlog het nuwe uitdagings gebring. Afrikaners was verdeeld. Sommige het Brittanje gesteun, terwyl ander weerstand gebied het en die oorlog as ’n nuwe vorm van imperiale dwang beskou het. Die Rebellie van 1914, waarin Afrikaner-nasionaliste teen deelname aan die oorlog opgestaan het, het die diepte van die wrok getoon. Die oorlog het ook verstedeliking versnel, waar Afrikaners dikwels deel van ’n sukkelende werkersklas geword het.
Die Spaanse Griep-pandemie het die swaarkry in die Afrikaner-gemeenskap vererger. Dit het met ’n verwoestende spoed deur Suid-Afrika gespoel en tienduisende lewens geëis. Afrikaner plattelandse gemeenskappe, reeds verswak deur armoede en swak mediese infrastruktuur, is veral hard getref. In hierdie tydperk staan die Van der Merwe-gesin weens die griep-pandemie een van die vier dogters aan die dood af.
Die Groot Depressie het gekom op ’n tydstip toe Afrikaners nog steeds gesukkel het om te herstel. Dalende landboupryse het kleinboere verwoes. Baie van hulle was Afrikaners wat van bestaansboerdery en marginale grond afhanklik was. Stedelike Afrikaners het swak betalende werk, werkloosheid en armoede in die gesig gestaar. Hierdie ekonomiese krisis het die “armblankeprobleem” vererger, ’n sosiale kwessie wat sentraal tot die Afrikanerpolitiek geword het. Dit het bewegings aangevuur wat daarop gemik was om Afrikaners op te hef.
Die opeenvolgende ervarings deur die Afrikaners het ’n harde maar beproefde gemeenskap gevorm. Die littekens van die gebeure het ’n kollektiewe geheue van lyding en oorlewing geskep. Uit hierdie beproewings het ’n gevoel van Afrikaner-nasionalisme ontstaan, ’n vasberadenheid om taal, kultuur en ekonomiese sekuriteit te beskerm. Teen die 1930s het hierdie sentimente begin kristaliseer in politieke bewegings wat Suid-Afrika se koers vir dekades sou bepaal.
Die aanloop en koms van die Tweede Wêreldoorlog het sy eie merk op die Afrikaner-gemeenskap gelaat. Polities was dié gemeenskap verdeeld: sommige het simpatie met Duitsland gehad, ander het die Unie se deelname aan die oorlog gesteun. Ná die oorlog het jong Afrikaners die uitdaging gehad om hul plek in ’n veranderende ekonomie te vind, met toenemende verstedeliking en die behoefte aan beter opleiding. Die ervaring van armoede, verdeeldheid en aanpassing het hul identiteit en nasionale bewussyn diep gevorm.
Hierdie wye draai vertel die verhaal van die omstandighede en uitdagings waarmee die Van der Merwe-kinders in hul jonger jare gekonfronteer was. Jong Afrikanermans in die 1930s het dikwels vroeg skool verlaat weens armoede en ’n gebrek aan ekonomiese geleenthede. Hulle het meestal eenvoudige, lae beloningswerke gedoen soos landbouarbeid, spoorweg- en padbouwerke, mynwerk en ander basiese kontrakarbeid. Fritz en sy ouer broer, Boet (soos die familie hom genoem het), was geen uitsondering binne die Afrikaner-gemeenskap nie. Hulle moes hulself finansieel onderhou en beide verlaat skool reeds na standerd ses (graad agt deesdae).
Fritz van der Merwe betree in alle erns die uitdagings van die volwasse wêreld in 1932 nadat hy skool verlaat. Hoewel sy opsies min was, gee hy sy eerste treë met ’n vindingryke ondernemingsgees, maar ook die naïwiteit van ’n vyftienjarige. Aanvanklik soek hy werk in Pretoria, die stad van sy kinderjare, maar sonder wesenlike sukses. Hy gaan sit nie in sak en as nie en probeer allerlei inisiatiewe om ’n inkomste te verseker. Op sy jong ouderdom droom hy daarvan om ’n professionele bokser te word. Om dié droom te verwesenlik en aan die lewe te bly verkoop hy meubelpolitoer vir ’n onderneming. Hy behaal nie eintlik sukses daarmee nie en vertel aan ’n Engelse koerant, Sunday Express, in 1955 die volgende: “I polished every bit of furniture in Pretoria, but in spite of these demonstrations people could not afford to buy the polish.”
