Frances Osborne: The Bolter

  • 2

Kenia is een van die lande waarheen Afrikaners na die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) uitgewyk het. Die land was toe 'n Britse protektoraat. In 1920 het Kenia 'n kolonie geword. Die Afrikaners het hulle in die Wit Hooglande gevestig omdat die laer streke te warm is. Hierdie gebied "had ... been officially reserved for colonisation by whites only and not the fast-growing new Indian population" (Osborne, bron hieronder, Kindle 2142). Britte is na die Eerste Wêreldoorlog, ingevolge die 1919 "Soldier Settlement Scheme" (Osborne K 3397), aangemoedig om hulle in Kenia te vestig. Mettertyd het Afrikaners Eldoret as die hoofsentrum vir die uitlewing van hulle kultuur beskou. 'n Afrikaanse kerk en skool het daar ontstaan. In 1951 het 'n gewelddadige "bevrydingsbeweging", die Mau Mau, met sy aktiwiteite begin. In 1963 het Kenia onafhanklik geword. Teen daardie tyd het baie blankes en Asiate elders 'n heenkome gevind. Afrikanisering en grondhervorming was aan die orde van die dag.

Daar is deesdae die neiging om kolonialisering eensydig as 'n onding af te maak. In werklikheid het ontwikkeling, bv die skepping van infrastruktuur, dikwels tydens kolonialisering 'n hupstoot gekry. Die Britte het bv 'n spoorverbinding van Mombasa aan die Indiese Oseaan oor Nairobi tot in Uganda gebou. Die gewoonte het ook posgevat om veral die Britse koloniste in Kenia met seksuele losbandigheid te assosieer. Dit kan by uitstek aan twee gewilde boeke, wat verfilm is, toegeskryf word: Karen Blixen (Isak Dinesen, 1885-1962) se Out of Africa (1937, rolprent 1985) en veral James Fox (gebore in 1945) se White Mischief (1983, rolprent 1987). Sedertdien het daar verskeie boeke oor hierdie onderwerp verskyn.

Een hiervan is Frances Osborne (gebore in 1969) se The Bolter (London: Little, Brown, 2008, 320p). Nog 'n rede waarom hierdie boek my geïnteresseer het, is omdat die hoofpersoon, Idina Sackville (1893-1955), haar verskyning as 'n karakter is drie van Nancy Mitford (1904-1973) se romans maak. Dit is hier waar Idina die bynaam "The Bolter" gekry het. Idina was die dogter van Gilbert Sackville (1869-1913) en Muriel Brassey (1872-1930). Idina het 'n suster, Avice (Avie, 1897-1983) en 'n broer, Herbrand (Buck, 1900-1976), gehad. Die outeur is die agterkleinkind van Idina. Haar belangstelling in haar oumagrootjie is geprikkel omdat niemand in haar familie graag oor Idina wou praat nie; daarvoor is haar lewe as te skandalig beskou. Die boek is op uitstekende navorsing gebaseer en die formulering is deurgaans puik.

Idina was vyf voet drie duim lank. "She was, despite her small stature, famous for her seamless elegance" (K 79). Veral vanweë haar "weak-chinned face" (K 1979), of "shotaway chin" (K 48, 377), was sy nie mooi in die konvensionele sin nie. "She could nonetheless 'whistle a chap off a branch'" (K 48). As jongmeisie is van Idina gesê: "She was very much at ease with the opposite sex. And sex, or rather sex appeal, was what Idina, both confident yet longing to be reassured, and thus willing to go a little further towards extremes than anyone else, promised from every pore" (K 414). As volwassene is sy as belese, intelligent en as 'n "tireless pleasure-seeker" (K 133) met "bedroom-blue eyes" (K 377) beskou.

Plesier was in haar gene. Idina se pa het haar ma vir 'n "cancan dancer" (K 226) verruil toe sy net vier jaar oud was, maar daarna teruggekeer. Hy was as "Naughty Gilbert" bekend (K 233). Idina se ma was ook onkonvensioneel: "Muriel was pushing the boundaries of traditional society by opening Britain's first mixed sea-bathing area" (K 269); voorheen het mans en vroue apart geswem. In 1901 het Gilbert en Muriel geskei; iets wat in daardie stadium feitlik onbekend was: "A woman who obtained a divorce faced exclusion from the somewhat hypocritically bed-hopping high society" (K 302).

