Ek gaan probeer om Fifty Shades of Grey as verskynsel te plaas binne die ontwikkeling van die filosofiese denke oor die wording van die menslike subjek, dit wil sê hoe die mens en sy ontwikkeling tot ’n mens in die filosofie voorgestel is, en dan spesifiek die rol van seksualiteit in hierdie wordingsproses. Dit sal gou blyk dat ek ’n gaping probeer vat tussen die Franse filosowe Michel Foucault aan die een kant en Gille Deleuze en Piere-Felix Guattari aan die ander, maar dan is daar nog Freud op heelagter by wie ek verby moet kom. Altyd Freud op heelagter.
Maar hoekom gebruik ek nou ’n rugbymetafoor vir hierdie gesprek wat noodwendig ’n feministiese rigting sal kry? Kom ek sê dan maar dat ek baie bewus is dat ek hier praat as man oor dinge wat veral die lewe van vroue raak.
En ek steur my daarom in ’n besonderse mate aan iets wat die Franse skrywer en filmmaker Marguerite Duras in 1973 in ’n onderhoud gesê het: “Mans moet leer om stil te bly. Dit is ooglopend heel moeilik vir hulle, om daardie teoretiese stem van hulle, die teoretiese interpretasie, stil te kry. Hulle moet ’n slag dink oor wat hulle doen.”
Dan, heelwat meer onlangs, het die Britse akademikus en filmkritikus Anna Powell die opmerking gemaak dat mans dikwels geweldig neerbuigend raak wanneer hulle oor vrougesentreerde erotika praat.
Ek is dus heel selfbewus as ek hier staan, ook ongemaklik bewus van die feit dat ek hoofsaaklik manlike teoretici gaan aanhaal in ’n besinning oor veral wat met die vrou se lyf gebeur in hierdie fenomeen wat ons Fifty Shades of Grey noem.
Alle aanduidings is dus dat ek hier as ’n tipiese subjek van die moderniteit staan, dit wil sê as iemand – ’n man – wie se subjektiwiteit gekenmerk word deur ’n fundamentele twyfel, deur ’n gespletenheid – ek is nie meer heel nie, nie meer baas in eie huis nie.
Of laat ek laasgenoemde herverwoord: ek het dit veral oor die subjek (die denkende, spekende, doenende mens) wat nie volledig in beheer is van eie seksualiteit nie. Die versoeking was daar om te sê “nie volledig meester, of meesteres” van eie seksualiteit nie, maar ek wil uiteindelik juis laat blyk waarom ek hierdie woorde nie gebruik nie, en waarom ek byvoorbeeld tot dusver manlike en vroulike voornaamwoorde vermy het – dit probeer vermy het om “hy” en “sy” te sê.
Daar was ’n era, die voormoderne era, toe die mens anders gedink het oor homself en sy denke – ja, dit was per definisie hómself. Dat hy sy denke was en dat hierdie denkende mens homself en sy wêreld volledig kom bedink.
Maar wat het dit alles met Fifty Shades of Grey te make? Kom ek probeer tot die punt kom deur enkele aspekte van die boek/film as verskynsel uit te lig. Ek sal darem ook hier en daar na spesifieke inhoudskenmerke van boek en/of film verwys.
|
Nou moet ek eers my voetwerk regkry om hierdie waarnemings van my tussen Foucault en Deleuze deur te stuur, met, soos ek gesê het, Freud in my agterkop. Daarvoor gee ek eers twee treë terug op die paadjie wat ons denke oor subjekvorming gekom het. Die moderniteit is in vele opsigte ’n reaksie teen die Cartesiaanse cogito, dit wil sê die uitspraak van die 17de-eeuse Franse filosoof René Descarte: Cogito ergo sum – Ek dink, daarom is ek.
(Kom ek sit eers weer ’n versigtige voetjie voor: my opsomming hier is noodwendig ’n oorvereenvoudiging van heel komplekse begrippe wat die betrokke denkers oor duisende bladsye ontwikkel het. Sien dit asseblief as weinig meer as ’n bangerige eerste treetjie.)