Hierna werf hy inskrywings vir ’n Afrikaanse koerant. Honderde inskrywings volg op sy harde werk maar hy ontvang nie die nodige kommissie nie omdat die inskrywings nie op ’n kontantbasis plaasgevind het nie. Ontmoedig deur hierdie ervaring, besluit hy om na sy pa se plaas terug te keer en begin groente vanaf ’n wa langs die pad verkoop. In dié tydperk hoor hy van ’n moontlike padwerke-pos by ’n tentedorp naby Silkaatsnek, aan die buitewyke van Pretoria. Hy doen aansoek en word aangestel as ’n “painter of culverts”, ook met die voorwaarde dat hy die padmasjinerie op Saterdagmiddae sal skoonmaak. Die Sunday Express beskryf sy omstandighede as padwerker soos volg:
He lived on sardines, at 6d a tin, and bread, and when he went to the paymaster’s tent at the end of the month, he was prevailed upon to hand over half of his wages to an Afrikaans charitable organization which looked after the poor.
Ontmoedig deur sy vergoeding en omstandighede, keer Fritz terug na Pretoria en begin om professioneel te boks. Maar dit werk ook nie vir hom nie. Hy besluit hierna om by sy pa, ’n minerale prospekteerder, aan te sluit. Hy vertel dat hy nie veel sukses met die soeke na minerale gehad het nie, behalwe dat hy ’n prys gewen het vir sy versameling voorbeelde van eksklusiewe minerale. Die prys was ’n sertifikaat wat die destydse Goewerneur-Generaal, Graaf George Herbert Hyde Villiers van Clarendon, aan hom oorhandig het.
Aanvanklik dink Fritz die sertifikaat is waardeloos, maar dit lei tog tot ’n pos vir hom by die Koninklike Munt in Pretoria. Hier word hy aangestel in verskeie poste – aanvanklik as vakman om ringe vir hondelisensies te vervaardig. In die tydperk verwerf hy die bynaam van “Shakespeare van der Merwe”, na aanleiding van sy vermoë om aanhalings uit die onsterflike werke van Shakespeare uit sy geheue op te roep. Uiteindelik word hy as ’n besoekersgids by die munt aangestel.
Tydens sy tydperk by die munt, kry Fritz ’n pos as ’n bode by die Departement van Gesondheid met ’n byvoordeel van gratis klasse by ’n tegniese kollege in Pretoria. Hy gryp die geleentheid aan en voltooi sy matriek binne twee en ’n half jaar. Sy matriekkwalifikasie maak vir hom deure oop en hy word aangestel as openbare skakelbeampte van die Boys Scouts in Pretoria en nog ’n verdere aanstelling as redakteur van die Afrikaanse afdeling van ’n tydskrif genaamd Our own monthly.
Dit moes min of meer in hierdie fase van Fritz se lewe gewees het waar sy taalaanvoeling en -vermoëns duideliker na vore getree het. Van sy gedigte en ander skrywes word in Afrikaanse koerante geplaas en die inkomste wat hy daaruit verdien, gebruik hy om boeke te koop. Sy kritiese skrywes oor literêre werke trek aandag en gee aanleiding tot ’n aanstelling by ’n Pretoriase uitgewer. In dié tydperk skryf hy in as student in regte aan die Universiteit van Suid-Afrika en na hy sy eerste jaar suksesvol voltooi, word hy aangestel as joernalis by Die Transvaler in Johannesburg in 1937 – ’n koerant waarvan die latere Eerste Minister van Suid-Afrika, Dr H F Verwoerd, op daardie stadium die hoofredakteur was (1937 – 1943). Later word Fritz die literêre redakteur van die koerant se bylaag, Die Voorbrand.
Die fase vanaf Fritz van der Merwe se aanstelling by Die Transvaler en daarna is in werklikheid die tydperk waar sy beroepsloopbaan momentum gekry het en waar soveel van sy uitnemende kwaliteite die lig gesien het. Hy word in vele kommentare beskryf as ’n outodidak, ’n woord wat my vreemd opgeval het met die eerste lees daarvan. Eenvoudig beteken dit iemand wat homself of haarself deur middel van selfstudie skool. Hiervan het sy onuitputlike drif vir meer en meer kennis, sy persoonlike selfdissipline en sy feitlik onbeperkte werksvermoë wel deeglik getuig.
