Frances Thomas: Christina Rossetti

  • 0

Ek is so Afrikaans soos beskuit, biltong en boerseep. Dit is vir my moeilik om poësie in enige ander taal as Afrikaans te waardeer; waarskynlik omdat die gevoelswaarde van woorde en die assosiasies wat hulle oproep, so 'n belangrike rol speel. Tog is die volgende sentimentele gedig een van die wat die sterkste tot my spreek: "When I am dead, my dearest, / Sing no sad songs for me; / Plant thou no roses at my head, / Nor shady cypress tree: / Be the green grass above me / With showers and dewdrops wet; / And if thou wilt, remember, / And if thou wilt, forget. / I shall not see the shadows, / I shall not feel the rain; / I shall not hear the nightingale / Sing on, as if in pain: / And dreaming through the twilight / That doth not rise nor set, / Haply I may remember, / And haply may forget."

Kort na die dood in sy 100ste jaar van een van my onderwysers, het ek hierdie gedig aangehaal omdat dit een van sy gunstelinge was (SêNet 7.06.2011). Sy weduwee is verlede maand oorlede en dit het my genoop om terug op die spoor van die digteres, Christina Rossetti (1830-1894), te gaan. Ek wou een van drie biografieë lees: Kathleen Jones se Learning Not to be First: A Biography of Christina Rossetti (1991, 358p, Kindle 2011, $6.50); Jan Marsh se Christina Rossetti: A Literary Biography (1994, 656p, Kindle 2012, $15.12 ); of Frances Thomas se Christina Rossetti (1992, 448p, Kindle 2013, $11.99).

Die titel van Jones se boek het 'n feministiese indruk by my gewek; nie dat ek in beginsel teen feminisme gekant is nie, maar wel teen oordrewe en militante feminisme. Onewewigtigheid en 'n gebrek aan 'n akademies-wetenskaplike aanslag kom dikwels voor as vrouestudie aan veral Amerikaanse universiteite aangebied word. Byvoorbeeld, Byron se dogter, Ada (1815-1852), kan tydens sodanige studie as 'n miskende pionier in rekenaarprogrammering voorgestel word. Soortgelyke verwringing van die waarheid vind natuurlik ook in bv swartstudie plaas. Die betrokke Rossetti-gedig se aanvang lui soos volg: "Not to be first: how hard to learn / That lifelong lesson of the past."

Omdat die oorspronklike publikasiedatum in hierdie gevalle nie deur Amazon in sy Kindle-katalogus verstrek word nie, maar bloot die datum van die Kindle-uitgawe, het ek verkeerdelik aangeneem dat Thomas se boek na dié van Jones en Marsh gepubliseer is en dus by hierdie biografieë baat kon gevind het. Ek het my ook deur die getal bladsye en die prys laat lei en Thomas se boek gekoop. Dit blyk toe dat al drie hierdie boeke op min of meer dieselfde tyd met die oog op die honderdjarige herdenking van Rossetti se dood gepubliseer is. Thomas verwys 'n enkele keer na Jones se studie, maar sy het toe reeds so ver met haar teks gevorder dat daardie boek geen positiewe invloed op haar biografie kon uitoefen nie. Thomas meld ook in haar teks dat Marsh met 'n soortgelyke publikasie gaan kom.

Dit is nie vir my die moeite werd om nog 'n boek oor Rossetti te lees nie. Die gedig in die eerste paragraaf hierbo is die enigste rede waarom ek meer oor haar wou uitvind. Die punt wat ek wil stel, is dat 'n mens meer omsigtig 'n biografie moet kies as wat ek in hierdie geval gedoen het. 'n Mens moet, soos in die geval van 'n huweliksmaat, jou eers na tydsame, sorgvuldige oorweging tot 'n boek verbind. Ek is so teleurgesteld met Thomas se boek dat ek vermoed dat dit beter sou wees om eerder in Jones se biografie te belê, omdat sy ook oor ander digters geskryf het, of in Marsh se boek, omdat sy ook oor ander artistieke onderwerpe gepubliseer het. Albei outeurs wek 'n akademies-wetenskaplike indruk wat skomelik by Thomas ontbreek.

