Foto's: Deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word bekendgestel

  • 0

Deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal bevat die S-woorde van "skool" tot  "Sri Lankaans".

Fred Pheiffer, redaksielid van die WAT

Erna Meaker, ondervoorsitter van Het Jan Marais Nationale Fonds

Marius Swart, US Departement Afrikaans en Nederlands

André du Plessis, redaksielid van die WAT

Gerda Odendaal, redaksielid van die WAT

Phillip Louw, Oxford University Press

Deon Meyer

Hanelle Fourie-Blair, redaksielid van die WAT

Rufus Gouws, Direksielid van die WAT

Wessel Pienaar

Willem Botha, Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur van die WAT

Japie Gouws

Hermann Giliomee

Ilse Feinauer, US Departement Afrikaans en Nederlands

Arnold Schoonwinkel, voorsitter van die WAT-direksie, het die gaste verwelkom.

Verwelkoming deur Arnold Schoonwinkel

Hartlik welkom by hierdie besondere geleentheid, naamlik die bekendstelling van deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ek rig graag ’n spesiale woord van verwelkoming aan Johan Holtzhausen, voorsitter van die WAT Trust, Erna Meaker, ondervoorsitter van Het Jan Marais Nationale Fonds, Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Dagbreek Trust, Johan van Zyl, voorsitter van Sanlam, Abdul Essop, operasionele bestuurder van Sanlam, Helgaard Raubenheimer, trustee van die WAT Trust en voorsitter van die LW Hiemstra Trust en Rudolf Gouws, Trustee van die WAT Trust.

Die verskyning van ’n WAT-deel is ’n besondere geleentheid omdat dit beteken dat nog ’n deel van die Afrikaanse woordeskat so omvattend as moontlik vasgevang is in ’n woordeboek. Afrikaans in ál sy verskyningsvorme vind neerslag in die WAT: dit is ’n tuiste vir die Afrikaans van al die sprekers van die taal – van die Kaapse Vlakte tot in die Noordelike uithoeke van Suid-Afrika. ’n Resensent van deel XIV het dit soos volg gestel: Die WAT is monumentaal in die lewe van Afrikaans omdat dit die taal so omvattend boekstaaf.

Deel XV strek alfabeties van SKOOL tot by SRI LANKAANS, maar dit bevat ook ’n Addendum met nuwe woorde van A tot S.  Die Addendum gee aan ons ’n idee wat sedert die publikasie van elke deel in Afrikaans gebeur het, beginnende by deel I in 1950. Aanlyn en amabokoboko was nog nie ’n vonkel in Afrikaans se oog in 1950 nie, ook nie banting, beurtkrag en CD nie. Geelkaart, gay, geheuestokkie, hardeskyf, gemorskos, google en glasnost was destyds nie eers ’n hersenskim nie, en so ook opdrafspan, papegaaislaai, pang en popgloër.  Nou kan die WAT ook vir julle sê dat julle tog te poenankies lyk hier by ons bekendstelling. 

Ons het verlede jaar op ’n revolusionêre tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT besluit waarvan die hoofmomente vyf addisionele redaksielede en ’n bykomende R32 miljoen versprei oor tien jaar behels.  Die vyf redaksielede is aangestel en die R32 miljoen is amper gerealiseer.  Ons werk tans aan deel XVI van die WAT wat in 2020 moet verskyn en wat die laaste S-deel en ook die laaste gedrukte deel van die WAT sal wees.  Vanaf die letter T sal die WAT slegs aanlyn gepubliseer word – ’n besluit wat ons nie ligtelik geneem het nie.  Die koste en tyd wat met die publikasie van ’n boek gepaard gaan, het in die lig van die tienjaarplan egter net te veel geword.

(Teks voorsien deur die WAT)

Die WAT het erkenning gegee aan vakkundige medewerkers wat help om vakterme te definieer, deur aan elk ’n kopie van die Deel XV te oorhandig. Die spesialiste is Sakkie Rust, Jan Lochner, Jan Giliomee, Izak Grové en Christo Viljoen.

Senior Mederedakteur Alet Cloete het Deel XV aan Jan Giliomee, Izak Grové en Jan Lochner oorhandig.