Gilbert het daarna twee keer getrou. Muriel het nie weer getrou nie en haar as sosialis eerder vir vakbond- en vroueregte beywer. Sy is as 'n "class traitor" beskou (K 399). Muriel het teosofisme aangehang, "advocating abundant recreational sex" (K 352), en die victoriaanse waardestelsel verwerp. In 1911, toe Idina 18 was, het die Edwardiaanse era reeds aangebreek: "The age of chaperones had more or less vanished" (K 388). Die vermyding van ongewenste swangerskap was noodsaaklik maar nie maklik nie. "Real freedom came only with marriage" (K 395).

Euan Wallace (1892-1941) was Idina se eerste man. Hulle is in 1913 getroud. "He was rich and handsome, she was glamorous and daring" (K 647). Euan was nie lid van die aristokrasie nie, maar die enigste kind van skatryk ouers. Hy het van die sosiale lewe gehou, terwyl Idina eerder avontuur begeer het. "Newly-wed, and the fear of pregnancy diminished, Idina completed her introduction to sex: an activity for which she not only discovered she had a talent, but which she clearly found so intensely enjoyable that it rapidly became impossible for her to resist any opportunity for it" (K 571). Hulle het 'n seweverdiepinghuis met twintig kamers in Londen gehad en een met meer as 'n honderd vertrekke te Kildonan, Skotland, beplan. Die Eerste Wêreldoorlog het die bouwerk vertraag. Euan het in 1914 na die gevegsfront vertrek en hulle eersteling, David (1914-1944), is kort daarna gebore, gevolg deur Gerard (1915-1943). Euan is in die oorlog gewond en het in 'n Britse hospitaal herstel, voordat hy weer na Frankryk is.

In 1917 in Parys het Euan vir Idina "a vast moonstone of a pearl ring" (K 1060) gekoop wat sy tot haar dood gedra het. Tydens die lang periodes van skeiding weens die oorlog was albei ontrou. Idina het aan 'n longkwaal gely en 'n operasie ondergaan. Wanneer sy siek was, het Euan onder andere vir Barbara (Barbie, 1898-1981), die dogter van die argitek Edwin Lutyens, uitgeneem. Edwin was een van Victoria Sackville (1862-1936), die ma van die skryfster Vita Sackville-West (1892-1962), se vriende. "First Euan's absence had left Idina to build a life for herself and her children on her own ... when she had been ill, he had built his own life - and had done so with such success that he now appeared to forget that he had a wife and children" (K 1300).

Idina se tweede man was Charles Gordon. Hulle is in 1919 getroud nadat Idina in dieselfde jaar geskei het; een van duisende "war-damaged marriages" (K 1855). "Idina mistake was in having left Euan, not in having married him" (K 1858). Euan het in 1920 met Barbie getrou en toesig oor sy twee kinders gekry omdat dit onwys geag is om hulle in Afrika te laat opgroei. Idina moes ook onderneem om nie met haar kinders in verbinding te tree nie. Charles was voorheen in Oos-Afrika en sou daarheen terugkeer. Idina het die skatryk Euan vir 'n arm man verruil. Sy het egter genoeg geld gehad om 'n plaas van 3000 akker in Kenia in die omgewing van Gilgil te bekom. "She had neither fallen sufficiently out of love with her old husband, nor sufficiently in love with her new one. And she had had to give up her children" (K 1644).

Idina en Charles het 'n huis gebou. Die lewe in Kenia was idillies en het Idina se sug na avontuur bevredig. Maar "within a few months of arriving in Kenya, Idina's second marriage started to go wrong" (K 1752). Charles was te "laidback ... too relaxed" (K 1756) na Idina se sin. Charles het Idina as 'n "nymphomaniac" beskou: "Before, Idina had taken lovers while her husband had been away. Now she needed them ... even when he was around" (K 1759). In 1921 "the marriage was well and truly over" (K 1814). Hulle het in 1923 geskei.

"She had shown herself to be not a woman who had erred once but an errant woman" (K 1865). "She had become a social outlaw" (K 1868). "Socially outlawed and branded a wicked woman, Idina clearly decided she might as well be as bad as she could" (K 1877). "This was a woman, wrote [Michael] Arlen [in The Green Hat], who 'walked, oh, impersonally, in the fires of herself'" (K 1905).

