Fotoverhaal

  • 0

Geskryf deur ’n tampaxtiffie

Ek draai die foto in my hand om. Ek word onmiddellik yskoud. Agterop, in 'n jong, vreemde handskrif staan: “Lief jou”, en onderaan die datum, 28 Junie 1979. Ek het 'n bliksmaak in my mond en my ore suis. Ek staar met onbegrip na die stukkie geskiedenis in my hand. Ek draai dit weer terug. Dit is dieselfde foto. 'n Jongman met 'n reuse-glimlag het sy arms om 'n meisie wat skaam na die fotograaf loer. Ek herken haar, al is dit byna dertig jaar gelede geneem. Hoekom is dié foto hiér, hoe beland dit in my huis, in ons kamer voor ons kas se deur?

“Pappa! Pappa!” Ek hoor my kind roep, maar ek sukkel om op haar stem te fokus - my aandag ver weg van die hede.

Die chopper se lig soek-soek na ons in die digte bosnag. My hart klop in my keel. Ek het 'n vermoede van die onheil wat in die chopper op ons wag. Laatnag casavacs is eenvoudig net meer sinister. Die skerp lig vind ons. Die chopperlemme kap doe-doe-doe deur die stofgelaaide lug. Die boshoed oor my neus en mond kan nie die stof uit my asem hou nie.

Die Frelon kom hurk swaar in Ovamboland se sand. Die skuifdeur is reeds oop. 'n Donker onheilspellende gat. Vliegtuigbrandstof, olie en stof ruik na angs en dood. My mond is droog. Die adrenaliengloed maak my arms warm en laat my hande liggies bewe. Ek dwing my lyf gebukkend vorentoe, teen my weersin in. Ek weet wat kom.

“Het jy hom?” vra die vlugsersant en begin die draagbaar uitstoot sonder om op my antwoord te wag. Ek is effens van balans af en die dekselse ding is swaar, maar ek vind strompelend weer my ewewig terug. Ek moet 'n paar treë agteruitloop met die draagbaarhandvatsels gesighoogte, die gewig deur my elmboë teen my lyf gestut, totdat Dries die ander kant by die vlugsersant kan oorneem.

“Stadig, daar's nie haas nie. Hulle is almal gone – 'n personeelmyn. Gaan bêre hulle mooi, kêrels,” skreeu die vlugingenieur oor die choppergeraas.

Koue sweet en hoendervel slaan op my gesig uit. Ek kan nie baie in die donker uitmaak van die dooie massa wat hier teenaan my gesig op die draagbaar lê nie. Ek kan dit net ruik. Bloed, kruit en kots. Ek veg teen my instink. Doen die dril. Sak, wissel arms, draai om, looppas tot by die Unimog-ambulans, omkeer, lig, skuif in. Dit haak vas. Iets koud en klam druk teen die vel in my binne-arm vas. “Stop, fok Dries.” Dit is 'n stomp-afgebreekte mensrugstring, gestroop van als wat na mens lyk, sien ek in die ambulans se lig. Ek sien ook daar is twee mense, of eerder een halwe en nog 'n driekwart-lyf op die draagbaar. “OK, stoot, ek's reg.” Maar ek ís nie reg nie – ek weet ek gaan nooit weer wees soos ek was nie.

Ek probeer die taai roesbruin vlek op my arm met die boshoed afvee. Dit voel asof die kol doodsheid op my vel 'n gat in my gaan brand. “Mensbloed is giftig,” het die dokter in bevel van ons veldhospitaal in ons ingedril.

“Hou op met skrop, daar's nog.” Dries se stem is 'n paar oktawe hoër as normaal. Sy gesig is grys van die stof en 'n modderige streep strek van sy ooghoek skuins oor sy wang. Hy lyk nie lekker nie.

Ons is terug by die chopper.

“Julle moet roer, susters. Ons kan nie heel fokken aand op julle nes sit nie. Da's baie kak om op te ruim in sektor een zero,” gil die loadie op ons. Ek is hol, daar's niks in my nie, my kop is leeg, dis net my ingewande wat in my wange sit wat keer dat ek nie die verdomde PF vervloek nie.

Die tweede draagbaar is aansienlik ligter. Ek sien eers net 'n hand wat oor die rand van die draagbaar hang. Dis baie vuil, grond en bloed en pikswart gebrand. In die ambulanslig sien ek sy gesig. Die helfte wat nog vel aan het, laat my vir 'n sekonde dink dis Chris Vorster wat saam met my op skool was, maar sy hare was baie rooi. Dié makabere halwe gesig se hare staan stokstyf orent op sy kop. Hy is oortrek met stof. Dis net die wit van die tande wat ek in die oop, vellose kakebeen as 'n ander kleur kan onderskei.

Die Frelon-helikopter gooi ons vir oulaas onder stof voor dit die digte nag instorm.

Dries vroetel met die aansitter van die Unimog. Hy vloek vreeslik, kry die groot masjien aan die gang, laat dit bokspring en vrek. Hy herhaal sy vorige sin met meer oorgawe. Ons is eindelik in die pad. Dries brand die Mog dat die enjin fluit, sy groot lyf hang oor die stuur. “Fok, fok, fok,” prewel hy hardop my eie gedagtegang. Die ergste lê nou vir ons voor.

Daar is ’n siek, soet chemiese reuk in die lykhuis. Ek wil stik aan die ontsmette lug en ek weet dit kleef vir lank aan jou klere nadat jy die kil, walglike atmosfeer verlaat het.

