Fred (2)

  • 0

As iemand een keer ’n biker is kry jy dit nooit uit hom nie. As die leer eers in jou are is gaan oortappings nie veel uitrig nie. En Fred is ’n biker. In elke sin van die woord. Wel, jy sal nou nie vir Fred by ’n Buff kry nie want hy sê daai manne is nie rof soos hy op sy dag was nie en hy hou eerder daarvan om goeie herinneringe te hê. Ek het hom na hierdie jaar se Buff genooi met die doel dat hy die aand voor kon sit as die dametjies uittrek en dans maar hy kon dit nie maak nie het hy na die tyd verskoning gevra. Beduie dat sy hart nie sulke jong vleisies sou kon hanteer nie en buitendien: Hy sou tien teen een op die verhoog saam met die dametjies sonder klere opgeeindig het en dan het hy met ’n bakleiery gesit want die dametjies sou een vir een voor hom geval het en hy knipoog en beduie na sy baadjiesak toe.

Fred, op tagtig ry nog sy 450X. Hy saal nie meer die ander groter goed so gereeld op nie want hy sê hy kan nie meer so lekker stand nie want die ou bene wil nie aldag saamwerk nie. Ek hoor die dag die BMW stop en Fred beduie van die deur af of die wyn dan nou moet suur raak voor iemand iets gaan skink en ek gooi maar en beduie dat ek moet stadig want ek moet nog werk en hy se dis reg hy sal solank die bottel geselskap hou terwyl ek die glasie nurse. Fred beduie vir my dat hy hierdie kant toe moet want daar was iets aan die bike wat verstel moes word en dit kan net hier by Roy gedoen word en hy dog toe hy stop maar hier en ek weet hy praat stront want ek weet ’n Duitser vier nie verjaarsdag vir een dag nie. Ek vra met trane in my navy blou oe hoe jy so iemand sal weier? En ons gooi. Soos dinge mos maar gaan kom mense in en dan word ’n glas opgekommandeer en so raak dinge lekker en ek beduie later vir Fred dat hy sal moet opsaal en Fred beduie dat hy nog OK is en buitendien, O is nog besig met die skoolgoete en waar die bottel is wat belowe is.

Ek weet nie hoe laat dit was nie maar ek weet dat ek al protesterende vir Fred op sy BMW help sukkel het.

Fred het dit amper tot by die huis gemaak. Want sien, Eskom is mos besig om nuwe kabels aan te lê na sy plek toe. Slote klaar gegrawe vir die volgende week. Fred het blykbaar toe hy deur sy hek is, die pad en die sloot misgis en is toe sloot in in plaas van pad op. Hy beduie vir my dat hy ’n rukkie gesukkel het om die BMW op te kry en ek weet by myself dat ’n 450X al is jy nugter ’n bitch is om op te tel, veral as sy in ’n sloot lê. Hy het die spul toe maar net so gelos en pad teen die bult op gevoetslaan. Die Maandag het hy Eskom se manne opgekommandeer om die fiets uit die sloot uit te help en Fred is blykbaar op en die manne se hy het gelyk of hy daar wegvlieg. Hulle sê die ou man kan nie 80 jaar oud wees nie of hy moet verseker weet hy gaan reguit hemel toe want net iemand wat doodseker is sal so tekere gaan op so ’n groot masjien.

Ek vra vir Fred hoekom hy nie valmerke het nie en hy stamp verontwaardig en regtig de moer in aan my: "You tink I’m biking since yesterday?" Ek bied hom, soos gewoonlik, ’n menthol aan en hy antwoord soos gewoonlik: "No thank you, that stuff will kill you."

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top