"The outside world, however, saw none of the torment and only the scandal in Idina's life. As she moved from bed to bed to satisfy her cravings, all of them: not just for sex but for company, affection and perhaps in the hope that this new liaison might be 'the one' who would change her life again, her reputation as a seductress spread" (K 1909). "Her name became a byword for disreputable behaviour" (K 1913). "In repeatedly divorcing, Idina was regarded as a class traitor - just like her mother Muriel" (K 2037). "Idina's greatest sin was not her need for new sexual excitement but that 'she insisted upon marrying her boyfriends', as her brother and others said" (K 1953).

Op 30-jarige ouderdom het Idina die 21-jarige Josslyn Hay (1901-1941), 'n amptenaar in die Britse Foreign Office, in Engeland ontmoet. "At the age of fifteen he had been expelled from Eton ['n skool vir vermoënde mense] for being caught having sex with a housemaid twice his age" (K 1989). Hulle is in 1923 getroud. "Flying in the face of tradition, she had had her outfit made in the traditionally unluckiest colour for brides - green" (K 2016). Joss was Idina se derde man en hulle het hulle in Kenia gevestig. Hulle het per skip van Engeland na Mombasa gereis. "While Idina was having a drink before dinner in the ship's cocktail bar, he slipped into a female passenger's cabin" (K 2051).

Vir Idina "the obvious solution was to marry Joss, but to have an open marriage. Each of them could then have sex with whomever they felt like without their marriage being destroyed" (K 1960). "Joss was serially unfaithful from the start. Idina professed not to mind" (K 1968). "She ... claimed ... she had taught him to behave like that" (K 2054). Een van Joss se vriendinne was Alice Silverthorne, 'n Amerikaner wat met "the young French Count" Frédéric (Fred) de Janzé getroud was (K 1972). "Idina began to rely on Alice to return Joss to her, and Alice relied on Idina's acquiescence whenever she and Joss had a fling. Gradually the two women became friends, waiting together for him to return from whichever third bed he had slipped off to" (K 1976).

Hierdie keer het Idina nie 'n plaas gekoop nie, maar 2000 akker gehuur en weer 'n huis gebou. Sy het so vry gevoel "that you can see the four walls of your freedom" (K 2104). In Kenia was dit haar gewoonte om 'n manshemp en 'n fluweellangbroek, of 'n kortbroek, aan te trek en kaalvoet te loop. Sy was net vir een ding bang: "old age" (K 2114). "There was one thing that neither Joss nor she could do without: sexual adventure" (K 2122).

Van die hoëlui Britse setlaars is gesê: "All had been brought up to regard marital fidelity as infra dig and extramarital sex a normal course of behaviour. The key criterion between good and bad behaviour was discretion and remaining tight-lipped about others" (K 2139). "A lover was likely to be a full morning or afternoon's drive each way" (K 2145), "for which an excuse - such as needing to look at some potential livestock - would be politely, if barely plausibly, concocted, and equally politely, if incredulously, accepted" (K 2149). Die Britse owerheid het seksuele losbandigheid onder die koloniste afgekeur. "If the settlers were seen to be a bunch of wife-swapping sybarites and in any sense 'going native' they would lose their moral authority and appear less safe pairs of hands for the British colony" (K 2251).

'n Onderskeid is tussen "hands-on and verandah farmers" (K 2153) gemaak. Joss was nie in alle opsigte sleg nie: "Joss did not drink alcohol. He said, quite openly, that he did not want 'to impair my performance'" (K 2226). Nadat Diana Denyse (Dinan, 1926-1978), Joss en Idina se dogter, gebore is, was daar twyfel oor wie die biologiese pa is. "The baby Diana was, however, clearly Joss's, although the hard evidence only produced itself several decades later when Diana's eldest son, Merlin, grew into the spitting image of his grandfather" (K 2331).