Thomas het nie die Victoriaanse era gekarakteriseer of in ander opsigte Rossetti in 'n breër historiese perspektief geplaas nie; iets wat vanweë die Rossetti's se Italiaanse herkoms belangrik is. Thomas is klaarblyklik nie in staat om die kuns van die Pre-Raphaeliete esteties en gedigte literêr te beoordeel nie; iets wat feitlik onontbeerlik en sekerlik wenslik vir so 'n biografiese studie is. 'n Gesinslid van Thomas het myns insiens die vinger op my hoofprobleem met die teks gelê: die trant of styl is dié van 'n roman en nie dié van 'n nie-fiksiewerk nie.

Deurlopend is daar 'n oppervlakkigheid in wat aangebied word. Hierdie vlakheid veroorsaak dat Rossetti nie oortuigend as 'n eens lewende mens voorgestel word nie. 'n Argument wat as teenvoeter kan dien, is dat die Rossetti's bedrewe was in die vernietiging van dokumente wat hulle aansien kon skaad. Thomas: "Christina has hidden herself away" (Kindle 6711). "I know her as well as anyone can, but that is still to say, not very well" (K 6716). Wat Thomas gedoen het, is om na te gaan wat vorige biograwe bevind het. Sy stem soms met hulle saam, maar wanneer sy met 'n ander vertolking kom, is dit myns insiens nie noodwendig meer aanvaarbaar nie.

My leeservaring van Thomas se boek was ook in 'n ander, onverwagte opsig onbevredigend. Heel moontlik anders as in die gedrukte teks, kom daar in die Kindle-weergawe foute soos verkeerde letterherkenning en die afwesigheid van bv aanhalingstekens voor. Maar dit is nie so erg nie. Wat baie steurend is, is die vorm waarin baie van die gedigte weergegee word: kort, onsinvolle reëls waarin woorde dikwels op enige manier afgebreek word. Die e-teks is nie (deeglik) geredigeer nie. Rossetti sou in haar graf omdraai, want sy het haarself baie moeite met die vorm, bv die reëllengte en die leestekens, van haar gedigte getroos.

Christina se pa, Gabriele Rossetti (1783-1854), was 'n Italiaanse digter en dramaturg wat ook kon teken. Hy het in 1821 weens politieke veranderings na Malta gevlug en hom in 1824 in Londen gevestig. Van 1831 tot 1847 was hy professor in Italiaans aan King's College. Hy het in 1826 met Frances Polidori (1800-1886) getrou, wat 'n suster van John, die vriend en dokter van Byron, was. Gabriele en Frances het vier kinders gehad: Maria (1827-1876), Dante (1828-1882), William (1829-1919) en Christina (1830-1894). Al die kinders het uitdrukking aan hulle artistieke neigings in die vorm van veral poësie en skilderye gegee. Van deurslaggewende belang is dat die Rossetti-gesin in Engeland fanatiek Anglikaans was en nie, soos hulle Italiaanse voorouers, Rooms-Katoliek nie. Verder was daar, van Frances se kant af, in die familie 'n neiging tot neurose, wat periodiek in party gevalle selfs tot waansin gelei het: "She brought with her an unstable genetic mixture, making a potent cocktail when mixed with the volatile Rossetti blood" (K 180).

As volwassenes het Dante en William hulle suksesvol van die religie van hulle ouerhuis losgemaak en agnosties geword. Albei was in 1848 stigterslede van die Pre-Raphaelite Brotherhood wat 'n herlewing van veral Middeleeuse skilderkuns bewerkstellig het. Vir Dante "the Middle Ages was an enchanted dreamland" (K 1044). In daardie opsig het hulle nie aan die Rooms-Katolieke atmosfeer ontsnap nie. Nadat Gabriele weens swak sig vroeg afgetree het, was Frances verplig om teen vergoeding klasse in Frans en Italiaans aan te bied en Maria het 'n inwonende goewernante by vermoënde mense geword. William was egter in groot mate die broodwinner vir die gesin. Hy was 'n klerk in die doeanediens. Na al die genoemde Rossetti's se dood, het William hulle nagelate werk bevorder en hulle geskiedenis te boek gestel: "I have told what I choose to tell and have left untold what I do not choose to tell" (K 2319).

