Foto's en commendatio's: Drie ATKV|SA Akademie-pryse oorhandig

  • 0

Drie van die ag ATKV|SA Akademie-pryse van 2018 is Woensdagaand by ’n byeenkoms van die Werkgemeenskap Wes-Kaap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oorhandig. Vier LitNet Akademies-artikels is vanjaar bekroon; die pryse vir twee van hulle is by dié funksie oorhandig.

Irma Eloff, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Irma Eloff, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het verduidelik dat die ATKV-SA Akademieprys ’n aantal jare gelede ingestel is om die skryf van akademiese artikels in Afrikaans in geakkrediteerde tydskrifte te bevorder. Dit gaan om artikels wat in alle Suid-Afrikaanse geakkrediteerde akademiese tydskrifte gedurende ’n bepaalde tydperk verskyn het en die nodige keuringsprosesse ondergaan het. Redaksies is genooi om hulle beste artikel in ’n bepaalde vakwetenskap voor te lê. Die SA Akademie het die verantwoordelikheid gehad om onafhanklike keurders in bepaalde dissiplines aan te wys wat op ’n punteskaal die artikels beoordeel het.

Henry Filliers, Aslam Fatuur, Deidré Le Hanie (bestuurende direkteur van die ATKV) en Irma Eloff (voorsitter van die SA Akademie)

Aslam Fataar, Vise-Dekaan: Navorsing en Henry Fillies van die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch het ’n prys ontvang vir hulle artikel Die leerpraktyk-vorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13 (2), 2016.

Commendatio

Die prys word ook toegeken aan Aslam Fataar en Henry Fillies vir hulle artikel Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13, Nommer 2, 2016. Prof Fataar is Vise-Dekaan: Navorsing van die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch en dr Fillies is verbonde aan dieselfde Fakulteit.

Wat grensverskuiwend in die artikel is, is die skrywers se etnografiese navorsing wat vernuwende insigte bring aangaande plattelandse leerders. Die navorsing toon dat, alhoewel die invloed van armoede op die opvoedkundige geleenthede van landelike leerders belangrik is, armoede nie die deurslaggewende faktor is om die verskille in die opvoedkundige geleenthede en uitkomste tussen stedelike en landelike leerders te verklaar nie.

Hierdie artikel vorm die tweede deel van ’n drieluik en bied spesifiek ’n ontleding van die wyses, sowel as die “ruimtelike” en konseptuele grondslag, waarop hierdie leerders hul leerpraktyke bou. Die navorsers voer met empiriese getuienis aan dat arm plattelandse werkersklasleerders sterk refleksief met hul omstandighede omgaan tot die bou van hul leerpraktyke.

Die artikel toon dat ’n begrip van leerders se sosiale lewe buite die skool baie belangrik is vir ’n begrip van hulle ervarings van hoe hulle betrokke gaan raak by hul leerpraktyke en hoe hulle dienooreenkomstig hul leeridentiteite gaan posisioneer. Die leerders was dit eens dat hulle, ten spyte van hul beperkende omstandighede, steeds produktiewe lewens lei. Dit was interessant dat, ten einde hul leeridentiteite suksesvol te vestig, hulle hul nie vergryp aan antisosiale praktyke soos dit algemeen onder hul portuurgroep in hul gemeenskap voorkom nie.

Helgard Raubenheimer, Deidré Le Hanie en Irma Eloff

Helgard G Raubenheimer, Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit Stellenbosch ontvang ’n prys vir sy artikel AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig wat verskyn het by LitNet Akademies Jaargang 13 (2) 2016.

Commendatio

Die prys word vanjaar ook toegeken aan Helgard G Raubenheimer, verbonde aan die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Universiteit van Stellenbosch vir sy artikel AuII: Skaars of afgeskeep? ’n Kritiese literatuuroorsig wat by LitNet Akademies Jaargang 13, Nommer 2, 2016 verskyn het.