SPE Boshoff beskryf hierdie eienskappe van Fritz van der Merwe in 1956 soos volg:
’n Mens klim nie sommer vanself van sport tot sport op die leer van bevordering nie, selfs nie in Suid-Afrika met sy groot tekort aan werkkragte nie. Daarvoor was in sy geval aanleg, speursin, toewyding, werklus en werkkrag nodig. Hierdie eienskappe het hy ryklik besit: hy was ’n genie volgens Carlyle se definisie van ’n genie as iemand met onbeperkte werkkrag.
Thys van Lille, die destydse Hoof van Afrikaanse Programme van die SAUK, sluit hierby aan met die volgende opmerking:
Sy werkkrag, begrip van tale en spoed waarmee hy gewerk het, was verbysterend. Hy het ’n drama wat twee-en-’n-halfuur duur, tussen half-nege in die oggend en vieruur in die middag volledig vertaal en vir die radio verwerk.
Op ’n interessante noot wys Boshoff ook op die tekortkominge by ’n outodidak, maar dat hy ruimskoots daarvoor vergoed het deur die eienskappe wat dikwels wel by ’n outodidak gevind word:
Hy was m.a.w. nie ’n blote naprater nie, maar iemand met ’n selfstandige oordeel en daarby ’n lewenslange student. Sy verklaring aan ’n Engelse blad na sy promosie: ‘ek gaan studeer vir solank as ek lewe’, karakteriseer sy hele lewenshouding, en hy het dit ook tot op die einde letterlik uitgelewe. Sulke outodidakte is soms koppig, en dit was hy meermale ook, maar dit was ’n waardeerbare koppigheid wat ’n mens dikwels moeilik van beginselvastheid kan onderskei en derhalwe moet respekteer.
In Fritz se tydperk as ’n redakteur by die Transvaler, skryf hy in vir ’n taalkompetisie van die SAUK en word as wenner aangewys. Voortspruitend hieruit word hy genooi vir ’n onderhoud by dié instansie vir ’n pos as vertaler. Marie Olivier, ’n werknemer by die SAUK, word gevra om die “nuwe persoon” by ontvangs te gaan ontmoet. Fritz en Marie trou op 3 Maart 1943 en later is twee dogters, Marianne en Erna, uit die huwelik gebore. Marie het later self in eie reg ’n gekwalifiseerde vertaler van radiodramas en boeke geword.
Fritz word na die onderhoud aangestel as vertaler by die SAUK. Hy skryf terselfdertyd in vir ’n BA-kursus by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en slaag sy graad met vyf hoofvakke – Afrikaans, Italiaans, Duits, Frans en Wysbegeerte – alles deur selfstudie sonder om ’n dag se lesings by te woon of om vir enige korrespondensiekursus in te skryf. In sy eie woorde verduidelik hy sy selfstudie: “I found out what would be required of me by reading through the syllabus.”
Hy vertel ook dat hy dit tydens sy voorgraadse studies reggekry het om vir vier jaar lank, behalwe sy werk, agt uur per dag te studeer.
Later word Fritz as eerste taaladviseur van die SAUK aangestel. Hy voltooi daarna ’n BA Honneursgraad met ’n skripsie oor vaktermologie, ook aan Wits. Daarna het hy ’n Ontwerplys van Musiekterme (’n musiekwoordeboek) in tien tale opgestel en foneties gestranskribeer. Die lys het uit sowat 250 bladsye in folioformaat bestaan en duisende musiekterme uit die tien tale bevat. Volgens familie-oorlewering, en ek kon dit nie bevestig nie, is die ontwerplys later as deel van ’n magistergraad by Wits ingedien en toegeken.
Fritz het deur selfstudie en taalaanvoeling ’n deskundige kennis van Frans, Duits, Spaans, Italiaans, Latyn, Engels en Nederlands ontwikkel. Hy kon nie alleen dié tale met gemak praat en skryf nie, “….maar sy kennis van die vastelandse letterkundiges het deur ’n verbasende belesenheid gegroei tot besondere afmetings.”
