Hello Francois
Voorspoedige nuwe jaar vir jou! As jy goeie paaie wil sien, kan jy gerus maar die TransKalahari-snelweg vanaf Botswana tot by Swakopmund aandurf. Behalwe vir die verskriklike aantal beeste en donkies wat die pad bewei, is dit beslis wêreldstandaard! Ek dink nie ek het selfs ’n klein slaggat die hele pad teëgekom nie.
Tog moet mens in ag neem dat daar nie soveel reën val of soveel verkeer die pad gebruik nie. Toe ek terugkom in Suid-Afrika was dit duidelik dat die reën en swaar trokke die paaie heeltemal verwoes het! Moet tog asseblief nie die pad tussen Swartruggens en Koster aandurf nie. Nie eers ’n 4x4 sal deug nie. Die pad het heeltemal gedisintegreer. Daar is ook geen noemenswaardige waarskuwings nie, so ek voorspel liederlike ongelukke veral saans. Die groot probleem is mense wat na die regterbaan uitswenk ten einde die slaggate te vermy, en natuurlik veroorsaak dit ’n groot gevaar vir aankomende verkeer.
Ook merk ek op dat sedert my terugkeer na Johannesburg, daar ongelooflik baie slaggate in my woonbuurt is. Dit is beslis die weerstoestande wat dit veroorsaak, maar ek is nogal baie nuuskierig om te sien hoe lank dit gaan neem om reg te maak. Gelukkig is hier darem ’n paar privaat maatskappye en inisiatiewe wat die slaggat-kwessie in Gauteng probeer uitsorteer.
So van wêreldklas gepraat. Ek het al duisende myle in die VSA gery, en daar is ook maar paaie wat liederlik afsteek! Ek moes nog ’n vroumens daar in California uithelp toe sy haar hele wiel moertoe gery het teen ’n slaggat wat Kimberley se gat gas kan gee!
Jy is dalk reg. Ons moet dalk kalmer raak oor die paaie en waardeer wat ons het. Tog is dit nie grappies om ’n slaggat teen 120km/h te tref nie. Ek dink ook mens moet maar jou huiswerk doen oor watter roetes gevaarlik is, voordat jy die langpad aanpak of onbekende areas besoek.
So terloops, wie is die "Afrikaanses" waarvan jy praat. Sluit jy nou die sogenaamde bruin mense in?
Groete
FB