Maar die veronderstelling wat deur Descarte verwoord is, en wat onder meer grondliggend aan die Verligting was, is dat daardie ek wat dink, alles deur die denke kan deurgrond, en dan veral ook homself en daardie einste denke van hom volledig kan ken. Al wat buite die denke lê, is God, maar die hele wêreld lê volledig kenbaar oop vir die rede.
Toe kom Nietzsche en Freud en sedertdien is ons nie meer so seker nie. Om die waarheid te sê word die moderniteit gekenmerk deur ’n voortdurende gemis van daardie aanvanklike heelheid, en daar is selfs die veronderstelling dat al ons begeertes verband hou met ’n verlange na daardie aanvanklike heelheid wat nooit weer teruggekry kan word nie. As ons Freud kan glo, dan is ons almal immer verlangend na die eenheid wat ons as baba met ons ma gehad het, dat as dit nie vir die tussenbeidetrede van die vader/Vader met sy vinger in die lug was nie, dan het ons net so teruggeglip na die bloedskandige verknogtheid aan die ma.
Wat was Freud en Nietzsche is vernaamste bydrae ten opsigte van die mens-as-cogito? Hulle het aangetoon dat die filosofie die pot lelik mis sit indien subjektiwiteit volledig in die denke geplaas word. Nietzsche het gesê die oorsprong van ons denke lê in die lyf, nie in die kop nie. En toe sê Freud boonop nie net die lyf het ’n invloed op hoe en wat ons dink nie, maar van ’n gedeelte van ons denke is ons glad nie eers bewus nie, en meer as enigiets word wie en wat ons is, deur ons onbewuste bepaal.
Waarop dit neerkom, is dat die mens allermins baas in eie huis is, soos wat Descarte veronderstel het. Die mens is nie heeltemal heel en omvatbaar nie.
Kort op die hakke van Nietzsche en Freud kom die strukturaliste toe, en hulle beur die kraak in die mens se opvatting oor sigself verder oop deur nie net te bevestig dat die mens nie die middelpunt van alle kennis is nie, maar dat die mens boonop eerder in taal gebore en ontvang word as in ’n natuurorde wat net wag vir ordening deur die mens. Die mens se wording is nie soseer van sy denk- en waarnemingsvermoë afhanklik nie as van die wyse waarop taal werk. Taal het sy eie reëls waarop dit betekenis tot stand bring en daardie proses van betekening het geen noodwendige verband met die wêreld wat daardeur beskryf word nie. En die mens, die subjek wat deur taal “ek” wil sê, is gesuspendeer en versprei in die oneindige en ewig deinende see van be-tekening.
Toe kom Michel Foucault en hy voer aan dat waar ons nou staan in ons denke oor die subjek, ’n gevolg is van wat regtig onderliggend was aan die Cartesiaanse projek, dit wil sê die sentralisering van die rede. Die voorrang wat die rede gekry het en wat op die spits gedryf is in die Verligting, sê Foucault, het juis gebeur deur dit op te stel teenoor sy teenpool, naamlik die nie-rede, die irrasionele, geestesversteuring, kranksinnigheid, patologie, drome, vergissings en selfs so iets soos sintuiglikheid. Dit moes alles weg, die rede moes seëvier as die hoogste en enigste waarde. Dit het gelei tot die ontstaan van geestesgesigte in die 17de eeu.
Kranksinnigheid word die teken by uitstek van alle oortredings en afwykings en perversies. Die rede kan net seëvier indien sy ander, die kranksinnige, stilgemaak en weggesluit word. Dit is een van die heel fundamentele wyses waarop die stelsel, die staat, die gemeenskap getrag het om sigself in stand te hou deur sy subjekte te skei. Deur sy subjekte te skei van dit wat anders is.