Op hierdie stadium van die vertelling is dit belangrik om kortliks stil te staan by een van Fritz se groot liefdes in sy lewensverhaal – sy voorkeurliefde vir Italiaans. As deel van sy vertaalwerk het hy onder meer dele van Dante se Goddelike Komedie vertaal, die kortverhale van Boccacio, gedigte van Petrarca en verskeie ander werke van groot Italiaanse skrywers. Hy was ook lid van die Italiaans–Afrikaanse Vriendekring en later ook die voorsitter.) Uit erkentlikheid vir die werk wat hy vir die verspreiding van die Italiaanse kultuur gedoen het, ontvang hy in 1953 ’n beurs van die Italiaanse regering vir ses maande se studie in Italiaanse letterkunde in Italië. Op daardie stadium was Fritz reeds ingeskryf vir ’n doktorsgraad by Wits.
Sy vertrek Italië toe het teen die einde van Julie 1953 plaasgevind en het studiebesoeke aan die universiteite van Rome en Florence ingesluit. Bykomend was ook beplande besoeke aan Duitsland, Frankryk en Nederland ten einde hom verder te verdiep in dié lande se groot letterkundiges. Aan die einde van sy besoek aan Italië was die Italiaanse regering uiters beïndruk met sy vordering. As erkenning het hulle, voor sy terugkeer na die destydse Unie van Suid-Afrika, aan hom ’n ruim skenking van Italiaanse klassieke literêre werke gemaak ter waarde van ongeveer ’n 100 Britse pond, sowat R78,000 in vandag se geldwaarde.
Hierdie vertelling sal uiters onvolledig wees sonder verwysings na Fritz se omvattende versameling van letterkundige vertalings. Sy bydraes tot die SAUK se versameling van klassieke werke uit Duits, Italiaans, Frans en Engels was van onskatbare waarde. Ook sy vertalings van ’n paar honderd dramas, ’n twintigtal opera’s en operettes, en meer as ’n duisend liedere.
Seker een van die belangrikste vertalings wat hy in Afrikaans aan letterkundige geesdriftiges bekend gestel het, was gedeeltes van die La Divina Commedia (Die Goddelike Komedie), wat hy vir die radio en tydskrifte vertaal het. Die Goddelike Komedie is ’n epiese Italiaanse gedig van Dante Alighieri wat die reis van die menslike siel voorstel. Dante was ’n Italiaanse digter, skrywer en denker uit die laat Middeleeue, en word algemeen beskou as een van die invloedrykste figure van Westerse literatuur.
Die Goddelike Komedie word beskou as een van die grootste werke van Europese letterkunde omdat dit Christelike teologiese, filosofiese, politieke idees en poësie in ’n meesterlike poëtiese vorm verweef het. Die komedie beskryf die reis van die siel deur die Inferno (Hel), Purgatorio (Vagevuur), en die Paradiso (Hemel). Dit het ’n enorme invloed op Europese literatuur, kuns en denke gehad.
’n Belangrike bydrae van Dante was dat hy in Italiaans (die Toskaanse dialek) geskryf het, eerder as in Latyn, wat destyds die taal van geleerdheid was. Dit het gehelp om Italiaans as literêre taal te vestig en het aan hom die bynaam van “Die vader van die Italiaanse taal” besorg.
Dante was aktief betrokke by Florantynse politiek, maar as gevolg van magstryde is hy in 1302 uit Florence verban. Hy het die res van sy lewe in ballingskap deurgebring. Hierdie ervaring van verlies, onreg en morele oordeel het sterk deurgeskemer in sy werk.
Afgesien van Italiaanse literêre werke het Fritz ook mildelik uit Frans en Duits vertaal. Uit Frans het hy die bekende roman, Madame Bovary, van Gustave Flaubert vertaal. Dié roman is in 1857 as die debuut roman van Flaubert gepubliseer. Fritz het dit as Mevrou Bovary getitel. Die roman word hoog aangeslaan omdat dit ‘n verandering na realistiese prosa ingelui het – ’n fyn waarneming van die alledaagse en ’n kritiese blik op romantiese illusies. Die roman handel oor Emma Bovary, die vrou van ’n plattelandse dokter. Sy word deur haar verveelde lewe en romantiese drome tot buite-egtelike verhoudings en skuld gedryf, en die verhaal eindig tragies. As literêre werk het dit ’n grondverskuiwende invloed op sowel Europese letterkunde as die ontwikkeling van die moderne roman gehad. Die werk word steeds beskou as ’n meesterstuk in die Europese letterkunde.