Dante is die bekendste Rossetti, maar die ander Rossetti's kon nie op hom peiltrek vir finansiële hulp nie. Enersyds omdat hy 'n onbestendige lewe gelei het en andersyds omdat hy al hoe meer aan drank en dwelms verslaaf geraak het. Kort voor sy dood het hy gesê: "It is beautiful, the world, and life itself. I am glad I have lived" (K 5910). [Dit herinner aan Ludwig Wittgenstein (1889-1951) se: "Tell them I've had a wonderful life."] Aanvanklik het Dante soms gesinslede soos Frances en Christina as modelle vir sy skilderye gebruik. Mettertyd het hy en William Morris (1834-1896), wat later veral vanweë die Arts and Crafts Movement bekendheid verwerf het, saamgewerk. Dante het egter meer (en te) aangetrokke tot Jane, Morris se vrou, geraak en haar onder andere as model in verskeie van sy skilderye gebruik. Op sy beurt het Morris, wat ook 'n digter was, JRR Tolkien (1892-1973), wat in Bloemfontein gebore is, se literêre werk, asook sy skilderye en tekeninge, beïnvloed. Tolkien was met katolisisme deursuur en het sy vriend, CS Lewis (1898-1963), bekeer, maar (tot Tolkien se spyt) tot die Anglikaanse geloof.

Die godsdienswaan wat deur die twee broers afgeskud is, het sy houvas op hulle ma en twee susters behou. Maria het 'n non in 'n Anglikaanse klooster geword nadat haar liefde in twee gevalle nie beantwoord is nie. "She was to enter the Sisterhood ... 'to obtain from God the grace of conversion' for her brothers" (K 5162). Christina het nie geroepe gevoel om 'n non te word nie en is die enigste kind wat as oujongnooi haar lewe in haar ouerhuis geslyt het. "She had no feeling for making a room homely, or cheery, or attractive, but in her surroundings was formal and neat and precise, more like a nun in her cell than a woman in her home" (K 6223). 'n Ander waarnemer het geskryf: "The complete absence of taste in her clothing made me imagine a lodging house and its mistress" (K 6282).

Christina het drie huweliksaansoeke van die hand gewys, blykbaar veral vanweë religieuse oorwegings. "Various reasons have been put forward, from an unwillingness to leave her mother, to a prudish shrinking from sex and marriage" (K 3809). Sy is "a born celibate" genoem (K 2408). Van naaldwerk het sy nie gehou nie. Weens neurose was haar gesondheid nie goed nie en sy het nooit 'n betrekking aanvaar nie. Christina het wel soms vrywillige welsynwerk gedoen en na haar ma se dood twee ou dames, wat familie was, tot hulle dood in 1890 en 1893 versorg. Op hierdie manier het Christina danksy erflatings 'n jaar voor haar dood finansieel onafhanklik geword. In 1891 het Christina geskryf: "'Surviving' is the lot of old age, and old friends are irreplaceable" (K 6349).

"Hers is poetry unlike anything else in the nineteenth century ... it is intense, confessional, egocentric and solipsistic often, but full of honesty" (K 75). "In 1847, her grandfather paid her the compliment of printing an edition of her poems" (K 957). Aanvanklik het sy haarself egter as nie meer as 'n "rhymester" beskou nie (K 1859). "Christina used her poetry to tell stories and explore emotions as well as to recount her own personal dramas" (K 2303). "It is from William that we take the idea of Christina as a purely spontaneous song-bird, one who composed from momentary inspiration, and with little revision" (K 2660). In 1859 het sy haar bekendste gedig, "Goblin Market", geskryf. "Though nowadays we look on Goblin Market as a story of temptation and sin, to Christina and her contemporaries, it was a story of redemption through sacrifice" (K 3005). Sy het ook prosa geskryf, maar hoofsaaklik van 'n stigtelike, religieuse aard, wat deur bv The Society for Promoting Christian Knowledge gepubliseer is. "Christina was not naturally a novelist; she lacked the novelist's passionate curiosity about the outside world" (K 4561).

