
Foto: Canva
Die foto op my skerm
ek lê
op my bed
en sien dis jy
jou foto
op my skerm
vibreer
ek verdwyn
in tyd
van vergange dae
waar ons saam
iewers op ’n vlakte
Elandspoort
ek dink
omarm staan
en iemand
die sluiter druk
ons beeld
vasvang
maar ek onthou
die dag
met pynlike
herinnering
dit was ’n familie-ekskursie
ons was almal daar
klein kindertjies
met doeke aan
en ’n groot tent
waar almal
saam bondel
geen filters
vir ander
se onderstroming
toe
was almal nog saam
jare voor die groot skeur
in ieder se bladsy
reeds vol geskryf
met pyn
met seer
ons het gaan bundu bashing
ek onthou
jou oë
het jou verklap
pupille
wyd vergroot
waarin ek
die swart kon sien
waar die demoon
in jou skuil
waar die dwelm
jou siel beheer
en ek het geweet
dat dit jou steeds vreet
ek het geweet
dat dit jou
immermeer
sal verteer
ons het in die skemer
ek en jy
op bergpaaie
weggery
verdwaal
met net sterre
en geen kompas
om te lei
letterlik
figuurlik
met woedende woorde
wat uit jou stroom
die stem van satan
wat gate
met vuurrooi penne
in my omgee
brand
reeds toe
het ek geweet
ek kan jou nie red
die web
van vals euforie
het jou ingesluk
ons foto
op my foon se skerm
ruk my terug
oor tyd heen
as die foon
skel begin lui
ek is bly
maar met seer
om jou stem
van agter
dik mure
ysterhekke
die gang
met die muntbus
en rye vrouens
in blou korrektiewe drag
te hoor