Uit Duits het Fritz bekende werke van Goethe en Schiller vertaal. Schopenhauer se The wisdom of life was een van sy bekendste vertalings. Dit vorm deel van ’n bundel Parerga und Paralipomena wat in 1851 gepubliseer is. Dit is ’n filosofiese essay oor die kuns van ’n goeie lewe. Dit beklemtoon dat ware geluk nie in rykdom of status lê nie, maar in innerlike tevredenheid, karakter en die beheer van begeertes. Dit word gesê dat die werk belangrik is omdat dit ’n toeganklike samevatting van sy pessimistiese filosofie bied en ’n invloedryke rol in Europese literêre filosofiese tradisie gespeel het. Opsommend kom Schopenhauer se filosofie neer op die belangrikheid van klem op innerlike vrede, die onvermydelikheid van lyding, en die waarde van selfstandige denke bo sosiale of materiële illusies. Schopenhauer handhaaf deurgaans ’n skeptiese houding teenoor massa-denke. ’n Interessante aanhaling van hom handel oor vryheid en afgeslotenheid: “A man can be himself only so long as he is alone; and if he does not love solitude, he will not love freedom; for it is only when he is alone that he is really free.”
Vir Fritz het hierdie vertalings nie net ’n soort “inlewing” in die letterkundige werke van die groot meesters beteken nie, maar ook die vorming van ’n eie estetiese insig, ’n bestudering van die aard van die taal, en ten slotte, veral, die hantering van sy eie moedertaal.
Self het Fritz ook sy eie literêre skeppings die lig laat sien. Sy roman, Anderkant die einders, wat in 1955 gepubliseer is, het heelwat reaksie in die Afrikaanse literêre wêreld ontlok. Hy skryf ook ’n novelle met die titel, Wouter Wolfaard. Benewens hierdie twee werke het hy ook verdere novelles, gedigte, verhale en kritiese artikels geskryf.
Deel van Fritz se werksaamhede by die SAUK het ’n omvattende lys van plekname van die Unie van Suid-Afrika ingesluit. Hierbenewens ook ’n lys van bekende komponiste, kunstenaars, wetenskaplikes en staatsmanne waarin die korrekte uitspraak in fonetiese skrif vir uitsaaiers aangedui is. Nog ’n lys vir die Taaladvieskomitee van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (hierna die Akademie) het verwys na slordige en foutiewe taalgebruik, uitspraak, vertaling, anglisismes, en meer.
Fritz se omvattende bydrae tot die uitbouing van Afrikaans as taal was ook opgesluit in sy betrokkenheid as lid van verskeie vaktaalkomitees, insluitend: assessorlid van die Akademie; sekretaris van ’n studiegroep van die Akademie; komiteelid van die Buro van Standaarde oor nomenklatuur; lid van die Vaktaalburo vir tegniese terme; en ondervoorsitter van die Afrikaanse Skrywerskring.
Fritz van der Merwe behaal sy PhD-graad in filosofie in 1955 met die titel, Die vertaling as kuns. Die bekende skrywer, digter en akademikus, CM van den Heever, van die Universiteit van die Witwatersrand, het as studieleier opgetree. Die proefskrif word allerweë as uitmuntend beskryf en is met die hoogste onderskeiding toegeken. Die Sunday Express beskryf op 20 Maart 1955 die proefskrif as “One of the best theses ever submitted to the university.”
Op 19 Junie 1956 word die skielike afsterwe van Fritz op ’n skrale 38-jarige ouderdom bekend gemaak. Sy dood is toegeskryf aan ’n harttoestand. Dit het die gemeenskap van Johannesburg geskok, ook die Afrikaanse taal- en literêre gemeenskap. Sy dood word in verskeie koerante en tydskrifte vermeld. Die Vaderland (19 Junie 1956) beskryf sy heengaan as nie alleen ’n verlies vir sy familie en vriende nie, maar ook ’n nasionale verlies. Hy word beskryf as ’n geleerde en kenner van tale en taalbouer – iemand wat aan die volk behoort het.