Net soos kranksinnigheid is materie ook die ander van die denke. Materie is bot, sprakeloos, ondeursigtig, en gans anders as die helderheid en deursigtigheid van die denke. Die lyf is in sy dinglikheid deel van wat die mens nie is nie, en wanneer Foucault begin dink aan mag en die werking daarvan, dan raak hy veral bedag op die wyse waarop mag primêr op die liggaam en sy luste gerig is. |
Mag betrek die lyf, sê Foucault, en nie soseer die gees of die denke nie. Hy reken materiële instellings (die gesin, die skool, die gevangenis, die kerk) sowel as diskursiewe praktyke (vakdissiplines, strafvertoë, ens) gebruik die liggaam as ’n politieke speelveld, dit wil sê as dié plek waar mag uitgeoefen word om die subjek te vorm. Mag, sê hy, is nie in die hande van enkele uitverkorenes nie, maar is ’n netwerk van kennis- en kontroletegnieke. Mag is dus kontrolerend en korrektief, maar dit is ook produktief in die sin dat dit kennis voortbring. Mag word vernaamlik ingespan om lewe in stand te hou.
Maar toe sê Foucault iets omtrent mag en seksualiteit wat vir ons hier te lande vreemd op die oor val. Die moderniteit word nie soseer gekenmerk deur pogings om seksualiteit te verdring nie, eerder deur ’n toegespitste ywer om dit te laat gedy en te versprei. Mense praat baie meer oor seks as voorheen. Dit word bestudeer. Jy moet met jou dominee daaroor gaan praat, met jou analis, jou seksuoloog. Jy bel in na Radio Rosestad om daaroor te gesels. Maar let mooi op, sê Foucault, dit gebeur alles in ’n hoogs gekodeerde vorm, as ’n kennisobjek, en as sodanig word seksualiteit nie soseer deur mag beheer en gemanipuleer nie – dit is ’n geleier van mag, dit is die kragveld waardeur mag versprei word.
Hoewel ons dink dat seksualiteit iets wesenlik aan ons is, dat ons identiteit daardeur bepaal word, is dit eintlik net ’n sosiale konstruk wat dit makliker maak om beheer te word, wat ons byvoorbeeld in diens stel van ’n kapitalistiese bestel se behoefte aan ’n produktiewe arbeidsmag en nuwe regeringsvorme. Ons praat en praat en praat oor seks, op ’n oënskynlik oop en vrye manier, maar dit gaan nie soseer oor die genot van ons lywe nie, as oor wat mag en wat nie mag nie. Dit is toegespits op byvoorbeeld sekere perversies, dit word veral daardeur gestimuleer. As jy “S&M” sê, spits almal die ore en dit is asof hierdie perversies ’n kans kry om namens hulself te praat en hul positiewe bestaan te bevestig, maar dan juis as perversies, as deel van die hiërargiese kode waarin seksualiteit ’n geleier is van die politiek wat geslagsverhoudings bepaal. En spesifiek van toepassing op Fifty Shades of Grey is dit dalk moontlik om die politieke fokus via die gesprek oor S&M te herlei na presies hoe ’n patriargale, heteroseksuele verhouding in ’n kapitalistiese bestel moet werk.
|
Ek herkou dus, deur alles aan Fifty Shades of Grey, en ek reken byvoorbeeld Foucault het vir ons dalk ’n aanduiding gegee van waarom vampiere en sadiste skielik sexy geraak het, dat dit kan wees omdat dit eintlik die maniere is waarop ons in die politieke bestel oor grense praat, oor wat gepas is en wat nie. Veral wanneer die skyn van algehele vryheid ontstaan, lig die ou slang sy kop en wentel die gesprekke veral om dit wat buite die grense van die aanvaarbare lê.
Maar daar is ook ’n ander manier om daarna te kyk, en dit is waarom ek ook kortliks by Gilles Deleuze en sy kollega Pierre-Felix Guattari stilstaan. Vir Deleuze and Guattari is seksualiteit eintlik niks anders as die voortbring van begeerte nie. Nie seksuele begeerte soos wat Freud ons wou laat verstaan nie; om die waarheid te sê praat hulle spesifiek van begeerte los van voortplanting. Deleuze en Guattari probeer baie hard om die diskoers oor seksualiteit weg te stuur van wat hulle noem “die verheerliking van heteroseksuele genitale seksualiteit”. Om dit as “natuurlik” voor te stel en alle ander vorme van seksualiteit as ’n afwyking van ’n norm, is eintlik volgens hulle ’n wanvoorstelling van hoe seksualiteit eintlik werk. Dit gaan vir hulle nie oor die een of ander normerende of sosialiserende model nie, maar bloot daaroor om te verstaan hoe seksualiteit werk. Dit is vir hulle belangrik: probeer verstaan wat aan die gang is en probeer jou lewe daarvolgens inrig.
