Wanneer 'n mens die literatuur oor Bertrand Russell, GE Moore, John Maynard Keynes en veral Ludwig Wittgenstein lees, kom jy die naam van Frank Plumpton Ramsey (1903-1930) teë. Dit bring mee dat sy naam ook opduik in die Bloomsbury-literatuur. Byvoorbeeld, Frances Partridge (SêNet 21.09.2010) het hom leer ken danksy haar vriendskap met Lettice Baker, wat in 1925 met Ramsey getroud is. Ramsey het op sy beurt aan Partridge toegang tot Wittgenstein se geselskap gegee. Ooreenkomstig die Bloomsbury-tradisie was nie een van die twee vennote in die Ramsey-huwelik getrou aan mekaar nie. Lettice wou bv graag 'n verhouding met Wittgestein aanknoop. Bron: Anne Chisholm, Francis Partridge, London: Weidenfeld & Nicolson, 2009.
Ek skryf hierdie keer oor 'n boek van Karl Sabbagh wat op 4 Februarie vanjaar as 'n Kindle Single gepubliseer is: Shooting Star: The Brief and Brilliant Life of Frank Ramsey. Dit lyk asof daar hernude belangstelling in die mens Ramsey is, want hierdie boek volg kort op die hakke van Margaret Paul se Frank Ramsey (1903-1930): A Sister's Memoir (2012). My verwysings is na Sabbagh se boek, tensy anders aangedui. Sabbagh het toegang tot Ramsey se dagboek en enkele ander minder toeganklike inligtingsbronne gehad, maar baie van wat hy skryf, is herhaling uit bronne wat geredelik beskikbaar is.
Ramsey was die oudste van vier kinders. Sy jonger broer, Michael, het die aartsbiskop van Katelberg geword. Tussen Michael en die ateïstiese Ramsey was daar religieus 'n groot gaping. In navolging van sy pa, het Ramsey in 1926 'n dosent in wiskunde aan die Universiteit Cambridge geword. Sy vakkundige bydraes is veral in wiskundige teorie, logika, kennisleer en ekonomiese teorie.
Wat opval, is dat sowel Ramsey as Wittgenstein deurgaans as uitsonderlik intelligent bestempel word. Maar ook, soos in die geval van bv die ewe briljante John Stuart Mill, was daar by hulle 'n emosionele onvolwassenheid, soos blyk uit hulle sosiale en veral seksuele verhoudings. Mill was deurgaans van iemand anders afhanklik; eers van sy pa, daarna van Harriet Taylor, wat later sy vrou geword het, en toe tot sy einde van sy stiefdogter, Helen.
Ramsey en Wittgenstein het moeilik by geselskap ingepas. Wittgenstein is soos volg deur Partridge onthou: "In mixed company his conversation was often trivial in the extreme, and larded with feeble jokes accompanied by a wintry smile." Chisholm skryf: Partridge "liked the way he enjoyed his own silly jokes, as well as detective stories, films and concocting strange alcoholic drinks, and saw that he needed such trivial amusements as a release from his intense nature and powerful mental processes" (p 129).
'n Soortgelyke situasie het hom by Ramsey voorgedoen. Hy was 6 voet 3 duim lank met 'n "carthorse's bottom" (Kindle 102). Keynes verwys na sy "bulky Johnsonian frame" (K 991). Liggaamlik en veral intellektueel was Ramsey 'n reus wat uitsonderlik vindingryke bydraes in wiskunde en verwante terreine gelewer het. Hy het kinderlik onskuldig hard en steurend gelag, buitengewoon lomp gewees en kon daarby net naby hom goed sien. Hy word beskryf as "afflicted by a degree of social unease which many non-geniuses will recognise as familiar" (K 113). Dit is verbasend dat nóg Wittengestein nóg Ramsey werkholiste was. Ramsey het maar omtrent vier ure per dag gewerk en homself verwyt dat hy in so 'n beperkte mate sy tyd benut het. In die middae het hy graag gewandel en saans het hy na musiek geluister.