Verskeie huldeblyke volg na Fritz se afsterwe. Op sy begrafnis lewer SPE Boshoff ’n huldeblyk en spreek hom soos volg uit:
Tog het al sy veelvuldige werksaamhede nooit van hom ’n blote boekwurm en masjienmens gemaak nie: hy het in die eerste plek nog mens gebly, volbloedige en warmhartige mens, ons vriend Fritz; en sy heengaan is vir my nie alleen ’n persoonlike verlies nie, maar ’n nasionale verlies.
Fritz se lewensvriend, skrywer en digter, GA Watermeyer, skryf ’n treffende gedig oor hom wat tydens sy begrafnisdiens voorgelees word:
Koud lê die stad vannag my broers, alleen
en eensamer as wat die hart kan dra …
Sy stem wat warm om ons was, is stil
sy wydloop hartlikheid, sy lag, verskil
wrangskielik weggeruk en uitgedwing,
verbreek tot enkele herinnering.
Maar ons, wat tuis was in sy kleiner kring,
ons hurk verwese om herinnering
van vriendskapsure wat vervulling was
soos om ’n geelhoutvlam se gryswit as.
In nog ’n huldeblyk sê Tom Weber van die SAUK die volgende:
It will be hard to describe the late dr. Van der Merwe – any description must necessarily remain incomplete. But his natural dignity and simple modesty, unaffected by his genius, the complexity of his knowledge and the versatility of his mind, have left an indelible impression on all those who had the privilege of knowing him.
Met die skryf van hierdie onvolledige en onregverdig-kort biografiese oorsig van ’n familielid wat ek nooit die voorreg gehad het om te ken nie, kom verskeie gedagtes by my op. Wat sou Fritz van der Merwe se bydrae tot die uitbouing van Afrikaans as taal gewees het as hy nog ’n verdere 38 jaar kon lewe? Die antwoord is só voor die hand liggend.
Sy vroeë afsterwe was onteenseglik ’n onberekenbare verlies vir die Afrikaanse taal en natuurlik ook vir sy familie. Sy lewe was ’n onbeskryflike waardetoevoeging tot ’n gesin wat na die Anglo-Boere oorlog hulle voete moes vind in moeilike finansiële en onsekere tye. Hy het sonder twyfel deur sy voorbeeld die selfvertroue van sy familielede verhef na ’n volgende vlak. Met my eie persoonlike skrywery oor die afgelope jare het ek baie aan hom gedink. Ek sou só graag met hom wou skakel as gevolg van hierdie gemeenskaplikheid tussen die twee van ons.
Dit sal sinvol wees om hierdie skrywe af te sluit met enkele familievertellings oor Fritz van der Merwe. My eie bewuswording van hom as familielid het uit familiegesprekke gevolg. Ek was slegs twee jaar oud toe oom Fritz oorlede is. Die beeld wat by my oor hom gevorm en gevestig was, was een van ’n karaktervolle persoon wat spontaan met ander mense kon sosialiseer, iemand met ’n opvallende spitsvondigheid en humorsin, maar ook ’n warmhartige opregte mens teenoor andere. Sy invloed in die breër familieverband was onbetwisbaar. Sy akademiese vermoëns en prestasies sou selfs lank na sy heengaan as ’n bron van inspirasie vir familielede dien.
Met die skryf van hierdie vertelling, dateer Fritz se jeugjare reeds verstommend, meer as ’n honderd jaar terug. Tog bly vertellings oor hom sterk gesement in die herinneringe van familielede. In 2006 neem ek en my vrou deel aan ’n georganiseerde bustoer en ons reis vanaf die noorde van Europa tot in Italië. Op ’n stadium stop die bus in Florence en ons kon op ons eie die stad verken. Terwyl ons allerlei besigtigings doen, word my gedagtes oorheers deur die destydse besoek van oom Fritz aan die Universiteit van Florence in 1953, meer as ’n halfeeu gelede. Ek loop op die stadsplein, die Pizza Santa Croce, en wonder hoe hy hierdie eeu-oue omgewing sou ervaar het.