Cyril Ramsay-Hill het hom met sy tweede vrou, die geskeide Mary Maude (Molly), in Kenia gevestig. Joss en Molly het 'n verhouding aangeknoop. "Joss commented that, after three years, a lover becomes 'a drain on one's vitality'" (K 2414). "Caswell Long, known as 'Boy', was, alongside Joss, the other leading glamour boy of the Highlands" (K 2432). "Idina and Boy began an intense affair" (K 2440). Die Wanjoli-vallei was teen hierdie tyd algemeen as "Happy Valley" (K 2468) bekend. "Happy Valley ... was earning the country an international reputation as a 'love-colony'" (K 2472). Cyril het in 1926 na Europa vertrek. "The unsuspecting Ramsay-Hill asked Joss, his so-called good friend, to keep an eye on his wife" (K 2501).

In die Wanjoli-vallei het alles nie altyd gelukkig verloop nie. Raymond de Trafford, 'n dobbelaar en dronkaard, het soos Joss 'n verhouding met Alice de Janzé aangeknoop. Haar man, Fred, het toe liewer met haar na Parys uitgewyk. In 1927 is die nuus in Kenia ontvang dat Alice vir Raymond en haarself geskiet het. Raymond wou met Alice trou maar sy Rooms-Katolieke familie het daarop aangedring dat hy die verhouding beëindig. Albei het die skietvoorval oorleef, maar Alice is in Parys van poging tot moord aangekla. Sy het 'n opgeskorte vonnis van ses maande gekry en in Januarie 1928 na Kenia teruggekeer. In Maart is sy gedeporteer. Na haar egskeiding was sy net drie maande met Raymond getroud, voordat hulle uitmekaar is en sy weer haar opwagting in Kenia gemaak het. In 1928 is Joss se pa oorlede en kon hy en Idina hulleself "Lord and Lady Erroll" (K 2580) noem.

"Cyril was becoming annoyed with the Happy Valley crowd using his house as a watering hole and an incessant flow of 'unwelcome guests who began drinking immediately after breakfast', as he later wrote, and he failed to see through the cover that it was for his wife's affair" (K 2591). By geleentheid het hy met my voertuig en 'n pistool 'n trein agternagesit waarin Joss en Molly was. Toe hulle in Nairobi aankom, was Cyril daar. "I had thought of killing him, but a friend advised me that losing a wife was preferable to losing one's life by hanging" (K 2638). Hy het Joss egter op die stasie met 'n sweep bygekom. Die paartjie is vort na Londen. In 1928 was Idina 35 jaar oud. "This time she had been the one abandoned" (K 2651). In 1930 het sy die derde keer geskei en is Joss en Molly getroud. Hulle het na Kenia teruggekeer.

Idina het Londen in 1928 besoek. Daar het sy 'n verhouding met Oswald (Tom) Mosley (1896-1980) aangeknoop. In daardie stadium was hy met Cimmie Curzon (1898-1933) getroud. (Oor die Curzon-susters, SêNet 13.11.2012.) Met die dood van haar ma in 1930 is Idina finansieel bevoordeel. Sy het haar plaas opgeveil en op 'n ander terrein, Clouds, die derde keer 'n huis gebou en 'n melkplaas tot stand gebring. Dit het gebeur nadat sy in 1930 met haar vierde man, Donald Haldeman, 'n in Engeland-gebore seun van 'n Amerikaanse vervaardiger van hemde, getroud is. Hy het safari's in Kenia gelei. "Unlike Joss, he was not a compulsive womaniser, ready to wander off [at] a moment's notice. Quite the opposite: he was fiercely protective of Idina. For the sexually driven Idina to marry a protective husband was nothing short of folly" (K 2769).

Anders as haar vorige mans, "Donald ... did not take Idina's infidelities in quite such a matter-of-fact way. Instead his previously appealing fierce protectiveness erupted into ferocious anger" (K 2831). "His devotion had evolved into obsession" (K 2839). Toe Donald in 1933 vroeg van 'n safari teruggekeer het, het hy op 'n motor geskiet wat vinnig van die huis vertrek het. Toe het Idina 'n kind gehuur om die pad na die plaashuis dop te hou en op 'n drom te slaan as 'n motor in aantog is, sodat haar besoeker met 'n ander roete kon vlug. "Donald was now trying, quite literally, to shoot any man he suspected might be her lover ... She decided to tell Donald that she was leaving" (K 2842).