Wittgenstein het sy dosente hoofbrekings besorg. Moore het hom beter as Russell hanteer, maar dalk net omdat hulle minder met mekaar te make gehad het. Russell vertel dat Wittgenstein van melk en groente geleef het. "God help us if he should ever eat a beefsteak" (The Autobiography of Bertrand Russell, 1914-1944, London: Allen and Unwin, 1968, p 99). Wittgenstein het Russell genadeloos gekritiseer: "I saw he was right, and I saw that I could not hope ever again to do fundamental work in philosophy" (Russell, p 57).
Ramsey het op soortgelyke wyse sy dosent, Keynes, gekritiseer. Ek het die indruk dat Ramsey intellektueel selfs Wittgenstein se meerdere was. Ek sê dit nie net omdat hy Wittgenstein se eerste boek, Tractatus Logico Philosophicus, saam met CK Ogden uit Duits in Engels vertaal het toe hy 19 jaar oud was nie, maar ook omdat hy Wittgenstein oortuig het dat hy soms fouteer het, iets wat moeiliker as daardie veeleisende vertaalwerk was. "That Wittgenstein accepted Ramsey's help was a considerable tribute" (K 147). Ramsey was 14 jaar jonger as Wittgenstein, terwyl laasgenoemde dikwels onverdraagsaam met akademici was wat baie ouer as hy was: "'Don't try to shit higher than your arse,' he said" (K 151).
Ramsey se vertaling van Wittgenstein se genoemde boek was te letterlik en is deur Ogden tot meer idiomatiese Engels geredigeer. Sabbagh toon aan dat daar mites oor Ramsey ontstaan het, bv oor hoe gou hy Duits geleer het. Die laaste sin in die genoemde Wittgenstein-boek, "Whereof one cannot speak, thereof one must be silent," is mettertyd deur Ramsey herformuleer tot: " What we can't say we can't say, and we can't whistle it either" (K 154).
Daar is aanduidings dat Ramsey se seksuele probleme aan sy gehegtheid aan sy ma toegeskryf kan word. As 20-jarige student aan die Universiteit Cambridge het hy verlief op 'n getroude vrou geraak wat tien jaar ouer as hy was. "Some of Ramsey's male friendships had at least an erotic, if not an actively homosexual, aspect" (K 319). Van Jack (Sebastian) Sprott, een van Keynes se vriende, het Ramsey geskryf: "Sebastian ... is perfect. I should like nothing better than go round the world with him" (K 323). Ramsey was soms depressief en het selfs selfmoord oorweeg. Sy seksuele probleme was so erg dat hy na Wene is om professionele sielkundige ontleding te ondergaan.
Hy was 'n aanhanger van vrye liefde, voor en na sy huwelik: "One shouldn't have possessive feelings" (K 645). Na die geboorte van hulle eerste dogter het hy 'n verhouding met 'n vrou aangeknoop wat sewe jaar ouer as hy was. Hy het in besonderhede aan sy vrou oor sy seksuele avonture geskryf, bv toe hy met hierdie ander vrou in Frankryk was: "Seeing her continually is good for me in making me appreciate you more" (K682). Toe sy vrou haar dieselfde vryheid tydens 'n besoek aan Ierland veroorloof en met dieselfde openlikheid as Ramsey daaroor skryf, "I'm having an affair of my own at hectic speed" (K 685), was hy hewig ontsteld. Hierna het hulle nog 'n dogter gehad. Ten spyte van sy intellektuele briljantheid, goeie vriende en huisgesin, was Ramsey geneig tot "bouts of self-doubt or loneliness" (K 576).
Ramsey het geelsug ontwikkel en na 'n operasie vir 'n lewerkwaal het hy op 26 jarige ouderdom gesterf. Wittgenstein het hom kort voor sy dood in die hospitaal besoek. Volgens Keynes was Ramsey 'n "intellectual machine" (K 991), maar hy het nie met natuurwetenskaplike feite oorboord gegaan nie: "The stars may be large, but they cannot think or love; and these are qualities which impress me far more than size does ... My picture of the world is drawn in perspective, and not like a model to scale. The foreground is occupied by human beings" (K 1047). Party mense leef lank en bring min of niks nie tot stand. Ten spyte van sy kort lewe, oefen Ramsey steeds positiewe invloed uit.
Johannes Comestor