Op ’n stadium gaan staan ek voor ’n wit marmerbeeld van ’n man. Ek lees die inskrywing op die voetsuk – dit is ’n monument vir die geroemde Italiaanse skrywer en digter, Dante Alighieri, en sy standbeeld troon hoog oor die plein uit. Die beeld is in 1865 deur die beeldhouer, Enrico Pazzi, voltooi. Aan die voetenent van die beeld is titels van sommige van sy groot werke aangebring. Ek onthou vertellings van die familie oor hoe dié werke oom Fritz bekoor en in verwondering gelaat het. Die oomblik tref my emosioneel – dit is ’n stukkie familiegeskiedenis wat op hierdie plein voor my afspeel. Gelukkig het van die ander toerlede aangestap en ek waardeer die tydjie om net daar alleen met my eie gedagtes te staan. Dit was asof ek gelei was na die standbeeld. Heimlik ervaar ek ’n verlangse verbintenis met hierdie man, hoewel hy eeue terug gelewe het. Ek wil vir myself sê: “Ek salueer jou Dante, vir die invloed wat jy ook op my familiewortels gehad het.” Hoe vertel ek vir iemand anders wat ek sopas ervaar het? Na sowat ’n halfuur word ek geroep en moet ek afskeid neem van Dante – ’n ervaring wat my tot vandag toe sou bybly.
’n Ander vertelling van oom Fritz hou verband met sy terugkeer ná sy studiebesoek aan Italië. Die besoek het destyds per boot plaasgevind en so-ook die terugkeer. Klaarblyklik het die terugreis sowat drie weke geneem en die bote van destyds was nie in grootte en spoed vergelykbaar met dié van vandag nie. Sommige reisigers op die boot het mekaar tydens die reis leer ken en selfs vriende geword. In oom Fritz se geval het hy onder meer vriende gemaak met ’n Engelse vrou en ’n Fransman. Die twee kon nie ’n woord met mekaar praat nie en oom Fritz moes noodgedwonge deurgaans tolk.
Die familievertelling lui voorts dat hy die situasie uitgebuit het en met sy agtergrond in romantiese letterkunde, het hy sterte aan sy vertalings in Engels en Frans begin byvoeg. Hy het waarskynlik aanvanklik waargeneem dat die man en vrou ’n ogie op mekaar gehad het. Ná die drie weke van reis en vertalings het die boot Kaapstad bereik. Sonder dat die man en vrou ’n woord op hul eie met mekaar kon kommunikeer, was die twee smoorverlief op mekaar en het te kenne gegee dat hulle daaraan dink om te trou.
In nog ’n verdere staaltjie was oom Fritz eendag na die SAUK in Johannesburg op pad toe ’n man van agter in sy motor vasry. Hy het blykbaar geïrriteerd uit sy motor geklim en die man net daar gekonfronteer. Voordat hy enigiets kon sê, maak die man verskoning: “Ekskuus meneer, ek is baie jammer, my brieke het totally gefail.”
As taalkundige het hy dié verskoning uiters amusant gevind en uitgebars van die lag. Die twee is blykbaar in vrede uitmekaar.
Soos in die meeste families, verloor familielede in baie gevalle kontak met mekaar, en soos lede uitkring, fokus hulle op hul eie kleiner kringe. Die publikasie van my boek, Van ’n afstand af, in 2025, lei my tot die ontdekking van Marianne, my eie bloedniggie en oudste dogter van oom Fritz. Marianne is reeds 80 jaar oud en ons het mekaar nooit geken nie. Ons begin gesels en kan nie uitgepraat raak nie. Die bewuswording van gemeenskaplike gene is duideliker as daglig. Foto’s word oor en weer gestuur om gapings in te vul. Marianne se suster Erna is reeds in 1995 oorlede. Ons gesels oor haar pa en die gesprekke motiveer my om hierdie vertelling oor oom Fritz te skryf.
Marianne was ’n skrale 11 jaar oud toe haar pa oorlede is. Verstaanbaar, was dit ’n groot slag vir hul gesin en hulle moes daarna hul eie voete vind. Marianne was van skool af versot op ballet en haar opgang was van so aard dat sy kort na matriek in 1963 reeds ’n kontrak deur TRUK se Balletgeselskap aangebied is. Nie lank daarna het sy erkenning gekry met pragtige solo-rolle wat sy vertolk het. Sy trou met Jack van der Lecq, ’n argitek van Johannesburg, en hulle vestig hulle kort na hul troue in die Wes-Kaap. Jack was betrokke as argitek by veranderinge aan die Parlement in die 1980s en beskou sy insette daar as die hoogtepunt van sy loopbaan. Die onlangse brand in die gebou was vir hom ’n geweldige laagtepunt wat hom emosioneel geraak het.