Ek en Dries stoei ons doodse vrag onder die ysige helder ligte in. Twee vreesagtige miskruiers wat generaals se stront aanrol. ’n Diep, diep emosionele alleenheid maak ’n groot nes in ’n seer holte net bokant my maag. Ek veg met alles wat nog in my oor is teen die wilde weghol-angs wat al sterker word namate ons grusame taak nader kom. Dries swets aaneen. Ek neem aan dit help hom om te fokus. Ek trek die sjirurgiese handskoene oor my bewende vingers. Die rubber klap op my polse as ek dit finaal styftrek. Ek en Dries loer vir mekaar oor die gesigsmaskers en staal ons.

Eers moet die klere afkom. Alle besittings en ID-boeke moet uit die sakke kom en in plastieksakke saam met die lyk in 'n body bag geberg word. Ek trek die man met die halwe gesig se stewels uit. Hulle was lank in die veld. Dit tref my dat hierdie yskoue, stywe, wit voete steeds kan stink. Hy het vanoggend op sy slaapsak in die veld gesit en hierdie kouse aangetrek, gewonder hoeveel kilo’s hulle sal moet stap, sy ratpack- ontbyt beplan – onwetend, onskuldig.

Ek trek die broek af oor die stywe bene. Ek ruik die pis. Die hemp moet ek los knip. Die materiaal is hard waar die bloed gestol het en die skêr knip makliker daardeur. Sy skouer is byna weggeskiet. Hy was seker ’n derde myl van die ontploffing af. Die skade is aan die ander twee se onder- en middellywe. Hy het die skrapnel met sy bolyf ontmoet. Ek sukkel om die mou tussen die rou vleis van sy borskas en skouer los te kry. Skielik is ek deur die naat. Sy arm val van die tafel af. Dit land op my stewels. Die vingers lê bo-oor my regterstewel. Klou my vas. Ek ruk die masker van my gesig af. Kyk magteloos hoe my kots oor die vloer spat teen my broekspyp op. My lyf bly ruk. Ek vee my mond met my mou af, tel die arm op. Ek kots weer tussen my stewels. Ek bly gehurk sit tot my lyf bedaar.

Dries staar my uitdrukkingloos aan. Sy gesig is papierwit. Sy oë wyd en klam. Ek gaan aan met my werk. Ek moet hom gewas kry. Eers spuit ek die ergste stof en bloed af. Die plek word vol met 'n koperagtige reuk wanneer die bloed en water meng. Dit loop van voor van die draagbaar af tot op die vloer. Ek begin hom met 'n groot spons was. Ek los die oop rou dele vleis en was net die vel. Die vel aan sy gesig is soos skuurpapier. Die ontploffing het sand in sy vel inforseer. Ek was eers die saamgekoekte stof uit sy enkele starende oog voordat ek probeer om die lid daaroor te trek. Dit bly effens oop en ek los dit so. Al wat ek nog voel, is dat my mond droog is. Verder is dit doodstil binnekant.

Ek en Dries help mekaar om die lyke elkeen in 'n dik rubberagtige body bag toe te zip en in die koelkaste te pak. Die sakkies met persoonlike besittings moet eers deur die senior mediese offisier by die siekeboeg gedokumenteer en afgeteken word. Ons sal dit môre terugbring.

Ons sit op die trappies voor die lykhuis. Ons sit starend en rook. Ek gril vir my hande. In die plastieksakkie is daar 'n stukkie hout waaraan hy gekerf het. Dit lyk soos 'n miniatuur-R1. Sy sakmessie. ID-boek. Sonder om te dink haal ek die boekie uit. Bloed het die bladsye bevlek en onder die plastiekomslaggie ingewerk. Dit is nou droog. Ek blaai oop. Cornelius Gerhardus Verwey.

Iets glip agter uit die omslag en dwarrel tot op die trap voor my. Ek tel dit op. Draai dit om. Dis 'n foto. Cornelius Gerhardus Verwey, met 'n reuse-glimlag, het sy arms om 'n meisie wat skaam na die fotograaf loer. Ek merk die meisie se oë op. Sy is nie besonder mooi nie, maar haar oë praat oor goed ver van hier. Skielik kom al die lewe weer terug in my lyf. Ek wil verstik aan die bol emosie in my keel. Ek probeer die bloedkors van die foto afvee, maar dit word net erger en ek los dit. Ek kan my oë nie van die foto af hou nie. Dit is soos 'n oomblik se kalm stilte in hierdie nag se grusame geraas. Agterop in 'n mooi meisiehandskrif: “Lief jou ook - 28 Junie 1979.”

Ek kan dink hoe Cornelius Gerhardus Verwey vanoggend ook met sy vinger oor die foto gevryf het. Verlangend. Nou lê hy stukkend, toegezip in 'n donker rubbersak. Gebêre in 'n donker yskas op 'n yskoue staallaai. En sy weet van niks. Sy droom nog, verlang nog. En hy is yskoud, weg, weggeskiet, weggebloei, weggebêre.

Ek skiet my stompie die nag in. Die vuurrooi kool spat met 'n klein ontploffing in die donker uitmekaar.

“Pappa, Mamma roep!” My dogtertjie se ongeduldige stem ruk my terug na die hede en ek skrik vir haar armpies wat sy van agter om my nek gooi. Sy kyk oor my skouer. Sien die foto. Haar lyfie ruk styf.

“Dis Mamma se wegsteekfoto’tjie – waar kry Pappa dit?” beskuldig sy my met trane skielik vlak in haar stemmetjie.

• Tampaxtiffie is ’n naam, spottenderwys gebruik, vir ’n hospitaalsoldaat in die grensoorlog. Rofweg vertaal, ’n werktuigkundige wat bloeding moet stop.

•  Casavac is die akroniem vir “casualty evacuation”, ’n weermag term wat verwys na die ontruiming van beseerdes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top