Formule van ’n siel
soos skadumense in ’n vertrek
somber sonder daeraad
met leë frekwente gedagtes
en primitiewe uitdrukkings,
wat geheg aan lewe
die kenmerke van wesenlikheid formaliseer
skil af die vlees
breek al wat been
blinkende oog is –
“wie is ek?”
uiterlike verpakking in ’n vertoning van mens
of die doen wat alle bewegings meganiseer,
’n polsende deeltjie van ’n atoom
gedurig in ’n oorlog met homself
in binneruimtes van gees
maar tog ...
is ek kleur
’n deur binne die droom,
en in spatsels beton,
in die geruis van sterre
gevleg in die suis van stilte,
iets sentesimaal
in ’n ewige onverstaanbaarheid
Kommentaar
Puik geskryf.
Dankie, Andries en LitNet, vir die goedkeuring
Fantastiese gedig. Uitmuntend.
Een van jou bestes, welgedaan!!!!!
Dankie, Wendy en Theresa.
Plesier, Morné👏🏻