Die eerste waarheid omtrent seksualiteit, voer hulle aan, is dat dit orals teenwoordig is: hier in hierdie lesinglokaal, in die wyse waarop ek sukkel om Franse eiename uit te spreek, in die manier waarop die geheime diens selfoonseine afsny, ens, ens ... Die gehele sosiale lewe is deurdrenk van seksualiteit, maar dan seksualiteit wat universeel en onpersoonlik is met ’n oneindige potensiaal vir vertakkings en uitstulpings. Persoonlike toe-eienings van seksualiteit is eintlik maniere waarop by hierdie breë netwerk of konglomeraat ingeskakel word deur dit op ’n spesifieke plek te onderbreek en te herlei. Die breë begeertenetwerk is egter positief en produktief; dit bied ontelbare moontlikhede, oneindige moontlikhede vir geslagtelikhede. Hierdie begeertenetwerk is universeel, nie byvoorbeeld die vestiging van seksualiteit in ’n bepaalde struktuur nie, byvoorbeeld in ’n heteroseksuele gesinsverhouding nie. Ons dink wel anders daaroor, maar Deleuze en Guattari sê dit presies omdat ’n kapitalistiese bestel byvoorbeeld hierdie strukture so kodeer dat die subjekte normaalweg nie dink oor hoe dit eintlik werk nie.
Wat Deleuze en Guattari en Foucault gemeen het, en wat hulle onder meer van Freud onderskei, is hulle oortuiging dat identiteit wat gebaseer is op ’n teenstelling, nie noodwendig bevrydend is nie, omdat die gevaar bestaan dat jy steeds verbind bly tot dit wat jy teenstaan. Onder meer die man-vrou-teenstelling. “Ek is vrou omdat ek anders is as die verdrukkende man.” Om ’n werklike revolusie te bewerkstellig, sê hulle, moet jy begeerte verstaan as ’n niepersoonlike krag eerder as kwasinatuurlike uitdrukking van jou eie perspektief, en presies in kontras met daardie vorme van seksualiteit wat jy as bedreigend of onnatuurlik sien.
Om die werkinge van seksualiteit te verstaan, moet jy jou ideaal gesproke ’n lyf sonder organe kan voorstel, ’n lyf wat genot kan smaak sonder dat dit afhanklik is van ’n heel spesifieke seksualisering daarvan. In hierdie opsig is masochisme as konsep vir Deleuze en Guattari waardevol, en dalk is dit ook waardevol om iets positiefs in Fifty Shades of Grey op grond daarvan te identifiseer, naamlik dat dit die moontlikheid voorhou dat die vrou lyf en nét lyf kan word, dat sy aan haar seksualiteit blootgestel kan word deur die pyn van eie lyf, of die afwagting van hierdie pyn, onafhanklik van enige spesifieke seksualisering daarvan. Ek praat dus van die moontlikheid dat dit ook onafhanklik van die man kan gebeur, en dat die vrou so, deur die ervaring van haar eie lyf los van enige konstruksie kan bewus word van die werkinge van begeerte en hoe dit bepaal word en op ’n spesifieke manier gestalte kry.
Daar is dus ook ’n moontlikheid in Fifty Shades of Grey dat die vrou deur die beeld van masochisme aan seksualiteit kan begin dink as iets wat onafhanklik kan optree van die bepalings en die eise van die kapitaalkragtige man as rigtinggewer, konkreet sowel as simbolies.
Hierdie bydrae is onlangs by die Universiteit van die Vrystaat as seminaarlesing aangebied.