Jan Giliomee

Jan Giliomee het vanaf Deel VIII, die tweede deel van die letter K wat in 1991 verskyn het, ’n waardevolle bydrae as vakkundige medewerker vir Entomologie of Insektekunde gelewer. Hy word egter reeds in die voortekste van Deel VII vermeld as een van die persone wat tussen 1967 en 1975 meer as 50 kaartjies tot die materiaalversameling van die WAT bygedra het.

Prof Giliomee verstaan die kuns om die gaping tussen vakman en leek te oorbrug en verduidelik moeilike terme in eenvoudige taal.

Wat is die verskil tussen ’n ruspe en ’n wurm, ’n snuit en ’n proboskis? Of hoe verskil myte en spinnekoppe van mekaar? Dit is hierdie fynere onderskeidings waarmee prof Giliomee ons help en waarsonder ons nie gesaghebbende definisies sou kon skryf nie.

Hy is ook baie taktvol en sal nooit laat blyk dat hy nie kop of stert van ons definisies kan uitmaak nie. Hy sal bloot baie diplomaties sê dat hy nie seker is watter bron ons gebruik het nie, maar dat sy bron die volgende inligting bied.

Baie dankie, prof Giliomee, dat u vir ons die gril uit die gogga haal en ons help om met wetenskaplike oë na insekte te kyk.

(Teks voorsien deur die WAT)

Gerda Odendaal oorhandig die kopie aan Jan Giliomee.

Izak Grové

Izak Grové, vakkundige medewerker vir Musiek, is vanaf Deel IX, wat in 1994 verskyn het en die letter L beslaan, by die WAT betrokke. Die leksikografie is nie vir hom onbekende terrein nie en hy het bygedra tot die samestelling van die Suid-Afrikaanse Musiekwoordeboek.

Prof Grové beantwoord elke navraag met erns en presisie en ontsien geen moeite om seker te maak dat die antwoord ons bereik nie. By geleentheid was hy met studieverlof in Duitsland en hy het sy lang, deeglike antwoord op ’n ingewikkelde navraag per e-pos aangestuur. Die e-pos het ons nooit bereik nie en hy het geduldig die hele betoog in ’n tweede e-pos herhaal.

Dit was juis die lemma musiek wat soveel probleme opgelewer het. By die aanhoor van die woord dink ’n mens kwalik aan al die betekenismoontlikhede wat dit kan hê, maar as jy vandag na al die polisemiese waardes in die artikel kyk, bv “musieknotasie”, “toonsetting”, “bladmusiek of partituur”, “komposisie”, “les”, “harmonium”, ens. besef jy hoe wyd die betekenisveld van die woord eintlik is. Prof Grové se insigte was onontbeerlik om dié inligting te ontrafel en te orden.

Baie dankie, prof Grové, dat u ons help om harmonieuse definisies te maak wat die regte snaar aanroer en musiek in ons ore is.

(Teks voorsien deur die WAT)

Charléne de Kock oorhandig die kopie aan Izak Grové.

Jan Lochner

Jan Lochner, vakkundige medewerker vir Geneeskunde, lewer gewaardeerde hulp sedert Deel X wat die letter M beslaan en in 1996 gepubliseer is. Sy bydrae lê veral op die terreine van die Fisiologie, Interne Geneeskunde, Chemie en Biochemie.

Hy is self ook ’n gesoute woordeboekmaker en het met die Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe ’n wesenlike bydrae gelewer om die Afrikaanse mediese terminologie te vestig en uit te brei.

Prof Lochner het begrip vir hoe moeilik dit is om akkuraat te definieer en daarom is sy antwoorde op ons navrae logies, helder en op die man af. Klinies, soos ’n mens van ’n geneeskundige sou verwag. Hy verkies dus ook om navrae direk, telefonies te beantwoord en gebruik nie graag die minder persoonlike e-posroete nie.

Verder is dit altyd vir hom belangrik om ’n geneeskundeterm te dissekteer en by die Latynse oorsprong daarvan uit te kom. Hy sny as ’t ware tot op die been.