In die algemeen verteenwoordig goud(II) ’n baie ongewone oksidasietoestand vir die metaal. Gevolglik is die klem in goudchemie en literatuur gefokus op die algemene oksidasietoestande Au(I) en Au(III). Die voorkoms van stabiele goud(II)- verbindings bly raar en die afwesigheid van sodanige verbindings is treffend in die titel verwoord. Te dikwels word oorsigsartikels in chemie oor algemene onderwerpe geskryf waarvoor daar legio voorbeelde en data beskikbaar is. Hierdie is ’n welkome afwyking en van groot nut vir goudnavorsers.

Die artikel getiteld 'AuII: Skaars of Afgeskeep? ’n Kritiese Oorsig' is ’n oorsigartikel wat oor ’n baie interessante en belangrike aspek van goudchemie handel. Die artikel volg op en komplementeer vorige oorsigartikels van die outeur, waaronder een wat ook by LitNet Akademies verskyn het. Die artikel is wetenskaplik goed geskryf en die gebruik van Afrikaans is deurgaans goed — wat bydra tot die ontwikkeling van die Chemie-vaktaal in Afrikaans. In die toekoms kan die artikel ’n goeie verwysingsbron vir goudchemie in Afrikaans wees.

Koot Reinecke, Sophie Reinecke, Deidré Le Hanie en Irma Eloff

Adriaan J Reinecke en Sophia A Reinecke en Mia van Wyk, Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch het ’n prys ontvang vir hulle artikel Die geskiktheid van potwurms (Enchytraeidae) en plante om die toksisiteit van olieraffinadery-slik te toets wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, Volume 35 (1), 2016 verskyn het.

Commendatio

Die titel van hulle artikel is Die geskiktheid van potwurms (Enchytraeidae) en plante om die toksisiteit van olieraffinadery-slik te toets. Die artikel het verskyn in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, volume 35 (1), 2016. Die drie outeurs is verbonde aan die Departement Plant en Dierkunde, Universiteit van Stellenbosch.

Die doel van die outeurs se studie was om die toksisiteit van die slik, sowel as grond, te bepaal op ’n historiese grondbewerkingsperseel wat hulle geïdentifiseer het by ’n petroleumraffinadery waar die gedeponeerde slik uit ’n mengsel van olie en wateroplosbare chemiese besoedelstowwe bestaan wat verskeie gevaarlike chemikalieë insluit. Hulle wou vasstel op plante en potwurms gebruik kan word in die bioassessering van die slik, aangesien daar ’n behoefte bestaan het om ’n groter verskeidenheid toetsorganismes te gebruik wat verskillende ekologiese nisse verteenwoordig. Die bevinding is dat potwurms nie so gevoelig is vir die slik soos erdwums en springsterte, wat voorheen getoets is nie, maar dat hulle wel bruikbaar is en kan bydra om die toksisiteit en herstelstatus van sulke grond te evalueer, aangesien hulle ’n bykomende ekologiese nis verteenwoordig. Die plante was nie baie gevoelig vir die slik nie en gemengde resultate is verkry. Groenslaai en gras is die meeste deur die slik geaffekteer, terwyl boontjies die beste gevaar het en hulle groeikoers selfs deur die byvoeging van slik gestimuleer is.

 

Die geleentheid is afgesluit met 'n bespreking van die veranderende politieke horison van Suid-Afrika deur Erwin Schwella en Willie Breytenbach.

Erwin Schwella het gepraat oor politieke variante vanuit 'n binnelandse oogpunt.

Willie Breytenbach het gepraat oor die internasionale en veral Afrika-siening van
die politieke verloop in Suid-Afrika.

Commendatio's voorsien.

Lees ook:

ATKV|SA Akademie-pryse 2018: Vier LitNet Akademies-artikels word bekroon

’n Onderhoud met bekroonde navorsers Aslam Fataar en Henry Fillies

’n Onderhoud met bekroonde navorser Helgard Raubenheimer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top