Fluitjie

  • 1

Foto: Canva

Fluitjie

’n Fluitjie in ’n wêreld wat wegkyk.

Daar is ’n toneel in Titanic wat my al jare bybly. Nie die skip wat breek nie. Nie die paniek nie. Die stilte.
’n Reddingsboot beweeg deur swart, ysige water. Mense roep name. Hulle luister. Niks antwoord nie. Dan, amper skaam, ’n klein fluitjie. Onseker. Breekbaar. Dit klink nie soos hoop nie, maar dit hou aan. Dit word harder. Al hoe dringender. Onmoontlik om te ignoreer. En danksy daardie fluitjie, word ’n vrou gevind. Een lewe, uit duisende.

Sedertdien het ek fluitjies anders begin hoor.

Hierdie naweek, op televisie, hoor ek dit weer. Nie ’n fluitjie uit ’n film nie, maar regte mense wat fluit. Dringend. Desperaat. Aanhoudend. Op straat. Voor kameras. Terwyl ’n man eers geslaan en toe doodgeskiet word. Alles vasgevang. Alles sigbaar. Alles hoorbaar. En tog nutteloos.

Daardie fluitjies was nie simbolies nie. Hulle was nie metafore nie. Hulle was mense wat probeer keer dat iets onherroepliks gebeur. Mense wat probeer inmeng met asem en klank. Mense wat nog geglo het dat as jy hard genoeg waarsku, iemand sal stop.

Dit het my teruggevat na die gedagte dat elke mens ’n fluitjie het.

Vir party is dit empatie. Vir ander gewete. Vir ander woede, waarheid, geloof, of net ’n eenvoudige instink dat iets nie reg is nie. Ons blaas dit wanneer ons nie anders kan nie. Wanneer die dringendheid van lewe harder praat as ons behoefte om aanvaar te word.

Maar ek het oor die afgelope paar jaar iets begin raaksien. Mense hoor nie meer fluitjies nie.
Nie omdat hulle doof is nie. Omdat hulle geleer het om nie te luister nie. Omdat aandag nou skaars is en empatie duur. Omdat stilte gemakliker is as betrokkenheid. Omdat konformiteit sagter voel as weerstand.

En ja, dit maak seer wanneer vreemdes nie reageer nie. Maar wanneer mense naby jou nie hoor nie, brand dit. Dit vreet. Dit laat jou wonder of jou bestaan self die irritasie is, nie net jou stem nie.

Ek is moeg om my fluitjie te blaas.

Moeg om te waarsku.

Moeg om te verduidelik.

Moeg om te wys.

Moeg om te hoop dat hierdie keer iemand sal omdraai.

Moeg om alleen te klink in ’n see van mense wat verkies om nie te hoor nie.

Ek weet nou: om stil te word is nie oorgawe nie. Dit is nie verraad teen jou waardes nie. Dit is rus. Dit is oorlewing. Jy hoef nie jou longe stukkend te blaas om jou menslikheid te bewys nie.

Ek gaan nie verduidelik waarom mense wegkyk nie.

Ek gaan nie ontleed waarom hulle geïrriteerd raak met iemand wat nie inpas nie.

Ek gaan nie hulle stiltes probeer regverdig of verstaan nie.

Ek is net moeg.

Hierdie is my fluitjie, neergelê. Nie omdat dit verkeerd was om dit te blaas nie. Maar omdat ek nie meer gaan skree in die donker en maak asof stilte onskuldig is nie.

Dit is nou uit.

Dit is genoeg.

  • 1

Kommentaar

  • Ek kon die verdrietige seetoneel, in die digte mis met die fluitjieblaser, opspoor. Treffend. Titanic is letterlik fiksie, maar figuurlike nie-fiksie roer ook die hartsnare.

    Eenmaal het ek so gefluit, toe vra iemand of ek nie eerder kan sing nie. Die wolwefluit is, polities gesproke, uit.

    Onthou: ‘hoë bloeddruk (hipertensie) kan beslis lei tot 'n gefluit, gesuis of gedruis in die ore, wat medies as tinnitus bekend staan.’ (Dankie, KI.) Daarom reageer ek nie maklik op ‘n gefluit om my nie.

    Dit help om stelselmatig van ‘die self’ (selfbehep en -gesentreerd) afskeid te neem, want fluit-fluit is jou storie uit.

    https://youtu.be/mZ5DG20oMYY?si=2ve3Z4QfWCBRM7Vg

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top