Wanneer dit kom by die verskil tussen byvoorbeeld ’n salisielsuur en ’n salisilaat, skleritis en sklerose is dit gerusstellend om te weet dat daar ’n deskundige is wat met vrymoedigheid geraadpleeg kan word.

Baie dankie, prof Lochner, dat u ons definisies regdokter sodat hulle kerngesond is en bydra tot ’n gunstige prognose vir die gesaghebbendheid van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

(Teks voorsien deur die WAT)

Senior Mederedakteur Gerhard van Wyk het Deel XV aan Sakkie Rust en Christo Viljoen oorhandig.

Sakkie Rust

Sakkie Rust is ons vakkundige medewerker vir Geologie en Mineralogie. 

Reeds vanaf Deel IV van die WAT (die letters H en I), wat in 1961 verskyn het, help prof Rust die redaksie van die WAT op ’n baie humoristiese manier met ons taalnavrae.  Sy antwoorde is gestroop van enige hoogdrawende akademiese taal. 

Vroeër jare is die taalnavrae op die gewone manier gepos, maar later van tyd het ons dit per e-pos aan die medewerkers begin stuur.  Selfs prof Rust se e-posadres getuig van humor, want sy voorletters en van spel “icrust” – heel gepas vir iemand wat die aardkors bestudeer! 

As voorbeelde van die humor in sy antwoorde op ons taalnavrae, kan ek die volgende noem.  Toe daar aan die letter K gewerk is, het ’n mederedakteur aan prof. Rust gevra hoe die woord “kruip” in geologiese verband gebruik word.  Hy antwoord toe daarop met die sin: “Ek kruip oor die klippe”!  Meer onlangs het prof Rust in ’n navraag oor die woord “stapelaar” geantwoord dat dit verwys na ’n besondere masjien-dinges, ’n soort beweegbare vervoerband-dinges op wiele!

Prof Rust, baie dankie dat u al soveel klippe vir ons uit die pad gerol het en dat u ons werk ligter maak deur op so ’n manier ons taalnavrae oor klippe en minerale te beantwoord dat dit edelstene en juwele raak.

(Teks voorsien deur die WAT)

Dané Claassen het die kopie aan Sakkie Rust oorhandig.

Christo Viljoen

Christo Viljoen is waarskynlik die mees veelsydige medewerker in die geskiedenis van die WAT.  Hy is ons vakkundige medewerker vir ’n hele paar vakgebiede, naamlik Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, vir Radar, Radio en Televisie, en vir Telefonie. 

Prof Viljoen is reeds vanaf Deel V van die WAT (die letter J en eerste deel van K) ’n medewerker, dus reeds van voor 1968 af. 

Sy reaksie op ons taalnavrae, wat ’n verskeidenheid sake soos pulse en impulse, puntkontakdiodes, ruimtekommunikasie en die ruis van ’n radiostasie kan insluit, geskied met elektroniese snelheid en presisie.  Prof Viljoen het die kuns bemeester om die ingewikkelde kwessies waarmee ons mederedakteurs sukkel, op ’n verstaanbare en logiese wyse uiteen te sit.  Wanneer ’n mens sy antwoorde op jou taalnavrae terugontvang, gaan daar ’n helder, elektriese lig vir jou op, en is daar geen steuring meer in die seine wat vantevore net een groot  geruis was nie!

Prof Viljoen, ek weet nie of u, u mede-eregaste wat vandag hier is of enige van die ander vakkundige medewerkers besef watter groot waardering ons vir u bydrae tot die WAT het nie.  Met u antwoorde op ons taalnavrae ontvang ’n definisie nie net ’n stempel van goedkeuring nie, maar ook ’n stempel van gemoedsrus.    

Ons dank u daarvoor.

(Teks voorsien deur die WAT)

Esmaré van der Merwe oorhandig die kopie aan Christo Viljoen.

Eindredakteur Frik Lombard

Jana Luther en Fred Pheiffer

Theuns Eloff, Erna Meaker en Johan van Zyl

Hendrik Theys

Die geleentheid is afgesluit met ’n uittreksel uit Karoo Suite deur Coenie de Villiers en Deon Meyer.

Coenie de Villiers

Coenie de Villiers en Deon Meyer

Coenie de Villiers en Deon Meyer

 

Foto's: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top