In 1934 het Idina en haar dogter, Dinan, maande in Engeland deurgebring. Idina se broer, Buck, het aangebied om Dinan in 'n skool te plaas en te versorg. Later het Idina se suster, Evie, wat kinderloos was, Dinan se pleegma geword. Teen hierdie tyd het Idina se eerste man, Euan, drie kinders by sy tweede vrou, Barbie, gehad: John (1922-1946), Peter (1923-1944) en William (1925-1972). Idina se twee seuns, David en Gerard, was onderskeidelik 19 en 18 jaar oud. Idina het hulle die vorige 15 jaar nooit gesien nie. Gerard wou niks met haar te make hê nie, maar 'n vriendin het vir Idina 'n ontmoeting met David gereël. Hy het toe aan die Universiteit Oxford studeer en was intelligent maar ook verward en het die lewe van 'n boemelaar gelei. Hy het kommunisme en sosialisme aangehang en was onseker of hy 'n priester moet word. "Maybe she had shown him that the Church was not the only source of tenderness and love" (K 3128).

Met Idina se terugkeer na Kenia het Donald, haar vierde man, reeds haar huis ontruim. "She needed to fill the gap. This time she decided to fill it with a boyfriend rather than a husband" (K 3214). Sy naam was Chris Langlands, 'n vlieënier. "Living with a boyfriend had appeared the perfect way to balance her longing for adventure and domesticity" (K 3234). Sy het later voorgestel dat hulle trou, maar hy was onseker en sy het eers in 1938 van Donald geskei. Chris het twee jaar by haar gewoon.

Idina se seun, David, het 1937 met 'n studiebeurs in Griekeland deurgebring. Idina het daar vir hom gaan kuier. In Januarie 1939 het David met Prudence (Pru) Magor getrou. Twee maande later het Idina vir die vyfde keer getrou. Die man se naam was Vincent (Lynx) Soltau, 'n vlieënier. Ses maande later het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Lynx is van Mombasa na Kairo geplaas. Idina het hom daar besoek.

Joss, Idina se derde man, was teen hierdie tyd lid van Kenia se wetgewende raad. Sy vrou, Molly, was ernstig siek. Teen die einde van 1940 het Joss 'n verhouding met 'n nuwe aankomeling in Kenia, Diana Delves Broughton, aangeknoop. In Januarie 1941 is Joss dood met 'n skietwond in sy motor naby Nairobi aangetref. Jock, Diana Delves se man, is van die moord verdink, maar is na 'n verhoor vrygespreek. Alice de Janzé, een van Joss se vriendinne, het daarna selfmoord gepleeg deur haarself te skiet. Jock het 'n jaar later dieselfde in Engeland gedoen. Joss se moordenaar is nooit geïdentifiseer nie. Hierdie moord is die hooftema van James Fox se boek, White Mischief.

'n Verdere terugslag vir Idina was toe Euan in 1941 aan maagkanker oorlede is. "From time to time Lynx came home on leave but the gaps in between his appearances lengthened" (K 3490). Idina "became increasingly indiscriminate in her choice of lovers" (K 3494).

Gedurende die oorlog het Idina se seun, David, vir die Britse Foreign Office in Griekeland gewerk. Hy en Pru het twee dogters, Laura (gebore in 1941) en Davina (gebore in 1942, die outeur se ma), gehad. David se gesin het in die veiliger Engeland gewoon. Idina se ander seun, Gerard, is getroud en is as vlieënier na Mombasa verplaas. Hy het sy ma daar na 25 jaar weer gesien. Aanvanklik wou mense Gerard nie na sy ma neem nie vanweë haar "dreadful reputation" (K 3528). Vier maande na sy aankoms in Kenia het Gerard en sy vliegtuig in 1943 vermis geraak.

David is van Athene na Kairo verplaas waar hy 'n verhouding met een van die sekretaresses in die ambassade aangeknoop het. Daarna is hy terug na Griekeland. In Augustus 1944 is hy in Menina doodgeskiet toe hy en Griekse guerrillas met Duitse troepe slaags geraak het. Die dood van Joss, Euan, Gerard en David so kort na mekaar het Idina gebroke gelaat. Sy het troos in sigarette en drank probeer vind. "I should never have left Euan" (K 3572). In 1945 het sy begin om pyn te ervaar. Aanvanklik is dit aan neurose toegeskryf. Dit dokter het aanbeveel dat sy haar plaas, Clouds, in die Wit Hooglande verlaat en haar aan die kus vestig. Sy het in 'n huis in Mombasa gaan bly. "But she never fully recovered" (K 3658).

