Fred (1)

  • 0

Stoere ou Duitser. Nee, nie die Nazi-soort nie. Die anner soort. Die soort wat gesorg het dat ons karre en televisies en, wel, meeste van die goed het wat ons lankal nie meer raaksien nie.

Saterdae hier by Wild Oats kan jy maar jou horlosie stel volgens Fred se aandrentel. Want hy kom dagsê. En bring altyd ’n bottel iets aan, al is hier meer as genoeg. As jy praat van iemand dan kan jy maar weet Fred het hom iewers op sy eie pad ontmoet. Ek gooi vir Fred ’n droë witte van Paul Marais en Fred beduie vir my dat hy en Paul ou vrinne is en vra my uit hoe dit met Paul deesdae gaan? Ek beduie dat Paul nog cool is en Fred vra my of Paul nog steeds so jaag en ek weet Fred pratie kakkie want net iemand wat vir Paul goed ken sal weet dat Paul ook soos sommiges van ons ’n spoedvraat is. Fred beduie vir my van die dag toe hy vir Paul teruggekry het want Fred kan vlieg en vinnig vlieg (blykbaar iewers in die verre verlede vliegtuie vir een of ander lugmag getoets ook) en hy lag oor die dag wat hy so laag oor Paul se landgoed gevlieg het dat Paul sommer in die vlug wou uitklim en ek weet dis die reine waarheid want Paul lag net toe ek hom uitvra. Paul beduie vir my dat hy ongelukkig eendag lank terug die fout gemaak het om vir Fred bang te ry. Met sy BMW. Nie doelbewus nie want Paul ry maar sy gewone 200+ km/h. Dis net: die draaie het vir Fred bang laat word met die tyd.

Ons praat die een Saterdag oor stront en nog wat en soos dinge mos maar gaan praat ons mos maar oor die onderste gedeeltes ook en ek beduie vir Fred van my vriend J wat altyd drie of meer dae vat om terug "republiek" toe te kom want hy doen mos maar sy aankope op die lughawe en sy eerste stop is die apteek vir viagra en Cialis en soortgelyke goeters. Want dit help. Ek beduie vir Fred dat my vriend altyd ’n paar pakkies ekstra saambring want mens weet mos nooit as die nag te lank raak nie.

Fred vra of die goed werk en ek beduie dat dit werk maar dat jy moet score annners werk jy te hard en hy lag. En vra of ek nie dalk ’n pakkie of ses kan afstaan nie en ek beduie dis cool.

Ons vier noudie dag Fred se 80ste en ons praat dat hy beslis moet lieg oor sy ouderdom want min mense van dertig kan nog van ’n Busa afklim om ’n BMW op te klim om die berge aan te vat. Fred beduie dat hy my gaan kom besoek voor hy 80 is en ek sorg dat hier genoeg Jägermeister is want ek weet Fred vat hom behoorlik. Hy steek so onderlangs die pakkie Cialis in sy sag en knipoog so in die rigting van O en ek glimlag want eks bly eks nie sy nie. Fred beduie dat hy en O dringend moet ry want hy willie op die pad gevang word besope nie. Sy sluk die Jerepigo soos Oros en en wens haar sterkte toe op pad terug en sy belowe my sy sal my bel dat hulle veilig aangekom het. Sy het dit nooit gedoen nie en ek vermoed ek weet hoekom.

Ek kyk haar die volgende Saterdag so onderlangs en ek verbeel my haar glimlag is breër as gewoonlik en sy praat so saggies as sy met Fred praat. Noem hom selfs iets soos "Bokkie" of iets wat soortgelyk klink. Sy giggel aanhoudend en ek vra later of dit die droë wit is en sy beduie nee, sy is net in ’n goeie bui vandag. Ek wou duiwel speel en vra wat sy ingeneem het maar toe onthou ek die ou spreekwoord van wag voor die mond. Fred weet van geen sout of waters nie en beduie later selfs oor die rawe wat so rondvlieg en die boek wat hy oor die rawe geskrywe het en nee, Fred, ek het hom nog nie gelees nie en ek drink die kennis oor die rawe in want ek weet as Fred sy mond oopmaak praat hy sense.

Ek bekyk hom so van agter toe hy trippel na die laaste van die Black Forest’s toe en ek sien sy yl hare so ritmies in die wind saamdraf in pas en ek wonder toe of ek daai ouderdom sal maak en of ek nog sal kans sien vir ’n jong onderwyseres. Ek vang O se gesig en ek sien haar verby die spiertier kyk wat met sy pajamabroekie en bultende arms die wêreld bewonder. Sy kyk vir Fred en ek wonder toe wat de hel sy dink en of ek genoeg pennies het.

In daai oomblik toe die Jood hemel toe is, verbreek Tash die stilte met: "You gotta love Fred, don’t you?" en O knik net haar kop instemmend en sê: "Ek’s mal oor hom, al is hy so vol kak."

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top