By Thomas is daar min simpatie met die soort religie wat Christina geleef het: "Religion of an old-fashioned rigidity that turned life into a bitter and constant struggle for spiritual perfection" (K 64). "Christina lived her life in the narrowest of channels" (K 2362). "For Christina, already sensitive and introverted, the emphasis on sin and self-examination had its dangerous side. Looking for spiritual perfection, she bored deeper and deeper into her own psyche, and the deeper she looked the more she saw that was wrong" (K 646). Christina het die teater as immoreel beskou en haar aan sosiale bedrywighede onttrek. "She gave up playing chess because she found herself liking to win" (K 1322). Om religieuse redes het sy soms gevas en partytjies vermy. Christina noem self dat sy "got into shy and stay-at-home habits" (K 4054). "I sat alone and watched; / My lot in life, to live alone / In mine own world of interests" (K 6030). "I am sick of all I have and all I see, / I am sick of self, and there is nothing new" (K 5818).

"Christina was not a voracious reader of poetry and literature, and towards the end of her life, her reading became more devotional" (K 4101). Die ateïstiese Swinburne het aan haar een van sy digbundels gestuur: "She pasted strips of paper over those lines in the chorus which spoke of 'The supreme evil, God'" (K 4439). Elders word gesê dat sy bloot sekere reëls doodgetrek het (K 5610). "Most writers see fit to dip their pens in holy water before describing her" (K 4626). Namate sy ouer geword het, het die gedigte minder in getal maar meer religieus geword: "I now find I like something with hope in it" (K 5326). Nog later het sy al hoe vetter geword. Christina: "A fat poetess is incongruous especially when seated by the grave of buried hope" (K 5523).

Toe een van haar gedigte in 'n tydskrif verskyn het, "Christina was horrified to find that among the contributors, several wrote from an agnostic standpoint" (K 5582): "I never could be at my ease or happy in literary company with persons who look down upon what I look up to" (K 5587). Nadat Christina "drawings of half-clad fairy children" gesien het, het sy 'n slapelose nag gehad (K 5598). Henry Somerset wou musiek vir enkele van haar gedigte komponeer, maar omdat hy in 'n homoseksuele skandaal betrokke was, het sy toestemming geweier. William en sy vrou het Christina nooit met hulle kinders vertrou nie omdat sy geneig was om hulle religieus te bearbei. Toe een van hierdie kinders ongedoop sterf, het sy hom gedoop. "She would never place any other book on top of the Bible, and in the street, she would step over pieces of paper in case these bore the name of Jesus" (K 6218).

Edmund Gosse (1849-1928) het Christina sedert 1870 geken. Die ervaring wat hy van sy eie religieuse opvoeding gehad het (SêNet 27 Maart), sou by hom groot begrip vir en baie simpatie met Christina se lewenswyse gewek het. "The folds of religion settled around her and turned slowly into stone" (K 5315). "Gradually, her world was contracting ... and her thoughts more than ever centred on the 'other world' and the long, long journey now at last nearing its close: 'Death is not death, and therefore do I hope: / Nor silence silence; and I therefore sing / A very humble hopeful quiet psalm'" (K 6397). Christina skryf: "I now live so much in the other world - or at least I ought to do so, having my chief Treasure there" (K 6476). Sy dig: "Sleeping at last, the trouble & tumult over" (K 6407). Sy het haar naderende dood egter vreesbevange ervaar omdat sy haarself onwaardig vir die hemel geag het.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top