Na die oorlog het die kinderlose Elizabeth, Gerard se weduwee, selfmoord gepleeg. David se weduwee, Pru, en haar twee kinders het in Griekeland, waar David begrawe is, gaan bly. Hulle het later na Engeland teruggekeer en Pru is met 'n Wallieser getroud. Dinan, Idina se dogter, is in 1946 getroud. Agt jaar het toe reeds verloop sedert sy haar ma gesien het. Die koningin en die prinsesse, Elizabeth en Margaret, is na haar troue genooi, gevolglik is dit vanweë Idina se reputasie onwys geag om haar ook te nooi. In 1948 is Dinan se eerste kind, Merlin, gebore. Idina het Engeland besoek en by haar broer, Buck, gebly, maar nie vir Dinan en Merlin, wat toe in Edinburgh gewoon het, gesien nie. Idina is op hierdie besoek vergesel deur "her new escort, a tattooed former sailor called James, or Jimmy, Bird, who managed her farm in Kenya" (K 3686).

In 1950 het Idina en Jimmy Engeland weer besoek en by haar broer gebly. Dinan se man, Iain Moncreiffe, was 'n aspirantskrywer. Sonder om te noem dat Idina daar is, het Buck hulle vir ete genooi met as lokaas dat die skrywers Vita Sackville-West en haar man, Harold Nicolson, ook daar sou wees. Dit was 12 jaar sedert Idina en Dinan mekaar gesien het en Merlin was reeds twee jaar oud. "Idina managed to win her daughter round" (K 3705). Hulle het daarna gekorrespondeer.

"When Idina had announced that she was considering marrying Jimmy next, an inevitably horrified Dinan had asked her not to. Instead of taking a sixth husband, why didn't Idina simply return to her maiden name of Sackville, and keep it? Idina agreed" (K 3718). "Jimmy nonetheless stayed with her, becoming known in Kenya as James VI. In reality he tolerated Idina's still-wandering sexual appetites and pursued his own with the same sex. It was a non-marriage of convenience" (K 3741). Idina het Dinan gevra om haar tweede kind na Euan te vernoem. Sy name is Peregrine David Euan. Peregrine het ses kinders. Twee van hulle heet onderskeidelik Euan en Idina.

In 1951 kon Dinan en haar gesin nie Kenia besoek soos beplan nie omdat die moordbendes van die Mau Mau dit te gevaarlik gemaak het. Baarmoederkanker is by Idina gediagnoseer en sy het in 1953 'n operasie in Nairobi ondergaan. Haar broer, Buck, het van Engeland gekom en haar mediese uitgawes betaal. Maar die kanker het teruggekeer. In 1955 het Dinan haar derde kind verwag. Daar is toe gehoop dat die voorgestelde safari die volgende jaar kon plaasvind. Idina is egter as 62-jarige in 1955 oorlede met 'n foto van Euan by haar bed. Buck het gekom en sy suster begrawe. Vita Sackville-West het 'n doodsberig in The Times gepubliseer. Sy het die Chinese digter, Wu-ti (157-87 vC), aangehaal: "The sound of her silk shirt has stopped ... Longing for that lovely lady / How can I bring my aching heart to rest?" (K 3792).

Die outeur het Idina se eertydse plaas, Clouds, in 2004 besoek. Peter Nuthu Mughiri en sy ses kinders, met hulle mans en vroue en hulle kinders, het in die vervalle huis gewoon.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Aardeland! So eintlik het sy eensaam gesterf, al het sy deur die manne gevlieg. Die mens sal maar altyd opsoek wees na ware asook goddelike liefde ... Net jammer sommige soek dit op verkeerde plek.

  • Ek het groot geword met die idee dat 'n mens nie 'n groot getal fantastiese eienskappe by 'n Engelsman moet soek nie. Johannes se verhale bewys tog dat hulle vermoëns gehad het, meestal wat die Bybel beskryf het as: “hulle eer is in hulle skande” - voorwaar! As hierdie kwaai jeuking nou nog met Kenia se hitte gekombineer word gee dit noodwendig 'n groot neukery af. Dis eintlik lank na die gebeure (gelukkig vir die oortreders (?)). Nogtans Johannes, ons lees lekker – Trienie geniet dit ook. Groetnis. George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top