Erna het na matriek aan die Universiteit van die Witwatersrand in Skone Kunste studeer. Later gaan au pair sy in Parys waar sy saam met die bekroonde Suid-Afrikaanse skilder, dramaturg en skrywer, Thijs Nel, haar skilderaanleg verder ontwikkel. Tragies het ek nooit self vir Erna ontmoet nie en ironies is Thijs Nel op ’n plaas in die Waterberge gebore – die omgewing waar my wortels lê. Erna het ook na haar terugkeer uit die buiteland oorklanking by die SAUK gedoen.
Marianne vertel van haar vroeë herinneringe van haar pa en hul gesin waar hulle in Tweedestraat 29, Linden, gebly het. Hy het ’n liefde vir tuinmaak gehad en het ná hulle intrek ’n wonderwerk in dié opsig bewerkstellig. Die gesin se saamwees om die etenstafel bring mooi herinneringe vir haar terug. Ook die stories wat saans teen die twee dogters se slapenstyd vir hulle voorgelees is. Marianne se mooiste herinnerig was die boek Heidi, wat in Duits geskryf was, en wat haar pa vertaal het soos hy lees. Haar ma het ook uit Die Kinderbybel voorgelees, Afrikaanse rympies opgesê, en wiegeliedjies gesing met ’n pragtige stem.
Met die kinders in die bed, is die twee ouers as ’n reël studeerkamer toe en het hulle saam tale bestudeer met behulp van plate. Oom Fritz het ook vir die dogters Duitse, Franse en Italiaanse gediggies geleer. Eenkeer het hy vir hulle die storie van Faust vertel. Sondagaande was musiekaand en dan het die gesin na hul uitgebreide versameling klassieke musiek geluister. Marianne sê dat haar pa op ’n vriendelike, hartlike en entoesiastiese wyse met ander mense omgegaan het. Deurdat hy soveel tale kon praat het hy uiteenlopende mense na hom toe aangetrek.
Wanneer ’n mens terugkyk op die lewe van Fritz van der Merwe, word dit duidelik dat sy bestaan ’n simbool van die menslike strewe na betekenis was. Hy het uit nederige omstandighede gekom, maar deur selfstudie en ’n onvermoeide drang na kennis, homself opgehef tot ’n vertaler, denker en bouer van taal. Sy pad herinner ons daaraan dat ware grootsheid nie in uiterlike roem lê nie, maar in die stille volharding waarmee ’n mens ’n roeping uitleef.
Fritz se werk was nie bloot ’n tegniese oordrag van woorde nie; dit was ’n filosofiese daad. Elke vertaling was ’n brug tussen kulture, ’n poging om die menslike gees oor grense heen te verbind. Hy het gewys dat taal nie net ’n instrument van kommunikasie is nie, maar ’n draer van identiteit, geskiedenis en hoop. Sy liefde vir Dante, Flaubert en Schopenhauer het hom nie net intellektueel gevorm nie, maar hom ook geleer dat lyding, verlange en waarheid universeel is.
Sy vroeë dood herinner ons aan die broosheid van die menslike bestaan. Tog leef sy nalatenskap voort as ’n stille getuienis dat ’n kort lewe steeds ’n ewige invloed kan hê. In Fritz sien ons die beeld van ’n mens wie se werk blywende waarde het: ’n denker wat die Afrikaanse gemeenskap en taal met waardigheid en liefde verryk het.
Koos van die Waterberge


Kommentaar
Aangrypende stuk en kosbare brokkie geskiedenis.
Dankie, Koos!
Dankbaar dat hierdie kosbare stuk geskiedenis aan die breë leserspubliek beskikbaar gestel word.
Wel gedaan Koos,
Jack
Baie dankie. neef Kobus!
Met groot waardering vir die aangrypende boekstawing van my pa se lewe.
Marianne
En so weet 'n mens nie van briljante mense wat so rigtinggewend en talentvol was nie. Baie interessant en insiggewend!
Dit is ongelooflik wat Fritz van der Merwe in sy kort lewe bereik het. Baie dankie vir hierdie waardevolle opsomming van sy akademiese bydrae, wat ons as Afrikaners nie behoort te vergeet nie. U het hom ook as besonderse mens aan ons voorgestel, wat vir my, as vriendin van sy lieflike dogter Marianne, baie beteken het.